Hoekom is mense so onseker oor taal, en hoekom wonder jy nog of jou huistaal die regte taal is om jou baba in groot te maak? En later as skooltaal te kies? Spraakterapeut Christine Neser vra hierdie en ander vrae in ’n rubriek op Maroela Media se webwerf

My ervaring as terapeut is dat ouers doodbang is dat hulle die kind sal benadeel as hy in enigiets anders as Engels grootgemaak word. Die teenoorgestelde is egter waar. Jy ontneem die kind niks as jy hom in jou huistaal grootmaak nie. Inteendeel, jy gee hom of haar vyf unieke bonuspunte.

1. Meertaligheid

Meertaligheid is die outomatiese bonus van ʼn moedertaalspreker in ons land, buiten as die kind Engelstalig grootgemaak word. Want dan is eentaligheid waarskynlik sy roete, omdat Engels die enigste taal is wat jy móét kan praat. Dit is vandag sekerlik die sterkste wêreldtaal, veral in die media, vermaak en besigheid. Die ouer wat egter sy huistaal kies, ʼn minderheidstaal, waarborg dat sy kind ten minste tweetalig gaan wees. Ons woon in Engelse wêreld, waarbinne kinders onwillekeurig Engels aanleer. Van sy helper in die crèche, tot die huishulp, die winkelassistente, op televisie en in die skool word hy oorspoel deur die taal. Ma en Pa hoef dit hom nie aan te leer nie. Hy absorbeer dit. Language is caught, not taught.

Maar wat van taalverwarring? En wat as my kind laat begin praat omdat hy Afrikaans tuis hoor en Engels by die dagsorg? Die goeie nuus is dat babas en kinders se wonderlike elastiese breine neurologies bedraad is om meer as een taal aan te leer. Dit neem natuurlik langer, want prosessering van twee tale verg intense breingimnastiek. ʼn Meertalige breintjie werk baie harder as ʼn eentalige brein. Die toekomstige voordele is onberekenbaar.

Goue reël: Waar skool en huistaal verskil, of waar ʼn oppasser se taal nie Afrikaans is nie, of waar ouers self verskillende tale praat, is dit noodsaaklik om die Opol-stelsel te volg – “One Parent One Language”.

ʼn Kind assosieer een gesig met een taal, al weet hy nie eens wat die taal se naam is nie. Daardie gesig moet by een taal hou.

En hoekom wil ons meertalige kinders hê? Want meertalige kinders gaan die lewe met meer selfvertroue binne. Hulle is sosiaal beter aangepas en kan makliker in die werksplek met ʼn verskeidenheid mense kommunikeer. Hulle het breine wat voortdurend bly vertaal, iets wat die brein fiks en skerp hou, selfs tot op hoë ouderdom. Wat ons by bonuspunt nommer 2 bring.

2. Intelligensie

Intelligensie het baie definisies, waarvan een die optimale gebruik van die brein is. Hoe beter ʼn brein funksioneer, hoe intelligenter word ʼn persoon gereken. Meertaliges het dié voordeel dat hul breinkapasiteit vergroot, aangesien meer dele van die taalarea geaktiveer word. ʼn Eentalige brein is ʼn onderbenutte brein.

Dit is nou in talle studies bewys dat die meertalige brein langer jonk bly. Studies in Engeland dui daarop dat meertalige kinders beter in chaos funksioneer, sosiaal vaardiger is en beter kan fokus. Hulle leer ʼn nuwe taal ook makliker aan as eentaliges. Dieselfde word later in die werksplek ervaar.

3. Innigheid

ʼn Baba reageer op sy ma se stem van voor geboorte af. Op twee maande kan babas tussen sy moedertaal en ʼn vreemde taal onderskei (die hartklop verhoog). ʼn Ma is meer ontspanne en opreg in haar eie taal, iets wat ʼn baba aanvoel. Waar ʼn mamma nie haar eie taal met die baba praat nie, skep sy later ook afstand tussen die kind en sy grootouers. Oupas en oumas se voorreg om hulle huistaal met hul kleinkinders te praat, word hulle dan ontneem. Ouers wat dink dat hulle die kind bevoordeel deur Engels met hom te praat, maar dan Afrikaans met mekaar en met hulle familie praat, sluit die kind uit. Die band is dikwels dan minder innig, want die kinders het nie toegang tot hul ouers se geheime kode nie.

4. Identiteit

Die groot sielkundige, Erik Erikson, het die mens se emosionele ontwikkeling van geboorte tot bejaardheid gekarteer. Die ouderdomsgroep tussen 11 en 16, ons tieners, fluktueer gedurig tussen twee pole: ʼn sterk identiteit versus identiteitsverwarring. Tieners se groot vraag is: Wie is ek en waar pas ek in? Dit is hierdie vraagstuk wat ouers ook in ag moet neem wanneer kinders hoërskool toe gaan. ʼn Engelse hoërskool gaan die kind se soeke na identiteit uitdaag en dit kan verwarring bring. Want hoekom is my taal nie goed genoeg nie? Is ék dan nie goed genoeg nie? Moedertaalonderrig tot op hoërskoolvlak kan bepalend vir ʼn sterk en gesonde identiteit wees.

ʼn Gesonde identiteit beteken dat ʼn kind weet wie hy is, sonder om arrogant of verskonend te wees. ʼn Gesonde identiteit kweek stille selfvertroue wat diversiteit in die lewe respekteer, ook wat ander tale en kulture betref.

“En sal die kind nie sukkel met al sy vakke in Engels op universiteit nie?” Nee. Want daardie brein is mos veeltalig en goed geoefen. Omdat konsepte beter in die moedertaal begryp word en op skool reeds vasgelê is, sukkel hierdie studente nie op tersiêre vlak nie. Universiteitshandboeke was buitendien nog altyd in Engels!

5. Sosiale vaardighede

Meertaliges het meer empatie met andertaliges. Dis ʼn waarborg vir groter begrip binne ons multikulturele samelewing. In ʼn eentalige bestel is daar dikwels irritasie en ongeduld teenoor diegene wat nie die lingua franca goed praat nie. Kyk maar na die VSA met hul eentalige president; of Noord- Korea met sy eentalige leier. Eentaligheid lei dikwels tot ʼn eng wêreldbeskouing. Meertaliges het ʼn wyer uitkyk, omdat hulle diversiteit verstaan. Kyk maar net na die meertalige Franse president Emmanuel Macron.

Dus: Gee jou kinders en jou kleinkinders die groot geskenk van hul moedertaal. Dit waarborg vyf vet bonusse met lewenslange voordele: meertaligheid, intelligensie, innigheid, identiteit en sosiale vaardighede. Waarom nog ʼn oomblik huiwer? Soos moedersmelk, is moedertaal die beste.

Christien Neser is ʼn spraakterapeut en skrywer. Die storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.

By |2018-02-07T10:09:10+00:007 Februarie, 2018|Kultuur, Skole|0 Comments

Leave A Comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: