“Afrikaans dans op die note en lirieke van die FAK-Sangbundel. Om die FAK-Sangbundel met ’n splinternuwe baadjie uit te gee, getuig iets van die lewenskragtigheid van Afrikaans, veral in ’n tyd waar ons taal op vele terreine op die kantlyn geskuif word.” So sê Dr Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, op Maroela Media se webwerf.

Geslagte Afrikaanse kinders het met die FAK-Sangbundel in die huis en klaskamer grootgeword. Ou bekende FAK-liedjies is om dié rede vandag steeds gewild en verskyn gereeld op CD’s, soos die onlangse Afrikaanse volksmusiek-CD van Beeskraal en vriende.

Die klaskamer is die enjinkamer van Afrikaans en daarom het die FAK met die verskyning van Volume 2 groot hoeveelhede sangbundels gratis aan skole in Suid-Afrika en Namibië geskenk. Die gevolg was dat daar binne maande ’n behoefte ontstaan het vir ’n tweede druk wat kommersieel beskikbaar is. Dit het ook geblyk dat hersiening nodig was. Protea Boekhuis het onder leiding van redakteur Rentia Bartlett-Möhl die enorme taak aangepak van die omvangryke hersiening van FAK-Sangbundel Volume 2. Die gevolg is ’n uitnemende produk met ’n splinternuwe baadjie.

Jak de Priester vertel dat hy reeds op laerskool kennis gemaak het met die FAK-Sangbundel. “Ek kom my lewe lank saam met die FAK-Sangbundel. Tydens sangperiodes het juffrou Schoeman die Sangbundel oopgemaak, op die klavier gespeel en dan het ons saam gesing. Ek onthou liedjies soos ‘Al lê die berge nog so blou’, ‘Kolperd’, en so meer. En dit is hoekom mense van my generasie al daai liedjies nog ken.”

Volgens Langner is die FAK-Sangbundel sinoniem met Afrikaanse musiekerfenis. “Ons het grootgeword met die Sangbundel wat op ma se klavier gelê het, oor naweke het ons saam gesing aan ‘Aanstap Rooies’, ‘Sarie Marais’ en ander gunstelinge. Ons stap nie net ’n pad met die Sangbundel nie, maar so ook die Sangbundel met ons – dit het ons sedert 1979 tot vandag toegelaat om die room van Afrikaanse musiek te ontdek en bevorder. Deur aan kunstenaars erkenning te gee vir hul werk en dit bekend te stel aan die publiek, dra die FAK-Sangbundel by tot ’n kulturele skatkis vir die Afrikaanse musiekerfenis.”

Anton Goosen stem saam met Langner dat die FAK-Sangbundel deel is van ons Afrikaanse musiekerfenis. “Dit is moeilik om te sê watter liedjies is relevant, maar die FAK-Sangbundel is amper so dik soos die HAT, en ek sê dit nou, want hulle lê hier bo-op mekaar voor my. Dit is ’n belangrike erfenis, want oor 50 jaar is daar weer ’n hersiene weergawe met nuwe liedjies. ’n Taal en kultuur het nie grense nie, mense oor die hele wêreld vra vir my waar kan hulle die FAK-Sangbundel kry, selfs Afrikaners vanuit Engeland.”

Die liedjies in die tweede druk van die FAK-Sangbundel vervang nie die nostalgiese volksliedjies nie, maar maak ook plek vir van die bekendste musiek uit die pen van Afrikaanse musieklegendes oor die jare. Die nuwe kategorieë sluit onder meer in: immergroen en populêr, kleinkuns, kinderliedjies, geestelike liedjies, tradisionele liedjies; kunsmusiek en koormusiek. Die bundel bevat ook ’n rubriekindeling, ’n register van liedere se titels en eerste reëls.

“Chris Chameleon, Anton Goosen, Anneli van Rooyen, Coenie de Villiers, Laurika Rauch, Bok van Blerk en selfs die Heuwels Fantasties is van die kunstenaars wie se werk beskikbaar is in die FAK-Sangbundel Volume II, tweede druk,” vertel Langner.

FAK-Sangbundel Volume II, druk twee, is beskikbaar by Proetea Boekhuis en uitgesoekte boekwinkels.

Hierdie artikel het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn