Die Atterbury beursprogram is nie net vir skoolverlaters nie. Ons gesels met twee jong uitblinkers wat vanjaar eers by ons aangesluit het nadat hulle vir ‘n paar jaar self die mas moes opkom.

Carli Loubser1Pretorianer Carli Loubser is ‘n derdejaarstudent in BSc Sportwetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch.

Hoe het dit gebeur dat jy eers in jou derde jaar by Atterbury se beursprogram aangesluit het?
My ma het in die koerant gesien dat Atterbury Trust beurse toestaan vir behoeftige Afrikaanse kinders. As gevolg van ons omstandighede het sy my aangemoedig om dadelik aansoek te doen. Ek het ‘n ouer broer wat op Tuks studeer en my suster het ook vanjaar begin swot, so my ouers sou dit net nie kon bekostig om ons al drie se studiegeld te dek nie. As dit nie vir Atterbury was nie, sou ek nie vanjaar kon terugkom universiteit toe nie. Omdat ek so ver van die huis af swot het ek my ouers die duurste van ons al drie gekos…

Wat was jou plan B indien jy nie die beurs gekry het nie?
Ek sou moes bly in Pretoria en ‘n werk kry vir die jaar, en dan maar kyk of ek volgende jaar kon klaar swot. Dis hoekom my ma my so dringend laat aansoek doen het. Julle het verseker my lewe verander met hierdie beurs, en my die geleentheid gegee om my studies klaar te maak.

Hoekom het jy jou vakrigting gekies?
Ek is absoluut mal oor sport. Dit is ‘n groot passie van my, maar so ook is werk met mense, en Sportwetenskap laat my toe om die twee te kombineer. Dit is ‘n baie aktiewe rigting omdat mens baie sport doen tussen deur klasse.

Wat wil jy “eendag word”? Is dit wat jy wou word toe jy klein was?
Ek hoop om eendag ‘n kinderkinetikus te word. Toe ek klein was, wou ek graag ‘n dokter word. Ek het gedink dit is die beste beroep ooit, omdat jy dan mense kan help. Soos ek ouer geword het, het ek besef dit gaan vir my moeilik wees om ‘n dokter te word, maar met hierdie kursus het ek die beste van twee wêrelde gekry – ek kan mense help, en daar is sport betrokke, wat my eerste liefde is!

Wat was die grootste aanpassing tussen skool en universiteit?
Vir my was die grootste aanpassing beslis die hoeveelheid werk. Skool en universiteit kan nie eers vergelyk word nie, en mens word ook nie daarop voorberei op skool nie. Die werk word net soveel meer elke jaar … dis heeltemal anders as op skool. Maar dis so lekker om soveel nuwe mense te ontmoet, dit maak universiteit wonderlik. Stellenbosch gee mens soveel verskillende geleenthede om jou vriendekring uit te brei, hetsy in die klas of by ‘n wynfees.

Waar woon jy op Stellenbosch? Mis jy jou ouerhuis?
Ek was in my eerste en tweede jaar in ‘n privaat-koshuis. Dit was die beste twee jaar van my lewe. Ek het so baie nuwe mense ontmoet en so baie van myself geleer. Ek bly tans in ‘n woonstel saam my beste vriendin en dit is ongelooflik lekker. Ek mis my ma en pa verskriklik; hulle bly in Pretoria so ek sien hulle baie min. My ma se kos is een van die dinge wat ek die meeste mis vandat ek hier bly… my eie kos is nie naastenby so lekker nie! Niks kom by my ma se gekookte bord kos nie, veral haar soetpatats!

btyDonne Pistorius van Roodepoort is ‘n derdejaar BCom Ekonomiestudent aan NWU.

Hoe het jy by Atterbury uitgekom?
Ek het my vorige twee jaar betaal met ‘n studielening, en sou weer moes prober aansoek doen daarvoor. Daar was egter ‘n groot risiko dat die bank nie vanjaar die lening sou toestaan nie, want hulle vereis dat jy aan die begin van die jaar eers aansoek doen, en as dit dan nie werk nie, moet jy ‘n enorme hoeveelheid geld op baie kort kennisgewing bekom as jy wil aanhou studeer. So toe ek hoor van die beurs, het ek het onmiddelik aansoek gedoen! Ek is so dankbaar vir die beurs… julle het beslis die bekommernis en stres verlig!

En hoe het jy besluit op jou vakrigting?
Ek het al op hoërskool ‘n belangstelling in ekonomie ontwikkel. Toe dit tyd raak om ‘n kursus te kies vir, het ek bietjie opleeswerk gedoen en BCom Ekonomie & Risikobestuur het my oog gevang. Dis ‘n relatiewe wye veld, en risikobestuur is deesdae so belangrik in die korporatiewe wêreld. Dit het baie uitdagend geklink… net die rigting vir my!
.
Wat geniet jy die meeste van studentwees?
Ek is mal oor die uitdagings wat my studierigting my bied. Dit druk mens om te verbeter en om net daardie ekstra insette aan te pak sodat mens beter kan presteer.

Jy vang vanjaar graad. Wat is dan volgende?
Ek wil baie graag my honneursgraad ook voltooi, en daarna begin werk. Ek hoop om my kennis in my rigting uit te brei en my reputasie te vestig, sodat ek my naam eendag ook in koerante kan raaklees wat geskiedenis en deurbrake betref! Aangesien dit my finale jaar is, hoop ek ook om vanjaar by ‘n finansiële instelling te “shadow” om te sien hoe die praktyk in my veld werk en waarop ek nou moet begin fokus.

En watter raad het jy vir groentjies wat vanjaar begin swot het?
Ek sal sê leer hard, beplan mooi (tydsbestuur is baie belangrik!) en geniet elke oomblik daarvan – goed of sleg – want dis beslis die moeite werd!

Elke donateur se hulp maak dit vir ons moontlik om nog belowende studente te help om hul volle potensiaal te bereik. Om te skenk aan Atterbury Trust se beursfonds, kliek hier.

payfast