Te midde van moorde en rassespanning beleef oom Herrie elke nou en dan ’n eiland van harmonie – ironies genoeg in ’n saal waar daar geveg word… Nog ’n lekker rubriek uit die pen van Herman Toerien vir Maroela Media se webwerf.

Nou die Saterdag was weer Wêreld Judodag. Dit word jaarliks op 28 Oktober op die geboortedag van die vader van judo, Jigoro Kano, aangebied.

Oom Herrie het by die toernooi beland omdat ons jongste, Jandré, ’n ywerige judoka is, en ook deelgeneem het. Jandré is ’n outistiese kunstenaar, maar hy lééf ook vir sy judo.

Oom Herrie kan sy hare uit sy kop trek dat hy nie vir Jandré vroeër aan judo voorgestel het nie. Oom Herrie het self ’n hele paar soorte karate, waaronder twee soorte kontakkarate, beproef en ’n fênbelt én crankshaft verwerf. Judo het net nooit by oom Herrie opgekom nie, tot vriende van Mev. Herrie haar met hul kinders se judo beïndruk het.

Die gevolg van Jandré se laat-begin in judo is dat hy op 24 nou ’n oranje belt het, terwyl die teenstanders in sy gewigskategorie gewoonlik reeds swart gordels het.

Saterdag se toernooi het weer klubs van oor die Vrystaat heen saamgetrek. En die rasseharmonie wat beleef word, selfs waar wit en swart teen mekaar veg, is iets om te beleef.

Vooraf speel die kleingoed ’n hond uit ’n bos op die matte waarop die toernooi kort voor lank aangebied word. ’n Mens kan amper nie glo dit gaan net ’n paar woorde kos om tot die hoogs gedissiplineerde aard van die program oor te gaan nie.

Die toernooi is aangebied in die dojo van ’n baie unieke klub wat onder die leiding van sensei Aldo en sy vrou, sensei Dedrei, staan. Dit is die saal van die kinderhuis in Bloemfontein. Die meeste van die klublede is dan ook kinders van die kinderhuis, maar dis nie waar dit eindig nie – die klub het ook twee lede wat outisties is, en judo is uitstekende terapie. Boonop is sensei Aldo ’n bedryfsielkundige, en weet hy hoe om met kinders te werk wat probleme het of deur die lewe geknak is.

Maar die mooie is hoe mooi die kinderhuis se kinders – wit, bruin en swart – met Jandré werk.

Tydens die toernooi het twee van die klein meisietjies wat teen seuns verloor het, se trane al sommer tydens die gevegte geloop. Dan is daar getroos, en sommer kort ná so ’n geveg sit die een meisie op sensei Dedré se skoot en suig lustig aan ’n ysie – netnou se trauma goed vergete.

En al is die klub nuut, tel van die lede al onder die land se voorstes.

Die eerste Wêreld Judodag is in 2011 gevier, en daardie jaar se tema was “respek”. En dit is duidelik te sien. Sedertdien het temas soos uithouvermoë, eer, en vanjaar, moed, gevolg.

’n Mens kan maar net moed hê dat hierdie eiland, asook ander eilande in die land, waar rasseharmonie heers, sal uitkring om die hele land te omgeef. En waar ook die mense met gestremdhede en wat in kinderhuise is, ook ’n volwaardige belewenis van waardigheid kan ervaar.

Mense wat ongebruikte judopakke iewers in die huis het, kan gerus aan dié klub by die kinderhuis dink. Waardigheid is ’n belangrike onderdeel as die deelnemer in ’n judopak kan deelneem wat nog goed lyk. Saterdag was daar ’n hele paar “skeurgevalle” waar van die klere tydens gevegte begin skeur het. Een knapie moes heeltemal broek omruil, omdat sy broek so geskeur het dat dit die geveg belemmer het.

As jy dalk ‘n judopak kan skenk, kontak gerus vir Aldo of Deirdre by 071 3809188 of 071 3809133.

Die storie het oorspronklik op www.maroelamedia.com verskyn.