Oom Herrie se Kerrie: Veldbrande is van die duiwel

Oom Herrie se Kerrie: Veldbrande is van die duiwel

Soos die brandslaners in die Kaap verwoed baklei teen een veldbrand na die ander, fokus Herman Toerien in sy gewilde rubriek op Maroela Media op hierdie brandende onderwerp.

Oom Herrie het pas ’n plot ’n ent buite Pretoria betrek, toe daar ’n brand op ’n buurplot uitbreek en op oom Herrie se grondjie afstuur. Dis hoë boesmansgras en dit brand soos petrol.

Oom Herrie, toe gekonfyt in vlamme doodslaan, gooi twee goiingsakke in die dam. Twee sakke slaan eenvoudig net met meer gesag as een. Spring oor die draad en val by die arbeiders in wat slaan. Oom Herrie dog dis ’n gawe geleentheid om die bure te ontmoet.

Naderhand is die vuur dood en oom Herrie kyk rond waar die eienaar sou wees. Dié staan saam met sy vrou op die huis se stoep. Self nie ʼn vinger verroer nie. Oom Herrie het op sy hakke omgedraai en huis toe gestap.

Groot Herrie het darem self al sy aandeel in vuurslaan gehad, veral by oupa Nic op die plaas buite Bethlehem. Daar is elke winter talle veldbrande in daardie omgewing, en hoewel ’n mens kan sien hoe daar in die nag kort-kort ’n nuwe vuur oral uitbreek, is dit volgens die polisie nie brandstigting nie, maar natuurlike oorsake soos die son wat op ’n glasstuk skyn.

In die nag?

Die brande om die Paarl was oor die algemeen nie naby die plaas waar Groot Herrie werk nie, maar pas het twee plaaswerkers hom baie vroeg gebel oor rook wat hulle gesien het. Hulle kon die vuur wat pas gestig was, gou in bedwang bring.

Daar is dele van die land waar veeboere in buurlande glo daar moet veldbrande wees om rook te maak, wat dan wolke vorm en dit laat reën. Natuurlik brand hulle nie hul eie weiding nie, maar anderkant die grens, waar daar al lewensverlies was, om nie te praat van skade soos voerbale wat ook uitbrand nie – dikwels saam met die stoor waarin dit geberg was.

Maar dit laat oom Herrie dink aan ’n geval so ’n paar dekades gelede.

Jare gelede het terroriste mos ’n aanleg by Sasol gebom, en die spul brand vreeslik. Die nooddienste is naderhand hande in die hare, en die grootbaas vra of iemand nie van ’n werklik goeie brandspesialis weet nie. Die een wat die brand blus, kry ’n miljoen rand.

Iemand gaan lui toe vir Koos op sy plaas in die Wes-Transvaal op. Koos is mos al vreeslik gekonfyt met veldbrande. Koos is ʼn voorslag en is dadelik bereid, en hy sê hy kom.

Nie lank nie, kom Koos in sy bakkie aangejaag. Agterop sit sy voorste brandslaners, elk met ’n nat sak. Die Sasol-mense wou nog by Koos hoor hoe hy beoog om die brand te blus, maar Koos jaag verby, en die bakkie verdwyn in die vlamme. Almal aanvaar dis die einde van Koos, sy manne en die bakkie.

Maar ná ʼn ruk sien hulle die vuur brand minder erg, en toe is daar baie rook soos die vuur smoor. Nie lank nie, is al die vlamme dood. Koos kom uitgery, die bakkie se verf afgebrand, die bande weggebrand, en al wat haar is op Koos is geskroei. Van die goiingsakke is ook net velletjies oor. Die skare juig en die SAUK staan met die mikrofoon nader.

“Baie geluk, Koos. En wat is die eerste ding wat jy met die miljoen rand gaan koop?” “Vir die dôn%$#se bakkie nuwe brieke laat aansit,” brom Koos.

Van die Boland gepraat. Gisteraand toe ek my “jammies” aantrek, besef ek die PT-broekie en die gholfhemp is albei swart. Ek gee toe vir vroulief die “gerusstelling” dat dit nie beteken ek het ’n oog op ’n plek in die All Black-span nie. Nee, ek maak gereed vir as ons in die Boland naby Groot Herrie en sy hart se punt, Leandri, gaan aftree, dat ek dalk om die ledigheid te verdryf ʼn plekkie in die Bolandspan kan losslaan. Vroulief is nie eens verlig dat ek nie planne vir oorkant die Groot Water het nie.

Oor in watter posisies ek moet probeer plek haal, sal ek later besin, solank dit net nie stut of skrumskakel is nie. Ek sal die Bolandse Rugby-unie laat weet sodra ek ’n agent aangestel het.

Hierdie rubriek het oorspronklik op maroelamedia.co.za verskyn.

Leave a Reply