’n Nuwe jaar, en sowat 70 nuwe universiteits- en kollege-studente maak reg om ’n nuwe akademiese jaar aan te pak met die hulp van Atterbury Trust se beursprogram. Heelwat van hierdie jongmense sou glad nie verder kon studeer as dit nie vir die beurs was nie. Dylan Smit se moeilike agtergrond as die oudste kind uit ’n gesin verwoes deur verslawing, was soos ’n spreekwoordelike berg in sy pad, maar op 21 gaan hy vanjaar die eerste tree gee op die pad na sy tegnologie-droom.

Hoe het jy van Atterbury Trust se beursprogram gehoor?
In my soeke om te studeer, het ’n vriend my van Atterbury Trust vertel, en ek was so gelukkig om aanvaar te word vir ’n beurs.

Ons het die seer nuus verneem dat jou ouers albei deur dwelms ingesleur is – wat het van julle kinders geword?
Dwelms het my pa se dood veroorsaak toe ek net 10 jaar oud was en my twee boeties nog nie ’n jaar oud nie. Ek bly van toe af by my ouma, want my ma is steeds met dwelms en daardie slegte dinge betrokke. Ons het nie ‘n groot genoeg inkomste om na haar te kan omsien nie; sy bly op straat. Ek het haar so agt maande gelede laas gesien…. My boeties bly by my stiefma in Johannesburg, maar omdat hulle so ver is, het ek ook nie regtig baie kontak met hulle nie.

Hoe het jy die mas opgekom?  Wou jy ooit moed verloor?
Ek het nie regtig heeltemal die mas opgekom nie.  Maar wat my help, is die gedagte dat ek daar deurgekom het en dat probleme in die toekoms makliker hanteerbaar sal wees. Mens voel soms maar moedeloos, maar ek sal nie moed opgee en toelaat dat dit my onderkry nie, want ek weet ek is sterker as dit en God maak ’n pad oop vir my. Kyk nou maar na Atterbury Trust en die beurs – dit is net nog ’n pad wat God vir my oopmaak na ’n better lewe vir my en my afstammelinge eendag.

Wat het jy sedert matriek gedoen?
Ek het in 2015 deur Impak my matriek-sertifikaat gedoen. Van toé tot nou het ek maar meestal my eie maniere gevind om geld te maak en myself te probeer verbeter. Ek het vir ’n rukkie by ’n motorwerkswinkel gewerk, maar hulle kon my nie betaal nie so op die ou end is ek daar weg. Daarna het ek by ‘n winkelsentrum werk gekry, maar toe ons motor breek moes ek dit opgee omdat ek nie ander vervoer gereël kon kry nie. Dan was daar ander los werkies, en ek het ook probeer om op my eie te studeer… Ek moet eerlik wees, ek was baie naby daaraan om op te gee op my droom van swot, toe Jesus vir my hierdie geleentheid stuur.

Hoe het jy besluit op jou kursus – is dit iets wat jy nog altyd wou doen?
Ek het nog altyd die droom gehad om IT te swot omdat ek van kleins af nuuskierig was om te weet hoe alles om my werk. Ek het net nooit veel hoop gehad nie, omdat ek altyd geweet het daar sal nie geld wees daarvoor nie… Die hoofrede vir die spesifieke kursus is omdat ek weet dit gaan ’n uitdaging wees wat nie net sommer al die pad gaan maklik wees nie – ek weet dis ’n veld waarin ek my alles sal kan gee.

Waarna sien jy die meeste uit omtrent die kursus?
Ek kan nie wag om te leer hoe om sagteware te ontwikkel nie, en ook etiese “hacking”, maar ek is regtig opgewonde om te leer werk in die veld van kunsmatige intelligensie (“AI”, of “Artificial Intelligence”).

Wat is jou plan as jy klaar gestudeer is; het jy al ’n idee wat jou volgende stap sal wees?
Belgium Campus werk baie prakties, en wanneer jy kwalifiseer, is daar reeds verskeie werkgeleenthede vir hulle studente. Ek hoop dat ek daardeur ’n goeie pos sal kry sodat ek vir Atterbury kan terugbetaal, en iemand anders weer gehelp kan word soos ek gehelp is.

Het jy iemand wat jy as ’n rolmodel beskou?
Elon Musk was nog altyd my rolmodel, want hy mik altyd groter. Sy woorde het my geïnspireer om verder te leer: soos hy sê, die wêreld kort nie meer politici nie; die wêreld kort meer kennis, met kennis verbeter ons die wêreld. Net soos Elon is my doel in die lewe om ’n impak op mense te kan hê – of dit nou wêreldwyd, groot of klein is…  dít is sukses in my oë.

Waar hoop jy om oor 10 jaar te wees – hoe lyk jou toekomsdrome?
Oor 10 jaar sal ek graag aan my eie navorsingsprojek wil werk vir ’n groot firma; tegnologie wat byvoorbeeld gestremdes of bejaardes kan help, of wat gesondheidsdienste of opvoeding verbeter… ons sal maar sien wat gebeur. Soos ek genoem het, hoop ek om met kunsmatige intelligensie (AI)te werk… Langtermyn hoop ek om my eie besigheid te begin.

Hoekom dink jy is Atterbury se beursfonds so belangrik; hoekom moet mense skenkers word?
Sonder die beursfonds se hulp sou ek nie kon swot nie, en dit sou beteken dat ek ’n baie groot deel van my lewe sou sukkel.  Mense wat kan bekostig om te skenk, kan so ’n verskil maak aan die lewens van ander wat nie geleenthede het nie; dit is hoekom skenkers so belangrik is…

Elke bydrae aan Atterbury Trust se beursfonds maak ’n verskil aan ’n jongmens se lewe, en belê in die toekoms van Suid-Afrika. Skenkings is belastingaftrekbaar. Kliek hier vir meer inligting, en maak 2018 die jaar waarin jy deel word van ons hulpnetwerk.