Atterbury Trust artikel

Oor beddens en boervroue

Sophia Kapp, die senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans help nie net gratis met taalnavrae via epos nie, sy skryf ook lekkerlees rubrieke vir Maroela Media se webwerf, soos hierdie een oor die gebreekte bed en hoe ’n boervrou g’n terugstaan vir ’n boer as dit kom by planmaak nie…

Gisteraand laat is daar ‘n harde slag in my huis. Konsternasie. Ek skrik vir my nugter wakker al is dit ná 12 en sien visioene van figure in klapmusse wat my mikrogolf by die kombuisvenster uittel en my varkore, wat ek met emmers badwater deur die droogte tot by blom gepamperlang het, plattrap. Ek is sommer kwaad nog voor ek weet wat ek gehoor het.

Die honde is ewe ontsteld en gaan onbedaarlik aan die kef, en ek hoor uit die kamer langsaan die gedempte gevloek van ‘n universiteitstudent wat uit sy REM-slaap (dis nou in teenstelling met dooievisoogslaap wat hulle in die klasse pleeg terwyl die dosent praat) geruk word.

Ek besef die slag was in sy kamer. Het die hoop vuil wasgoed, waaroor ek al twee weke preek, omgetuimel en hom toegeval? Of het die miere die argeologiese broodkorsies ontdek en vir hulle ‘n pad deur die muur tot in die kamer ingevreet?

Die student neem stelling in in my kamerdeur. “Die blerrie bed het gebreek,” kondig hy ewe dikbek aan.

Ek wil eers vra wat hy gedoen het dat ‘n soliede houtbed breek, maar besluit dan ek wil liewer nie weet nie. Ek gaan kyk. Hy’s reg: Die bed is stukkend. Een poot het morsaf gebreek; bo in die gewrig, waar die boute die basis aan die poot moet vashou. Dis jare se lê wat die hout sat het, en die kontrepsie wat aanvanklik so stewig gelyk het, het letterlik versplinter. Dit lyk nie vir my na iets wat selfs met gevorderde chirurgie reggedokter kan word nie.

“Gaan haal ‘n opvoumatras en maak vir jou ‘n krismisbed,” sê ek voor ek gaan terugklim in die bed. ‘n Mens los katastrofes in die daglig op. Niks wat in die donker bewimpel word, kan iets goeds oplewer nie.

Vroegdag is ek op die foon en bel vir Jabulani. Hy moet kom kyk of hy kan red wat te redde is. Hy daag ewe pligsgetrou op, maar gee die pasiënt een kyk en bevestig my vermoede: “Tjas, Madammie, this bed, it’s bad. I’ll try, but I don’t know …It’s very bad.”

Ek moet vinnig besluit. Ek is vir die res van die week en naweek uitstedig en my kind moet ‘n matras onder sy bas kry. Ons kan seker lap aan die bed, maar dit gaan weer breek. En in die wonderlike, digitale eeu waarin ons leef, spring ek op die internet en kry ‘n plek wat baie beddens het wat ‘n mens sommer so van ‘n prentjie af kan bestel. En omdat ek in Pretoria woon, is daar een in voorraad en as ek by die huis is, lewer hulle dit sommer voormiddag vir my af. Die maand staan einde se kant toe, kan ek hoor, en die verkoopsman is gretig om sy teiken te bereik. Ons beklink die transaksie met ‘n EFT en ‘n e-pos, en my kooi is op die trok.

Die enigste vangplek is dat die stukkende bed weg moet wees as die nuwe een opdaag. Wat ‘n hele nuwe stel hoofbrekens oplewer, want die poot mag gebreek het, maar die res van die bed is so stewig soos Gibraltar. En die vorige span breinchirurge wat die bed aanmekaar gesit het nadat ons in dié huis ingetrek het, het die boute gestrip, wat beteken dat ‘n mens nie die kopstuk van die basis af kan loskry nie. Dit maak ook nie saak uit watter hoek ons die deur benader nie, die bed wil nie daardeur nie. En die tyd loop en iewers in die oggendverkeer sit Ronnie met my nuwe bed op sy trok, en aan diekant staan die ou bed soos ‘n gewonde dier – afpotig, maar te trots om die lewe te laat.

“Jabulani, gaan haal die saag,” beveel ek.

“Madammie, you can’t make the door bigger with the saw. That saw, it only cuts wood, not concrete.”

Ek vervies my vir my wysneusige assistent. “Loop haal die saag dat ek die bed kan stukkend sny.”

“Eish, Madammie, you’re gonna kill it?”

“Wel, dis òf dit òf ek brand die bed in die kamer af en dan dra jy die asse hier uit. Wat verkies jy?”

Hy skud sy kop, maar maak soos ek sê, en ‘n halfuur later is die drie stukke van die dooie bed buite onder die afdak. Ronnie sal lykbesorger speel en die karkas wegry, het hy belowe.

Toe die nuwe bed staan en ek en Jabulani ons handewerk so oor bekers tee staan en beskou, hoor ek hom lag. So ‘n lekkerkrylag so uit sy maag uit.

“Wat nou?” vra ek, want ek voel so aan my gebeente hy lag vir my.

“I laugh at you,” bevestig hy my vermoede. “At that other place where I work, that father always says ‘’n Boer maak ‘n plan’ when things go bad. But now I can tell him what a Boervrou does when things go bad.”

Ek kyk hom so oor die tee. “Wat’s dit?” Hy lig sy beker in ‘n saluut. “’n Boervrou vattie k*kkie.” En daar het jy dit, uit die mond van ‘n wyse Tswana.

Dié rubriek het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn

Leave a Reply