Die leerders van Nuwe Hoop Skool is byna klaar met hul inskrywing vir die Cool Capital 2016 Hoërskoolkunskompetisie, wat deur Atterbury Trust geborg word. Net soos met die eerste biënnale wat in 2014 in Pretoria aangebied is, werk elke deelnemende skool saam met ’n professionele kunstenaar, en vir Nuwe Hoop is dit Unisadosent en kunstenaar Gwen Miller, wat hand bysit saam met studente van Unisa. Ons het met Gwen gesels om te hoor hoe sake staan.

Vertel ons meer van julle kunsprojek.
Ons het besluit op ‘n animasieprojek wat die Graad 9 klas en kunsonderwyserers Maggie Botha in samewerking met Unisa-studente doen. Die leerders word aangemoedig om elk ‘n baie kort filmgreep te maak wat stop-raam animasietegnieke gebruik. Die Unisastudente doen terselfdertyd ervaring op deur ‘n gemeenskapsprojek te doen, leerders te lei en hul kennis te deel; en dit bou ook empatie. Dit bou voort op ‘n projek wat in 2014 geloods is en vorm ook deel van my groeiende navorsing oor remediërende projekte. Ek het spesifiek die Graad 9s van Nuwe Hoop gekies, omdat gestremde kinders normaalweg nie die geleentheid kry om kreatiewe talente te ontwikkel nie weens die beperkte vakkeuses in hul skole. By Nuwe Hoop kan hulle net tot Graad 9 kuns as vak neem. Ons hoop om die animasies op openbare forums te vertoon.

Wat beeld die werk uit, en wat noem julle die projek?
Die drie klasse het met voorgeskrewe gedigte as tema gewerk: Rain in Summer, Die Touloper and Shopping, en dit is dus wat die animasies genoem word. Ons noem die projek 2016 UNISA Animators: For Creative Development of New Hope School.

Hoe het julle op die onderwerp besluit – vertel ons bietjie meer van die proses?
Ons wou werk met onderwerpe wat ook ander vakke kan bevoordeel, en in die algemeen die kinders help om te leer. Maggie het die gedigte saam met die taalonderwysers gekies. Ek help met die beplanningsvergaderings met Maggie en die Unisa-spannetjie. Ons kry die nodige harde- en sagteware om die werk te doen, deel die leerders in groepe op sodat elke groep die animasie doen vir ongeveer twee reëls van ‘n gedig. Die agtergronde word geskilder of met collage geskep, dan wys ons die kinders die animasietegnieke. Hulle skep dan die storielyn en maak storieborde, daar word stilfoto’s geneem en dié word in die animasieprogram ingetrek om ‘n animasiegreep te word. Dan doen ons die klank, neem dit op en inkorporeer dit in die finale produk. Daarna merk Maggie en die studente elke leerder, en die animasies word op ’n DVD gebrand. Die animasies sal gedurende saalperiode aan die hele skool vertoon word en daarna sal openbare vertonings hopelik gehou word.  Die studente en leerders kry almal sertifikate wat hul deelname aan die projek erken.

Hoe ver is julle met die hele projek?
Ons eerste vergadering is op 21 April gehou en ons het sedertdien al heelwat sessies gehad. Die animasies is byna klaar en ons sal die klanklaag in die laaste week van Augustus doen.

Gestel Atterbury stel Nuwe Hoop se skoolkunsdepartement aan met ‘n blanko tjek om op enige plek in Pretoria ‘n stuk openbare kuns op te rig… wat sou dit wees en waar sou julle dit installeer?
Ons sou ’n animasiefilm aanmekaarsit wat in dokters se wagkamers of in hospitale vertoon kan word. Dit kan op ’n skerm of ’n monitor teen die muur gewys word. Daar is altyd kinders wat saam met ouers wag in sulke plekke. Ons kan die animasies wat in 2014 geskep is, byvoeg om ’n groter verskeidenheid materiaal te hê. Dit sal meer kinders aanmoedig om animasie onder die knie te kry en dis ook ’n geleentheid waar kultuur ontwikkel kan word. In Brittanje gebruik hospitale kunstenaars om projekte en muurskilderye aan te bring en dit help regtig om pasiënte op te beur. So ons sou ’n komitee stig wat die projek kan bestuur, met studente en leerders wat onder die leiding van ’n professionele persoon sal werk. Ons sou dit kon begin by die Intercare-kliniek by Glenfair winkelsentrum.