Eens op ‘n tyd was Boereplaas ‘n gunsteling in Afrikaanse gesinne se speletjiekas, en toe het die gier oorgewaai en dit het in onbruik verval. Maar nou is dit terug, met ‘n pragtige nuwe baadjie, vertel Adéle Changuion op Maroela Media se webwerf

Die herlewing is te danke aan Nico Steyn, ʼn onafhanklike skrywer, wat tot die besef gekom het dat daar geen Afrikaanse bordspeletjies meer beskikbaar is nie en dat sy eie kinders nie iets soos Boereplaas het nie. “Die idee was om nie net vir my kinders nie, maar vir alle Afrikaanse kinders wat nie regtig speletjies het nie, iets terug te gee van toe ons jonk was.”

Families kyk deesdae eerder TV, en as hul speletjies speel is dit gewoonlik maar Engels, en in reaksie daarop wou Nico iets uit sy eie jeug laat herleef. Dit was sowat drie jaar gelede. Nadat hy besluit het op Boereplaas, omdat hy soveel goeie herinneringe daarvan het, was daar goed twee-en-’n-half jaar se administrasie en beplanning.

Dit lyk asof daar wêreldwyd ‘n tendens terug is na bordspeletjies, want, sê Nico, in Amerika en Europa het verkope in die die laaste tien jaar met 10% per jaar gegroei. “Daar is beslis ʼn mark daarvoor, al is ons ʼn bietjie agter hier in Suid- Afrika. Die reaksie wat ek kry, wys daar is heelwat belangstelling.”

Hy het wel in ag geneem dat vandag se kinders in ʼn tegnologiese era leef en nie noodwendig iets ondigitaal soos ʼn bordspeletjie sal waardeer nie, maar hy wou dit juis nie elektronies maak nie. “Ja, dis moeilik om tegnologie uit te daag, maar die bordspeletjie is ʼn alternatief vir al die digitale vermaak. Boereplaas is ʼn familie-ding en ek glo kinders sal aanklank daarby vind juis omdat hulle nie regtig bordspeletjies ken nie.”

Die nuwe Boereplaas is gemoderniseer, maar Nico sê hulle het probeer om soveel as moontlik van die oorspronklike spel se elemente te behou. “Die basis van die spel is dieselfde, maar daar is moderne problematiek en voordele.”
Die nuwe ontwerp is juis só gemaak dat kinders en volwassenes dit sal geniet en Nico meen dat dié speletjie nie net oor speel gaan nie. “Dis ook opvoedkundig – dit leer jou ondernemingsgees en die beginsel van wins en verlies. Dit verduidelik ook ʼn bietjie meer oor die plaaslewe en moedig boonop syfervaardigheid aan. “

Bestel die Boereplaas-bordspeletjie deur Maroela Media teen R320 (posgeld uitgesluit). Stuur ʼn e-pos na [email protected]. Die storie het oorspronklik hier verskyn: http://maroelamedia.co.za/blog/goeiegoed/goeie-nuus/fotos-boereplaas-bordspeletjie-kry-nuwe-lewe/