Nog ’n kerfie van Die Mes, deur Chris Chameleon

Nog ’n kerfie van Die Mes, deur Chris Chameleon

Hier volg deel twee van kunstenaar Chris Chameleon se storie oor Die Mes, wat hy vir Maroela Media geskryf het. Lees die eerste aflewering van die storie in drie dele hier: http://atterburytrust.org/chris-chameleon-die-mes/

 … en toe glip ek die knipmes in my kortbroeksak in en sluip kaalvoet, skoorvoetend by die kamer uit en gaan sit alleen onder die peerboom en wag vir die tannies om klaar te speel terwyl die namiddagson my rooi gesig nog warmer bak.

Terwyl ons deur die deftige voorstad verby die tennisbane en swembaddens in die geel Volksie na ons woonstelletjie op die tweede verdieping ry, voel-voel ek elke nou en dan aan die knipmes. Maar die vreemdste ding gebeur, dis amper asof die knipmes my in my sak brand. Tuisgekom is ek dadelik na my kamer toe, waar ek hom uitgehaal en bekyk het. Hy was nog pragtig, maar hy het onwelkom in my hand gevoel.

En daardie gevoel het nooit weggegaan nie. Die mes het ook ʼn plek gekry, onder in my eie seunsgoedlaai. Ek het hom ʼn paar keer uitgehaal om iets te kerf, maar die ding het my naar gemaak en dan moes ek hom weer terugsit. Ek kon geen genot uit die ding put nie, die ding het my aaklig laat voel.

Ek het die seun by wie ek die ding gesteel het nie te lank daarna nie raakgeloop. Hy het my beskuldigend aangekyk en direk, op die man af, gevra of ek sy mes gevat het. Ek het dit ontken.

Die mes het my bly koggel, elke keer wanneer ek my laai oopgetrek het. Hy het later ʼn plek heel agter, buite sig, in die laai gevind en nog later, toe ek dit nie meer kon verdra nie, het ek hom êrens doelbewus verloor. My geheue van my kleintyd is buitengewoon, ek merk dit telkens wanneer ek met ou skoolmaats oor vergange dae gesels. Maar om die een of ander rede kan ek glad nie onthou hoe ek die mes uiteindelik verloor het nie. Die gedagte, egter, die brandende gedagte aan hierdie mes het my so sterk bygebly dat, wanneer ek daaraan dink ek telkens daardie skaamte opnuut beleef het. Jare later, toe ek op my fiets deur die strate gery het om koerante af te lewer, kon ek nooit gemaklik verby hulle huis ry nie. Ek het ook nie ná die diefstal weer saam met my ma soontoe gegaan nie en my ma, vir redes wat ʼn kind nie sal verstaan nie, het nie te lank daarna nie ook opgehou om daar te gaan tennis speel …

Hierdie ganse, uitgebreide verhaal vertel ek vir my beminde op ons pad terug huis toe vanaf die kerk. En skielik, uit die bloute, so tussen die vertellery deur, pak ʼn ding my beet en ek vra haar of sy al ooit bo in die hoogste gebou in Afrika was. Sy sê nee en ek sit voet in die hoek Carlton-sentrum toe, in die middestad van Johannesburg, terwyl ek die res van die verhaal klaar vertel. Ons ry deur die vuil, verslonste strate, parkeer die kar en vang die hysbak op na die 50ste verdieping. Die uitsig is wonderlik, die dag weer lieflik en ek word bly as ek sien hoe my beminde straal. (Sy’s ʼn Namibiër en hulle ken daar nie sulke groot geboue nie!)

Terwyl ons oor die stad uitstaar, kom ʼn vrolike, fyngeboude dame direk op my afgepyl. “You are Chris Chameleon, no?” Haar aksent is swaar, Latyns-Amerikaans, en ek sou later te wete kom dat sy ʼn Brasiliaan is. “Yes,” antwoord ek, effe verbouereerd, effe geëerd.

“I love your music! I can’t believe I meet you here in this place now!” druk sy haar vreugde in gebroke Engels uit. “My husband, he know you. Here he come!”

Ek draai om en soos ʼn koue bak water tref een van die grootste en mees onwaarskynlike toevalle van my lewe my. Dis onwerklik, dit kan nie moontlik wees nie … Dit is hy! Die man, die seun, wie se knipmes ek gesteel het! (word vervolg)

Hierdie storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.

Leave a Reply