Ons Binnelanders ster maak ’n buiging

Ons Binnelanders ster maak ’n buiging

Hoe lekker om die TV aan te skakel en een van ons Atterbury Trust-beurs alumni te sien waar sy haar uitleef in haar gekose beroep; presies wat ons met die beursprogram wil regkry. Die lewe het vir voormalige dramastudent Kika Smit ’n spinbal gegooi, maar sy het haar nie laat onderkry nie. Skakel vanaf volgende week in op Binnelanders, en lees verder om meer te wete te kom oor die nuutste jong ster op die blok…

Vertel ons bietjie van jou agtergrond – waar pas jy in die gesin in?
Ek is die jongste van drie kinders; my suster is 14 maande en my broer drie jaar ouer. Ons het ’n baie hegte band en ondersteun mekaar deur dik en dun. My ouers het seker ’n groot bydra hiertoe gehad, omdat ons van kleins af familie eerste moes stel en dan die res. Sondae was familiedag en braaidag en dit sal altyd goeie herinnerige bly.

Ons is jammer om te hoor dat jy jou pa verloor het; hoe oud was jy toe dit gebeur het?
My pa is in ’n motorongeluk oorlede in Oktober van my eerstejaar op Stellenbosch. Ek was 19. Dit was ’n enorme verlies, maar vandag is ons vier sterker saam as ooit tevore en nou is familie vir ons nog soveel meer belangrik. My ma het ons gom weer aanmekaar geplak. Ons het soveel van mekaar geleer en ook van herstel en hoe om aan te gaan. Ek is so dankbaar vir hierdie familie van my, want hulle laat my elke dag strewe na meer.

Hoe het jou pad toe met Atterbury Trust s’n gekruis, en wat sou gebeur het as jy nie die beurs gekry het nie?
My pa was die hoof broodwinner, so saam met die ongelooflike hartseer het daar ook ander probleme en verantwoordelikhede vorendag gekom. Skielik moes ons dadelik planne maak of ek sou nie ‘n paar maande later die tweede jaar van my Dramagraad kon gaan doen nie – my ma sou dit nie kon bybring nie.  Sy het op Atterbury Trust se beursfonds afgekom – ons het geweet van die trust nadat ek in my matriekjaar in die musiekblyspel Stuur Groete aan Mannetjies Roux gespeel het – dit was die heel eerste produksie in die Atterbury Teater. Hulle inskrywings was eintlik alreeds gesluit, maar gelukkig is ek nogtans genooi vir ’n onderhoud. Ek is in Desember ingelig dat my aansoek suksesvol was en dit was die grootste verligting. Ek sal vir Atterbury ewig dankbaar wees vir hierdie ongelooflike liefdesdaad en die geleentheid wat hulle vir my gegee het. Hulle het my toekoms-sekerheid gegee en daarsonder sou ek nooit my graad kon vang nie.

Mis jy enigiets omtrent dramastudent wees?
JA! Daar is baie waarna ek verlang. Eerstens die sorgeloosheid van student wees – dit is darem ’n baie ander lewe as die “grootmenswêreld”. Ek verlang ook na my klasmaats wat elke dag ’n nuwe avontuur gemaak het. Klasse was definitief nie soos ander kursusse se klasse nie; dit was vir my ’n fees om elke dag by die departement te kon wees. Ek mis dit om deel van produksies te wees, en kan jy glo, selfs die lang repetisie-ure, want dit het ’n lig in my aangesit. Die gevoel van op ’n verhoog wees met die ligte aan en te weet jy is deel van ‘n projek wat ’n storie aan gehore gaan vertel en ’n impak op hulle lewens gaan hê, het altyd vir my soos magic gevoel.

Watter soort toneelspel geniet jy die meeste? Werk is altyd maar skaars in die bedryf, so wat is jou strategie om besig te bly?
Teater was nog altyd my grootste liefde, maar deesdae verken ek dit voor die kameras en ek geniet dit baie. Dit is baie anders as teater, maar juis dit is ook lekker. Wat styl betref, verkies ek dieper storielyne; ek hou van karakters met ’n intense storie en met ’n dieper agtergrond, iemand wat met iets wroeg. Drama, dus. Maar ek het baie respek vir akteurs wat komedie doen; ek oefen daaraan en hopelik sal ek ook eendag so gemaklik daarmee kan wees. En ja, werk is skaars, maar ek het nog nooit ophou probeer nie. Die belangrikste is om nooit moed te verloor nie, en dalk net ’n ander manier te probeer vind om ’n ding te doen. Ek lees op die oomblik The Obstacle is the Way deur Ryan Holiday wat my perspektief oor hindernisse op jou pad heeltemal verander het. Ek lees baie na oor die kunste en toneelspelmetodiek in my vrye tyd, en gaan vir oudisies. Ek werk ook baie aan myself en my fiksheid, omdat jy altyd jou beste moet lyk en voel; wat binne aangaan straal baie vinnig uit, veral op kamera. Ek werk ook op die oomblik as ’n eiendomsagent – omdat dit buigsame ure is werk dit goed saam met my toneelwerk.

Ons het jou op Binnelanders gesien! Is dit ’n deurlopende rol, en hoe besig hou dit jou?
Ek is ongelooflik opgewonde oor hierdie rol wat ek in Binnelanders kon vertolk. Ek het die storie geniet, en die karakter was so reg in my kraal! Ek was vir drie maande besig hiermee; en my karakter sal nou tot in September op die kassie wees. Ek hoop dat mense van haar sal hou en saam met haar die pad na herstel kan loop. Sy is ’n interessante karakter met ups en downs, maar sy’s ook baie familievas waarmee ek kon identifiseer. Dit was ’n leersame paar maande waaroor ek bitter bitter dankbaar is. Ek hoop my karakter kan dalk weer ’n verskyning maak, maar ek sien ook uit na watookal die volgende geleentheid gaan wees…

Het jy al gehad dat mense jou in die openbaar herken – vertel bietjie?
Dit verbasend hoe vinnig mense jou herken en dis ook lekker om te besef hoe baie mense eintlik die sepie kyk! Toe ek deel was van Stuur Groete aan Mannetjies Roux het mense my vir ’n rukkie daarna herken, maar toe het ek gaan swot.  Nou herleef dit omdat ek op TV verskyn en dis lekker as mense vir jou kom hallo sê en van jou karakter hou; dit laat jou voel jy doen darem iets reg.

Waar kom jou liefde vir drama vandaan – was jy van kleinsaf ’n klein aktrise?
My liefde vir drama kom beslis al van kleintyd af. Ons het altyd konserte gehou op familievakansies en daar moes altyd ’n videokamera wees om ons af te neem. Ek en my suster wou van kleins af “entertain.” Ek het voor skool al ingesit in haar dramaklasse en later het my ma nie ’n keuse gehad nie, en moes my ook vir klasse stuur. Daarna was daar akrobaatkuns, sang, moderne dans en eisteddfods… ek was een van daai met die balkies! Ons het my ouers lekker besig gehou.

Wat is die mees impakvolle les wat jy by jou ouers geleer het?
Moet nooit ophou baklei nie! Moenie ophou droom nie, moet nie ophou baklei vir jou mense nie en moet nooit nie opstaan nie. Niks is só erg dat jy dit nie kan verander of herstel nie, alles vat tyd. My ouers het ook altyd vir ons gesê dat niks ooit so erg kan wees dat ons dit nie met hulle kan deel nie; ek het altyd die vrymoedigheid gehad om met my foute hulle hulp te vra. Geloof was ’n belangrike deel van ons daaglikse lewens. Ons is geseënd met die beste ouers, geen kind kon vir beter vra nie.

Wat reken jy as begunstigde van ’n Atterbury Trustbeurs, is die belangrikheid van beursprogramme soos hierdie?
Dit verander lewens en toekomste. Dit gee iemand die kans om te styg uit hulle omstandighede en om ’n beter toekoms vir hulself te bou. Dit gee jou ook op ’n jong volwasse ouderdom ’n groot verantwoordelikheid – jy moet hard swot om te verseker jou punte is reg, jy moet jou beursgeld reg bestuur en jy moet sodra jy begin werk, begin terugbetaal. Sulke belangrike lesse.

Atterbury het reeds meer as 600 studente gehelp befonds terwyl hulle gestudeer het en ons is baie trots op ons wonderlike, dinamiese alumni, mense soos Kika wat hul plek volstaan in die wêreld. Ons is van skenkers se goedgunstigheid afhanklik om die beursprogram te laat groei. Vind meer uit oor hoe jy kan bydra, hier.

 

 

 

 

 

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.