Om ’n eie lewe te bou

Om ’n eie lewe te bou

Ons is soms stomgeslaan deur die stories wat jongmense wat voor ons beurspaneel kom sit, vertel. Ouers wat hul hulp aan hul kind onttrek en kontak verbreek omdat die kind ‘n eie lewe wil maak, klink soos iets uit die Sprokies van Grimm, maar dis ‘n hartseer realiteit vir sommiges. Die aangrypende verhaal van 21-jarige NWU-student Gabriel van Eeden lees soos fiksie, en sy vasberadenheid om ‘n eie onafhanklike lewe te bou, het ons almal geïnspireer.

Jy het ’n baie buitengewone agtergrond gehad as jongste van vier kinders op ’n sendingstasie in die platteland van Kwazulu-Natal. Vertel ons meer – skets vir ons ‘n prentjie van hoe afgesluit van die moderne lewe julle daar was.
My pa was ‘n dokter en my ma ‘n onderwyser, toe hulle gevoel het hulle roeping is om vrywillig by ‘n sendingstasie te gaan werk. Dit was nog voor ek gebore is. My pa het sy mediese praktyk verkoop en hulle is KZN toe. Hulle kry nie ‘n inkomste nie, so ons het van donasies gelewe, hoewel ons altyd genoeg gehad het. Ek is die jongste van vier kinders, maar my ouers het ‘n paar jaar terug ‘n klein Zoeloe-meisietjie aangeneem, so sy is nou die jongste. Ons is baie streng grootgemaak op die sendingstasie. Seuns en meisies moes uitmekaar bly. Ons sou elke nou en dan dorp toe of na sportbyeenkomste gaan, maar die meeste van die tyd was ons op die sendingstasie. Daar was nie ‘n TV in die huis nie en ek het my eerste selfoon in matriek in 2013 gekry. Ons het ook nie baie flieks gekyk nie en net klassieke musiek is toegelaat.

Hoe was dit om so groot te word? Hoe het julle skoolgegaan?
My ouers het vir ons ‘n baie donker prentjie geskets van die wêreld buite die sendingstasie en daarom het ek as kind die buitewêreld gevrees. Dit was soos om in ‘n ander land te groot te word, en daar was baie wat ek op my eie moes leer toe ek daar weg is, omdat my perspektief op alles aan die buitekant so negatief ingekleur was. Kyk, ek het goeie eienskappe daar aangeleer: ek werk graag saam met ander mense en ek weet om dankbaar te wees vir alles wat ek het. Ek het daar geleer om Duits en Zoeloe te praat. Dit was vir my lekker daar toe ek klein was, maar soos ek ouer geword het, het ek rusteloos begin raak. Wat skool betref was daar op die sendingstasie ‘n Engelse privaatskool waar ek ‘n baie goeie akademiese opvoeding gekry het. Al ons kinders was bevoorreg genoeg om borge te kry wat ons skoolgelde betaal het. Gelukkig het my pa ons gedwing om Afrikaans by die huis te praat sodat ons nie ons moedertaal vergeet nie.

Vertel ons van jou besluit om weg te breek en te gaan swot.  Was dit ’n moeilike besluit, en hoe voel jou familie daaroor?
My ouers wou hê ons moes almal op die sendingstasie bly en daar werk want hulle het gevoel dit is waar hulle betekenis en vrede gekry het en ons kinders sou veilig daar wees. Maar ons het almal gevoel ons wil ons ambisies volg en ons eie toekoms bou. My oudste broer werk as ‘n bestuurder vir Spar in Natal en my ander broer werk op ‘n skip. My sussie het ‘n paar jaar terug au pair-werk gaan doen in Amerika omdat daar nie vir haar geld was om hier te studeer nie. Sy het haar man daar ontmoet en sy bly nou permanent daar. Ek het ‘n jaar op die sendingstasie gewerk om op ‘n manier dankie te sê vir alles wat vir my gegee is en wat ek geleer het. My ouers het gesê hulle het nie geld om vir verdere studies te betaal nie. Toe probeer ek om ‘n studielening te kry, maar my ouers wou my nie ondersteun nie. Hulle het geweier dat ek hul bankstate gebruik as bewys van hul inkomste en daarom kon ek vir geen studielening kwalifiseer nie. Ek het toe in 2015 besluit om ‘n tweede “gap” jaar te vat. Ek het in ‘n apteek in Centurion gaan werk vir sakgeld en om weer finansies vir universiteit te probeer reël. Ek is al in 2014 aanvaar by die Noordwes Universiteit in Potchefstroom maar kon nie gaan studeer nie weens die finansiële situasie. Toe ek van die huis af weg is, het my ouers gesê hulle kan my besluite nie ondersteun nie en wil daarom nie met my kontak hou nie. Dit was die moelikste besluit van my lewe om weg te gaan, maar dit was definitief die moeite werd. My broers en suster het my voluit ondersteun en na alles wat ons saam deur is, is ons verhouding baie sterker. Ek het ook baie ondersteuning van my tannie en haar kinders gekry.

Wat was vir jou die mees bevrydende aspek van jou nuwe lewe in die stad? En die moeilikste? Waarmee sukkel jy steeds?
Ek het niemand in Centurion geken nie en dit was ‘n baie moelike tyd vir my. Gelukkig het ek by ‘n baie liefdevolle gesin gebly wat my soos hulle eie kind behandel het en my baie emosionele ondersteuning gegee het. Maar ek het baie gesukkel met my lewensbeskouing en het baie verlate gevoel. Die moeilikste aspek van die lewe buite die sendingstasie was om myself te laat geld, want ons is van kleinsaf geleer dat jy moet stilbly en alle probleme aanvaar. Daarom het ek dit baie moelik gevind om my ambisies na te jaag. Dit was ook moeilik om nie ouers te hê na wie ek kon gaan vir leiding nie.

En hoe het jou paaie met Atterbury Trust s’n gekruis?
Verlede jaar is ek weer aanvaar by die universiteit en het genadiglik ‘n borg gekry wat ingestem het om my met my eerste jaar te help. Toe het iemand my vertel van Atterbury Trust en ek het dadelik aansoek gedoen, hoewel ek nie baie optimisties was nie. Met my onderhoud het ek vir Leonie du Preez en Oom Jackie van Rensburg, [‘n afgetrede predikant van Potchefstroom, wat ook betrokke is by die mentorskap van studente] ontmoet, en van daardie dag af het my lewe dramaties verander. Atterbury Trust het my aanvaar en die kans gegee om uiteindelik te kan studeer. Wat ‘n vreugde! Oom Jackie het my gehelp met die emosionele probleme wat my baie depressief laat voel het. Met sy hulp het ek my negatiewe houding heeltemal omgedraai. Sederdien voel ek soos ‘n ander mens – positief en optimisties. Nou geniet ek nuwe uitdagings en nuwe situasies waar ek nuwe dinge kan leer.

Hoe ervaar jy Atterbury Trust se insette in jou lewe as ’n beursstudent? Voel jy goed ondersteun? Wat is vir jou die waardevolste aspek van wat hulle vir jou doen?
Atterbury het my dadelik deel van die familie laat voel en hulle gee die ondersteuning wat ‘n mens van familie sou verwag. Ek is trots om deel van die Atterburyfamilie te wees en is gemotiveer om te wys hoe hulle hulp en ondersteuning my lewe verander het. Sonder hulle sou ek nie kon aangaan met my studies nie.

Hoekom het jy BHSc Beroepshigiëne as studierigting gekies?
Ek weet al van al kleintyd dat ek in ‘n gesondheidsrigting wil werk. Ek hou daarvan om met mense te werk en ‘n verskil in hulle lewens te maak. Ek is oorspronklik vir biokinetika gekeur maar toe het ek gehoor van hierdie nuwe kursus, beroepshigiëne. Ek hoop om teen einde 2019 klaar te wees met my honneursgraad.

Waar hoop jy om oor 10 jaar te wees – hoe hoop jy gaan jou graad jou bemagtig?
Ek hoop om teen dan my eie konsultasiefirma te hê en werk te kan skep vir ander. Ek sou baie graag my broers en suster finansieël wou ondersteun ná alles wat hulle vir my gedoen het en wat ons deurgemaak het. Ek wil baie graag ook in ‘n posisie wees waar ek hulp kan verleen ander jongmense wat baie ambisie en potensiaal het maar nie genoeg geld om verder te studeer nie.

So ‘n hart is mos in die regte plek. Kliek gerus hier en maak ‘n bydrae tot Atterbury Trust se beursfonds, waarmee ons jongmense soos Gabriël kan ondersteun sodat hul drome kan waar word.

Leave a Reply