Die Nobelpryswenner JM Coetzee en die bekende Britse oud-diplomaat lord Robin Renwick, het onlangs hul steun verleen aan die Gelyke Kanse-veldtog om Afrikaans se gelyke status met Engels as onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch te behou, skryf Maroela Media op hul webwerf.

Die veldtog spruit uit pogings van die bestuurspan van die US om die universiteit te verengels. ʼn Dokument oor die voorgestelde taalbeleidsverandering, wat verlede November deur die span uitgereik is, is kort daarna weens wydverspreide openbare teenstand deur die US-Raad gerepudieer. Op 21 Maart het die bestuurspan egter ʼn nuwe konsep-taalbeleid in effens veranderde vorm uitgereik, sonder dat hulle die Raad se voorskrif oor ʼn taalkomitee gevolg het en ook nie oorleg gepleeg het met AfriForum nadat ʼn hofskikking in hierdie verband bereik is nie.

Adv. Jan Heunis, woordvoerder van die veldtog, sê die groep kry positiewe terugvoering van ʼn wye verskeidenheid mense en groepe wat teen die afskaal van Afrikaans gekant is. “Die veldtog kry dwarsoor Suid-Afrika en uit die buiteland ondersteuning vanweë die relevante grondwetlike kwessies van menseregte, gelykwaardigheid en veeltaligheid wat groot belangstelling uitgelok het,” het hy gesê.

Coetzee, die bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer wat deesdae in Australië woon, en Renwick, voormalige hoë kommissaris in Suid-Afrika wat in Londen woon, tel onder honderde mense wat reeds die beswaarskrif by Gelyke Kanse onderteken het.

ʼn Aansoek van Afriforum Jeug om ʼn interdik teen die US om die proses te stuit is intussen tot 19 Mei 2016 uitgestel.

Skerp kritiek teen die voorgestelde nuwe taalbeleid is onder andere uitgespreek deur die skrywer Breyten Breytenbach, wat ʼn groot aandeel in die nuwe veldtog het. Die universiteit het laat blyk dat ‘n reaksie later sal volg.

Die storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn. Vir meer inligting oor die veldtog, besoek die Gelyke Kanse-veldtog se webwerf (http://gelykekanse.com/).