Hoërskool Nelspruit se nuwe kultuur- en veeldoelsentrum is Woensdag 7 Junie 2017 amptelik en op ‘n feestelike wyse ingebruikgeneem met optredes deur Coenie de Villiers en die Charl du Plessis Trio.

Byna 400 vriende van die skool het die geleentheid bygewoon en is verras met skouspelagtige verhoogeffekte en die gelui van die klok as seremoniële inwyding om die voltooiing van hierdie droomprojek te vier. Musikale items deur NHS-leerders het van die talent in die skool ten toon gestel. Die aand is met Coenie se ou gunstelinge en klavierspel afgerond terwyl Charl se trio met hul opgewekte en moderne styl beïndruk het. ‘n Hoogtepunt van die vertoning is ‘n spesiale weergawe en verwerking van Coenie se “Karoonag” begelei deur die trio.

Die bou van die sentrum asook die nuwe Astro-hokkieveld en nuwe B-rugbyveld spruit grootliks uit die skool se mees onlangse “fiesta”-jaar (NHS hou elke vyf jaar – dus een keer in ‘n leerder se hoërskoolloopbaan – ‘n grootfondsinsamelingsprojek) se inkomstes te same met groot rolspelers soos die Trust vir Afrikaanse Onderwys, Atterbury Trust en die breë skoolgemeenskap.

Deur nuwe en modern fasiliteite soos dié word NHS se kapasiteit op buite-kurrikulêre gebied verhoog. Dit strek direk tot voordeel van die leerders en sal hulle in staat stel om op ‘n hoër vlak  teen stadskole mee te ding en te presteer.

Die kultuur- en veeldoelsentrum huisves ook ‘n daghuis vir die veilige versorging van kinders wat smiddae na skool geen heenkome het, todat hulle ouers hulle laatmiddag kom haal nie. ‘n Goed toegeruste kafeteria is ook hier ingerig, sodat ouers oor ‘n veilige wag-area beskik vanneer hulle kinders aan buitemuurse aktiwiteite deelneem. Hier is ook voorsiening gemaak vir ‘n klerewinkel waar skool- en sportklere aangeskaf kan word. Die groeiende getal leerders wat aan ‘n wye verskeidenheid kultuuraktiwiteite deelneem, het die oprigting van ‘n kultuursentrum wat hulle behoeftes aanspreek, genoop. Vir hierdie doeleinde sluit die gebou onder andere ‘n dansstudio, kunsstudio asook ‘n klank-opnamefasiliteit in. Verder is ‘n museum ingerig ten einde die indrukwekkende spore van herinnering aan alumni, soos onder andere die Hertzogpryswenner Chris Barnard, die gevierde skrywer Marita van der Vyfer, en Springbokke Duane Vermeulen en Werner Kok, te bewaar.

Die argitektuur van die gebou gee ook ‘n meer morderne aanslag tot die skool en ‘n keramiekklip-kunswerk deur oud-Nellie kunstenaar Anton Bosch wat aan die buitekant van die gebou aangebring is, simboliseer die verskillende fasette van NHS en onder andere die voorstelling van ‘n palmtak wat sentraal staan soos in ons leuse, Palmam Qui Meruit Ferat en dus verwys na die Nellie wat dit waardig is om die palmtak te dra. Wat dit so spesiaal maak is dat sy seun Sias Bosch, ook ‘n oud-Nellie op die argitektuur-span van Gerhard Jooste die gebou ontwerp het.

Die beeldhouwerk van Arend Eloff pronk ook buite die gebou in die vorm van ‘n prag swartwitpens (sinoniem met NHS se wapen) wat deur die matriekgroep van 1983 onder leiding van mnr. Piet van Dyk geskenk is.

NHS-leerder Karina Oosthuizen (gr.12) wat ook elemente vir die uitnodigings en program van die aand ontwerp het, het ook van haar werke op die aand uitgestal. Leerders soos sy sal in die toekoms van die fasiliteit kan gebruik maak vir kunslesse.

Die kultuursentrum is ook die middelpunt om vanjaar se boeke-program tydens Innibos. Dit is die tuiste van die ATKV Boeke-Oase, die nuwe Kinder Boeke-krôl asook verskeie boekbesprekings. Die digkuns-animasieproduksie, Filmverse 2 gaan ook hier te siene wees terwyl RSG ook saam gaan kuier vanaf die kultuursentrum.

“Ons spreek ons opregte dank uit aan alle rolspelers: NHS-leerders, die skoolgemeenskap, Atterbury Trust en die Trust vir Afrikaanse Onderwys wat aan hierdie lang gekoesterde drome vlerke gegee het,” sê dr. Louis Swanepoel, hoof.

  • Dr. Louis Swanepoel (hoof) wat die projek geïnisieer en gelei het tree dan einde Junie uit as hoof by NHS om voltyds sy aandag aan die SAOU te gee as president. Mnr. Johan Hattingh neem oor as waarnemende hoof totdat daar ‘n permanente aanstelling gemaak word.
  • Die doel van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) is om Afrikaanse onderwys te ondersteun en te bevorder onder andere met behulp van ‘n vennoot, die Atterbury Trust wat op sy beurt homself met die doelwitte van die Dagbreek Trust en TAO assosieer en graag hul kundigheid deel met die doelstelling om aan Afrikaanse skole vlerke te gee.