Orrelmusiek in die kerk… dis g’n net vir sit en speel nie, skryf Oom Herrie, oftewel Herman Toerien, op Maroela Media se webwerf

Neef Abrie sê die orrel was nie altoos kerke se eerste keuse vir musiek nie. Aanvanklik was daar ʼn soort orkes met Bybelse instrumente soos harpe en siters en so aan. Die orreltjies was tradisioneel in die kroeg, veral studentekroeë, en daar is te heerlik musiek gemaak. Toe moes daar plan gemaak word om die mense in die kerk te kry, en kerke het ook orrels en serfyntjies begin kry.

Nou, oom Herrie is ʼn man wat baie musiek kan waardeer en geniet, maar musiek maak nie so vreeslik nie. Die enigste instrument wat oom Herrie kan bespeel is die altblokfluit as oom Herrie dit net kan vind waar iemand dit weggesteek het na die vorige spelery.

Soos oom Herrie verstaan is daar drie dinge wat ʼn orrel tot sy reg laat kom. Die eerste is natuurlik die orrel self, die tweede is die orrelis, en die derde die gebou waarin dit staan, se eie akoestiek. En oom Herrie het al iets van alles beleef.

Maar, so glo oom Herrie, daar is ʼn derde, dieperliggende faktor, want die mooiste orrelmusiek wat oom Herrie in herinnering roep was tannie Ada se traporreltjie wat ons, na ons op Kleinbrak se strand ʼn preekstoel vir oom Smutsie gebou het, na sy plekke op die preekstoel moes dra. Daar het die akoestiek bestaan uit branders wat ruis, en agtergrondgeluide van jillende mense op die strand, met af en toe ʼn meeu wat kras van hom laat hoor.

Maar wat was mooier as “U het die brood gebreek…”? Of nader aan Kersfees, “Die Heiland is gebore…”?

Behalwe die jaar toe daar ʼn gaatjie iewers in die orreltjie se lugweë gekom het, en elke paar note die orreltjie in plaas van die noot ʼn “pfff” laat hoor. Daai jaar moes die knapies wat die trappe gepomp het, regtig harder pomp.

Dan was die Herries in ʼn gemeente met ʼn goeie orrel, maar tannie Orrel kon dit nie bybring nie. Maar as tannie Orrel siek of met vakansie was, en iemand het kom aflos, dan het daai orrel gewys wat in hom steek. Veral die een keer toe ʼn student op hom losgelaat is, en die dominee (self ʼn bedrewe orrelis) aan die einde van die diens die student bedank wat so lekker op die orrel “tekere gegaan het.”

Toe beland die Herries in ʼn gemeente waar die room van orreliste bymekaar gebring is. En dis nie al nie. Die dominees en sy vrou is self baie goeie orreliste. Af en toe as daar onverwags siekte is, en ʼn aflosorrelis kon nie betyds gereël word nie, het die dominee omtrént PT gedoen soos hy op en af van die preekstoel moes klim tussen preek en orrelspeel deur…

Daar is nog! Lees gerus die volledige rubriek hier: http://maroelamedia.co.za/blog/goeiegoed/oom-herrie-se-kerrie-moleste-met-die-orrel/