Die slagspreuk “It’s a matter of association” is nie verniet deel van die groter Atterbury leksikon nie, want ons netwerk van medewerkers en vennote is een van ons mees waardevolle hulpbronne. Neem nou maar vir GROOTfm, Atterbury Trust se gewaardeerde mediavennoot. Jy sal ver moet soek om ’n groep meer passievolle mediamense te kry. Mense soos omroeper Riaan Grobler, by wie ons vandeesmaand gaan kuier het…

Jy sing, jy maak radio en televisie, jy vertel stories, jy bak melktert… hoe het dit alles begin?
Ek is gebore en getoë in Pietersburg/Polokwane. Na skool het ek eers bietjie in die bank gewerk voor ek gaan drama swot het by die Tshwane Universiteit van Tegnologie in Pretoria. Daarna het ek in verskeie verhoogproduksies opgetree waarvan musicals my gunsteling was. Die radiowerk het begin nadat ek as tweedejaarstudent ‘n stemtoets by Rippel 90.5 geslaag het – ek het op 17 September 2005 die heel eerste keer agter die mikrofoon ingeskuif. Maar ek wou al as ‘n klein seuntjie ‘n radio-aanbieder wees. Ek het vas geglo die president het ‘n groot masjien (soos in die 80’s film “Honey, I Shrunk the Kids!”) in sy kantoor waar hy mense piepklein maak en binne-in radio’s laat werk. As kleintjie het ek geglo daar is regte egte mense in elke radio en ek wou een van hulle wees!

En hoe het jy by GROOTfm uitgekom?
Ek het by Rippel 90.5fm begin werk, en my beroep het my ook op ‘n Kaapse draai geneem waar ek as bemarker in koerante gewerk het. Maar radio was in my bloed, so ek het teruggekeer na Rippel toe, wat op die ou end na ‘n oordrag van bestuur gelei het tot die totstandkoming van GROOTfm 90.5. Ek het begin in bemarking, en toe ook ‘n aanbieder geword, en uiteindelik vervaardiger van Die Groot Ontbyt. Dit was lekker om van die begin af deel van die suksesverhaal te kon wees; geleenthede in TV kom nie elke dag op ‘n mens se pad nie! Ek is ook ‘n instaan aanbieder op Die Groot Ontbyt en geniet dit net soveel vóór die kameras as agter.

Jy was by die Wêreldkampioenskap vir Uitvoerende Kunste in Hollywood ‘n paar maande gelede – vertel ons meer hiervan?
In 1998 toe ek 17 was in 1998, het ek aan die Suid Afrikaanse Kampioenskap vir Uitvoerende Kunste deelgeneem in die sangkategorie, en is gekies om saam met span SA te gaan deelneem aan die heel eerste Wêreldkampioenskap in Hollywood, Los Angeles. Die kompetisie is soos die Olimpiese Spele vir die uitvoerende kunste: sang, dans, modelwerk, instrumentaal en toneelspel.  Alle ouderdome, wêreldwyd. In my eerste jaar het ek een goue medalje gewen, maar wou beter doen en het die twee jaar daarna ook deelgeneem. In 2000, my derde keer, het ek my sangkategorie algeheel gewen. Dis wat my finaal laat besluit het dat ek die vermaaklikheidsbedryf is waar ek wil werk. Ek het al die jare kontak behou en die kompetisie het geweldig gegroei sedert die klein begin. Vanjaar was die 20ste herdenking en die SA’s het my saamgenooi Los Angeles toe as ‘n alumnus, om ook te help met publisiteit – wenners in die verskillende kategorieë wen deesdae studiebeurse, platekontrakte en selfs kontantpryse. Ek het ‘n daaglikse oorskakeling met die Groot Ontbyt gedoen, en het ook vir eNuus en vir Maroela Media en Netwerk24 nuusstories oor die kampioenskap gedoen.

Jou liedjie “Die Boek” doen baie goed op die trefferslyste. Vertel ons die storie agter die song?
Ek is baie dankbaar vir “Die Boek”, want die liedjie het in ‘n baie hartseer en persoonlike tyd in my lewe gekom. Verlede Februarie het my ma skielik baie siek geword en ek het daagliks op Facebook nuus oor haar vordering na haar operasie gedeel. My vriend, die sanger en liedjieskrywer Rudi Claase het laat weet dat dit hom so geraak het dat hy vir my ‘n liedjie geskryf het. My ma was ‘n groot aanhanger van hom, maar sy is kort daarna oorlede nog voordat ek “Die Boek” kon opneem en vir haar kon speel. Die lirieke gaan oor iemand wat net eenvoudig nie ‘n boek kan toemaak en aanbeweeg nie omdat iemand vir wie die persoon baie lief is, nou weg is. Ek het my nuwe album, “Alles”, aan my ma opgedra. Ek weet sy luister nou daar in die hemel en smile groot en is baie trots. Dit is so lekker om van mense te hoor wat sê hoeveel die liedjie vir hulle beteken en hoe dit vir hulle vertroosting bring in hul eie situasies van verlies.

Watter album is die laaste een wat jy self gekoop het?
Ek is ‘n groot voorstander van Afrikaanse musiek en het letterlik honderde CD’s. (Ja ek koop nog CD’s – ek kan nog nie die “download” ding doen nie).  Die laaste album wat ek gekoop het was Joshua Na Die Reën se nuwe album “Die Wêreld Binne My”. Ek is ‘n groot ondersteuner.

Saam met watter ander sanger sal jy graag wil optree?
Ek hoop Steve Hofmeyr lees hier (ons is ook goeie vriende), want ek sal nog eendag in my loopbaan ‘n duet wat hy self geskryf het, saam met hom wil sing!

Wat sal jou droom-konsert wees om by te woon, en dan ook as kunstenaar om in op te tree?
Ek is mal oor New York en sal graag ‘n konsert in Madison Square Gardens wil bywoon van iemand soos Rod Steward of Celine Dion of Taylor Swift.  En om self by op te tree? Ek dink dit is enige Afrikaanse kunstenaar se droom om by Afrikaans is Groot op te tree…

Jy is by alles nog boonop ‘n melktertkkampioen… vertel ons meer hiervan? Wie het jou geleer om so goed te bak?
As kind in Pietersburg was ons buurvrou, tannie Les Swart, ‘n bakster van formaat en daar was altyd iets in die oond in hulle kombuis. Ek en haar seun was maatjies, maar ek het grootoog dopgehou wanneer tannie Les gebak het en was vreeslik geïnteresseerd in die hoe en die wat. Sy het my van kleinsaf gewys hoe sy dit doen en resepte gegee wat ek dan gaan oefen het by die huis. Vandaar my liefde vir bak, al kan ek glad nie kook nie! Die bakkery het verlede jaar weer in alle erns begin toe my ma oorlede is. Ek het gevind dit is baie terapeuties en het so paar bakklasse by Annelien Pienaar gaan bywoon.

En hoe wen jou tert toe ‘n prys?
Ek kan nie help om te glimlag daaroor nie! Ek het letterlik die aand voor die inskrywings gesluit het, ingeskryf nadat ek nie kon slaap nie en op TV die kompetisie se details gesien het. Mens moes ‘n foto van jou melktert ook instuur en nadat ek die inskrywingsvorm voltooi het, besef ek toe ek het nie ‘n foto van een van my terte nie. Ek het agtuur die aand begin bak sodat ek ‘n foto kon neem. Daar word ek toe gekies as een van Gauteng se 10 finaliste en wen toe die Gauteng-kompetisie. Ons was vier wat in die finaal deelgeneem het in Kaapstad. Wat ‘n lekker ondervinding! Ek het nooit ‘n resep gehad vir die melktert nie. Tannie Les is vier jaar gelede oorlede en ek het nooit die resep by haar gekry nie, maar ek het haar as kind fyn dopgehou en gekyk hoe sy die tert aanmekaar gesit het, stap-vir-stap.  Ek het toe self als bymekaar gaan sit en verfyn totdat ek by die perfekte melktert-resep uitgekom het.

En wat is jou geheim vir daardie perfekte melktert?
Jy moet nie haastig wees nie en bak dit met liefde!  Melktert is nie moeilik nie maar jy moet wakker wees en jou stoof waarop jy jou vulsel maak, kén!

As ons kom vir tee, wat sit jy nog vir ons voor?
Natuurlik melktert! Maar ek bak ook ‘n heerlike sjokoladekoek, suurlemoenstroopkoek, lemon meringue, kolwyntjies (wat rêrig mooi versier is) en piesangbrood.(en souttert, maar mens soek iets soets saam met tee)!

Gee vir ons ‘n oorsig van die hoogtepunte van GROOTfm en Groot Ontbyt vir die jaar sover, en waarna ons nog kan uitsien.
Die Groot Ontbyt het onlangs sy 500ste episode gehad en ons was die 10 Augustus al twee jaar oud. Tyd vlieg! Daar was vreeslik baie hoogtepunte en die program groei daagliks. Dis so lekker om te hoor hoe die kykers en luisteraars dit geniet. Ons het ‘n span fenomenale aanbieders met Johrné van Huyssteen as anker; ons inhoud is aktueel, dit vermaak en inspireer en ons bied vir die kyker en luisteraar inligting waaraan hulle vir dae lank nog kan dink. GROOTfm 90.5 het ook baie gegroei in die vier jaar van ons bestaan. Ons is betrokke in die gemeenskap met Lindie Strydom aan die stuur van die gemeenskapsprojekte, en ons het al honderde harte geraak en verander. Lindie het die gedagte dat ons moet “groot gaan in die klein” by ons begin kweek en dit is presies wat ons doen.  Dit is nie moontlik om by almal uit te kom en almal te help nie maar met die projekte wat GROOTfm 90.5 aanpak staan ons elke keer agterna verstom oor wat hierdie radiostasie reg kry. Ons #SkoolMetDieBesteGees projek het hierdie jaar die radiotoekenning gewen by die Liberty Radio Awards as beste gemeenskapsprojek vir gemeenskapsradiostasies. Maar ons vermaak ook. Die Groot Boot word volgende jaar vir die derde keer aangebied met kunstenaars wat gaste die hele naweek vermaak.

En laastens, hoe kan mense jou album, “Alles”, ondersteun?
“Alles” is nou landswyd beskikbaar by Musica en toonaangewende musiekwinkels, so koop hom gerus! “Die Boek” doen vreeslik goed op kykNET se Top 20 en is tans nommer 11. Mense kan vir hom stem deur “Riaan Grobler Die Boek” te SMS na 40800 (SMS’e kos R1.50). Dan kan jy ook op jou gunsteling radiostasie se treffersparade gaan kyk. By van hulle kan jy stem om die rangorde te bepaal, so as jy ‘n stem kan gooi sal ek dit baie waardeer!

Kyk hier na die video van “Die Boek”: