Die Staatsteater was vir lank die enigste plek waar Pretorianers kon gaan vir hul kultuurinspuiting, maar danksy die Atterbury Trust is daar sedert Mei 2011 ‘n spoggerige alternatief in Oos-Pretoria. Die Atterburyteater in Lynnwood Bridge winkelsentrum bied amper elke aand iets nuuts aan, van produksies met groot, gevestigde akteurs, tot kleiner musiekvertonings met splinternuwe kunstenaars.

“Behalwe opvoeding is die bevordering van kultuur bo-aan die lys van die Atterbury Trust se prioriteite en daarom is daar ‘n aantal jaar gelede besluit om ‘n teater te bou waar Afrikaanse kunstenaars hul talent kan uitleef en waar Pretorianers hulle maklik kan sien optree,” verduidelik Zahn Hulme, die hoof van die Trust.

En dinge gaan sommer klopdisselboom by die teater; vertel Zahn. Baie vertonings verkoop uit, en Computicket het onlangs bevestig dat die kaartjieverkope alle verwagte teikens verbygesteek het in die laaste paar maande.

Deel van die sukses het beslis te make met die gerieflike ligging binne die blink nuwe Lynnwood Bridge kompleks, waar restaurante se voetverkeer bemarking van nuwe vertonings baie maklik maak, sê Zahn. “Dit is deel van ‘n leefstyl-ervaring… mense kan na een plek toe kom vir inkopies, uiteet en vermaak.”

Die teater met sy 400 sitplekke is baie gewild onder Afrikaanse kunstenaars, van Laurika Rauch en Bobby en Karlien van Jaarsveld, tot Nataniël, wat elke jaar vier kookvertonings aanbied wat maande voor die tyd uitverkoop is. Stef Bos kom gereeld uit vir vertonings, en ander groot geeste soos Amanda Strydom, Coenie de Villiers en Elsabé Zietsman is ook gereeld op die program.

Een van die onlangse hoogtepunte is ‘n kookvertoning-cum-boekvrystelling met Elsabe Zietzman en die skrywer Marita van der Vyver, wat haar nuwe kookboek met tipiese disse uit Provence, Frankryk, waar sy die afgelope jare woon, op unieke wyse kom bekendstel het. Winterkos in Provence het op 24 Julie plaasgevind.

“Baie van ons aanbiedings, soos hierdie een, is net vir een aand, so ons gehoor weet al om ons webwerf dop te hou en baie verskeidenheid te verwag,” sê teaterbestuurder Paulette Reyneke. “Daar is amper elke aand iets anders op die planke.”

“Die teater is ook besig om al hoe gewilder te raak as konferensiesentrum en ook onder dansskole, wat hulle finale konserte hier kom aanbied,” vertel Paulette, wat ook besluit op die teater se program, en die kunstenaarsbeprekings hanteer. “Ons kies vertonings en kunstenaars wat ons dink sal gewild wees; soms nader ons ‘n kunstenaar of ‘n produksie en betaal hulle om hier te kom optree, en soms is dit andersom, waar ‘n nuwer kunstenaar ons nader en die teater bespreek vir sy of haar vertoning. Ek woon beide Aardklop en KKNK by en hou altyd ‘n oog oop vir vertonings wat vir ons sal werk – nie te swaar nie; nie te laf nie, bekostigbaar en hanteerbaar binne die teater se tegniese en ruimteperke.”

Die Atterbury Trust se ander kultuurverwante projekte vind ook groot baat by die teater, van die jaarlikse Versnit-konsert tot die Nasionale Klavierkompetisie, wat albei daar gehou word. “Dis ‘n goed ingerigte, moderne fasiliteit so dis vir kunstenaars so lekker om daar op te tree soos dit vir Pretorianers is om soontoe te gaan,” sê Zahn Hulme. “Die teater is besig om so ‘n dinamiese deel van die gemeenskap te word… dit was beslis een van die trust se beste beleggings ooit!”