Oom Herrie die karwag

Oom Herrie die karwag

Sit dit in jou broek om karwag te speel? Herman Toerien skryf op Maroela Media se webwerf wat gebeur toe Oom Herrie een mooi Sondag só diens doen…

Wanneer weer besin word oor hoeveel om in die hand te stop van die karwag – dink net daaraan dat dit nie maklike werk is nie. Hitte, koue, reënweer en ’n meevallertjie of wat kwyt as ’n mens gou toilet toe moet gaan.

Dié Sondag was oom Herrie ’n instaan-karwag, sodat onse kerk se gereëlde karwag, Martha,’n slag self die kerkdiens sou kon bywoon saam met haar kinders.

Die plan was dat Klein Herrie saam met sy pa sou diens doen, maar ’n verkoue wil hom nie los nie.

’n Glimbaadjie het oom Herrie nie, maar wel ʼn skel pers baadjie van toe oom Herrie vrywilliger was met die wêreldbeker-kriekettoernooi. Op die moue staan groot “Media” gedruk. Die groot pers hoed is lankal tuinman toe, toe sy eie hoed iewers vergeet gebly het en die son hom erg begin klits het.

Maria was al lankal aan diens toe die Herries by die kerk opdaag. Sy is dankbaar vir die geleentheid om kerk toe te kan gaan, maar sy is ook skaam – aarselend. Dit kos naderhand mooi praat dat sy aanstryk kerk toe. “Ek sit sommer in die portaal,” sê sy nog.

Ai, hoe jammer. Die kerkraad het juis op dié Sondag besluit omdat daar ’n doop was – sodat sy en haar kinders ’n doop kan sien.

Die inkom-hek en die uitgaan-hek sluit elektronies, en daar is duiwelsvurk byna regom die kerk. ’n Karwag hoef dus nie te vreeslik op te let nie. Maar sommer met die eerste rondte sien oom Herrie ’n beweerde kwaaddoener kyk die kerk uit. Daar is net ’n lae muur met lemmetjiesdraad bo-op, en iemand wat wil kwaad doen kan lag-lag daaroor kom. Oom Herrie kyk vir die man, wat toe ʼn ent verder drentel waar hy op ’n witgeverfde paal gaan sit en die kerk dophou.

Dit beteken oom Herrie kan dit nie rustig vat nie, want daar is motors weerskante van die kerk geparkeer, en ’n oog moet beide kante gehou word.

En die kwaaddoener sit op sy paaltjie en wag klaarblyklik sy kans af. Binne die kerk hoor oom Herrie word die mooiste liedere die een na die ander gesing.

Die doop is besonders. Vier geslagte van die dopeling is in die kerk. Oupagrootjie, die Herries se voorslagouderling is daar. Sy vroulief, die diaken, het ’n heupvervanging ondergaan en herstel nog tuis. Ook die oupa en ouma, die pa en ma en ousus. Dis ook ʼn hartseer doop, want die dominee het die ouboet nie net gedoop nie, maar ’n paar jaar later begrawe. Die nuus het die land destyds geruk.

Intussen loop oom Herrie en hou vir ta op sy paaltjie dop. Kort voor die kerk uitkom, besluit hy skynbaar hy gaan nie kans kry nie, en stryk aan. Oom Herrie se bene begin seer word. En dit in net ietsie oor ’n uur. Laat staan nog om heel dag iewers ’n karwag te moet wees.

Nou verstaan oom Herrie hoe Maria dit reggekry het om so aan die hardloop te bly toe sy ook in die gemeente se skoustalletjie kom help het – en ’n ware voorslag geblyk te gewees het.

Die lewe het ook ʼn hele paar draaie met oom Herrie geloop – van waarnemende adjunk-direkteur en redakteur, tot leerling-begrafnisondernemer tot handlanger vir ’n elektriese kontrakteur. Nog ʼn paar ander goed ook onder kontrakte gedoen.

Maar watter pad het iemand geloop om ’n karwag te word?

Dink mooi voor u pruilmondjie maak wanneer die karwag naderstaan en sê hoe mooi hy die karretjie sal oppas. En moet ook nie die hand te toe hou wanneer u veilig na die ongeskonde kar terugkeer nie. Dis harde, harde werk.

Die rubriek het oorspronklik op Maroela Media se webwerf verskyn. Vir meer lekkerleesstories en nuus, besoek http://maroelamedia.co.za

Leave a Reply