Afrikaans is so ’n dinamiese taal en dié van ons wat hom praat, sal weet dat daar gedurig nuwe woorde geskep word. Party is so eksoties dat dit mens ’n tydjie vat om uit te werk wat dit beteken, en dan kan jy lekker giggel vir die kreatiwiteit van Afrikaans se woordguru’s. Dink maar aan “goeterjasies” vir “gadgets”; “wolkpos” vir Whatsapp en ander sosiale kommunikasiemiddels; “potgooi” vir “podcast” en “kieriekorting” vir pensioenaris-afslag.

Dis hoekom VivA,  die Virtuele Instituut vir Afrikaans, betrokke geraak het by ’n splinternuwe inisiatief genaamd Varsgebek, om ’n geleentheid te skep waar nuwe woorde, gesegdes en idiome voorgestel kan word vir opname in ’n amptelike woordeboek. ’n Kompetisie met heerlike pryse is aangekondig om voorstelle aan te moedig, en die beste nuwe sêgoed kan selfs opeindig in die HAT, WAT of AWS.

En dit gaan ook oor meer as net woorde – Varsgebek is ook op soek na Kykgoed, en daarmee bedoel hulle visuele uitbeeldings van idiomatiese woorde. Wys hulle met ’n foto, illustrasie, animasie of video wat in jou geestesoog opkom as jy gesegdes soos “vloermoer”, “polisiekoffie” of “tong in die kies” hoor, en jy kan pryse soos tablette, selfone, geskenkbewyse en meer wen.

Atterbury Trust is soos altyd trots om betrokke te wees by die uitbou en behoud van ons moedertaal, en borg dan ook ’n baie spesiale toekenning vir skole. Leerders in graad 11 of 12 wat inskryf in die Kykgoed-kategorie staan ’n kans om ’n Atterbury Trust studiebeurs van R150 000 los te slaan vir verdere studie in enige studierigting by enige naskoolse opleidinginstansie van sy of haar keurse.

“Ons fokus is altyd op opvoeding, en dit is ’n voorreg om die Varsgebek-konsep, wat klaar so lekker inpas by alles waarvoor ons staan, ook die spin van verdere studie te gee,” sê Atterbury Trust se uitvoerende trustee, Zahn Hulme. “Ons beursprogram is gemik daarop om talentvolle, hardwerkende, behoeftige studente te help om hul studiedrome waar te maak, en ons glo vas dat ’n belegging in die volgende generasie se opvoeding ’n belegging in ons land se toekoms is.”

Die wenner se skool sal boonop R10 000 kontant wen, en die onderwyser wat die weninskrywing ingestuur het, wen ’n R5 000 wegbreeknaweek.

Van die oulike inskrywings wat reeds ontvang is, sluit in:

Velle sleep” – koffie of ander vloeistof opslurp, ingeskryf deur Gerda Uys

“Vaste klip” – ’n honderdrandnoot, ingeskryf deur Sebastian Arnolds

“Vol angel wees” – moeilik of kwaai wees, ingeskryf deur Marianne Marais

“Donkiedood” – partytjie (die Namas van Namaland slag dikwels ’n donkie as hulle fees vier), ingeskryf deur Frikkie Sutherland

“Hy gaan met vakansie en sy hare is al ingepak” – hy is bles, ingeskryf deur Ria van Wyk

“Die e-pos is gestuur” – die koeël is deur die kerk, ingeskryf deur Werner van Vuuren

Die Varsgebek-kompetisie loop nog tot einde November en daar word maandeliks wenners aangewys uit die inskrywings wat reeds ontvang is.

Om meer uit te vind oor die kompetisie en hoe om in te skryf, besoek http://viva-afrikaans.org/varsgebek/kompetisie

 

Loader Loading...
EAD Logo Taking too long?

Reload Reload document
| Open Open in new tab

Laai PDF af [663.62 KB]