Die oorhandiging van die Teresa Lister-toekenning is altyd ‘n geleentheid waarna Atterbury uitsien, en vanjaar was dit ‘n besondere plesier om hierdie trofee te oorhandig aan Tshephisho Somo van Potgietersrus. Die toekenning is vanjaar in sy sesde jaar, en is deur Atterbury tot stand gebring ter ere van ‘n gewaardeerde kollega wat in 2009 oorlede is in ‘n motorongeluk. Teresa was Atterbury se regsadviseur en die trofee word elke jaar by die prestasiefunksie van Tukkies se regsfakulteit toegeken aan ‘n vroulike finalejaarstudent uit ‘n behoeftige agtergrond wat soos Teresa ‘n akademiese uitblinker met ‘n sterk sosiale gewete is.

Geluk met die prys. Wat beteken dit vir jou dat jy gewen het?
Dit laat my woordeloos dat ek gesien word as iemand wat selfs net ‘n geringe ooreenkoms met Teresa Lister het. Dit laat my meer geïnspireer, gemotiveer en bekwaam voel. En dit het weer vir my bewys dat as mens vasberade, gefokus en passievol is, is niks onmoontlik nie, en ek is een stappie nader aan my doelwitte danksy julle ondersteuning. Ek belowe dat ek my bes gaan probeer om dieselfde te doen vir ander jong Suid-Afrikaners.

Het jy al gedink waarop jy jou prysgeld gaan uitgee?
Die geld sal help met my studentefooie. Dis ‘n las van beide my en my pa se skouers af want nou kan ek meer tyd op my studies bestee omdat ek nie deeltyds hoef te werk nie.

Vertel ons van jou agtergrond?
Ek het in Mokopane, Limpopo grootgeword en in 2012 aan Hoërskool Piet Potgietersrus gematrikuleer. My ma is oorlede toe ek 11 was, so my pa het ons drie kinders van toe af grootgemaak. My pa is die mees uitsonderlike mens wat ek ken. Hy het so baie opgeoffer sodat ons die beste weergawes van onsself kon wees. Ek werk altyd hard omdat ek heeltyd dink dat ek nie my pa gaan ontneem van sy welverdiende reg om te sien hoe ek die mens word wat God voorbestem het nie. Ons het baie swaargekry as ‘n familie, geldelik en emosioneel, maar ons het tog ook iets oorleef wat ons gedink ons nie sou kon nie, so ek weet dat daar selfs in die donkerste oomblikke uitkoms kan wees.

Hoe het jy by Tukkies uitgekom, en wat is vir jou die lekkerste van studentwees?
Ek het net by UP aansoek gedoen, omdat my opleeswerk my oortuig het dat UP se regsfakulteit een van die bestes in die land is. Die lekkerste omtrent studentwees is die onbeperkte geleenthede wat ons kry om ons volle potensiaal te bereik. Ek sien daagliks die waarde van my talente, en die impak van my vaardighede op ander mense se lewens. En deur mense van soveel verskillende agtergronde en etnisiteite te leer ken het my baie insig gegee in die Afrika- en die internasionale gemeenskap.

Wou jy van kleinsaf ‘n regsgeleerde word?
Ek wou nie altyd ‘n prokureur word nie, nee. Ek onthou ek wou ‘n sekretaresse word, maar dit was net omdat ek gefassineer was deur ‘n outydse landlyn-telefoon! Die begeerte om ‘n prokureur te word het ontwikkel nadat my ma oorlede is. Sy wou altyd in regte ingaan, maar haar omstandighede het dit nooit toegelaat nie. Hoe meer ek met my pa oor haar gepraat het, en deur haar persoonlike besittings gegaan het, hoe meer het ek begin deelneem aan debatte en toespraak-kompetisies by die skool. Dít het my weer laat besef hoe groot die behoefte aan sosiale geregtigheid is, en toe het dit vir my duidelik geword dat God wil hê ek moet ‘n prokureur word.

Wie of wat inspireer jou? Het jy ‘n rolmodel?
Baie mense inspireer my – so baie, op verskillende maniere, so hierdie is nie al nie, maar…
Isaac Somo, my pa. Die lewe het al handgranate na hierdie man gegooi en hy staan steeds. Wanneer dinge regtig moeilik gaan en wanneer ek bang raak, dink ek aan my pa en alles waardeur ons is; en dan besef ek dat ek enige uitdaging kan oorkom.

Sonja Yonehara, voormalige president van die Afrika-Unie Studente-alliansie. Sy het die hoogste vorm van dissipline en professionaliteit wat ek nog ooit teëgekom het. Ek het besef hoe belangrik dit in ‘n leier is omdat dit so ‘n groot rol speel by die beplanning van enige taak.

Curtis Richardson, die voormalige tesourier van die Afrika-Unie Studente-alliansie.  Hy inspireer my omdat hy nooit soos so baie studente moeg of ontmoedig word deur die baie werk en die uitdagings op ons pad nie. Curtis is ‘n dromer, maak nie saak wat nie – sy idees is altyd groter as wat moontlik lyk op die oomblik, en hy droom altyd dat ons meer tot ons beskikking het. Dit het hom in staat gestel om groot funksies uit te voer en belangrike borge vir die Alliansie te kry.

Wat is jou planne na jy einde vanjaar graad vang?
Ek was so gelukkig om aanvaar te word by Adams & Adams om my artikels te doen. Dis waarheen ek volgende jaar gaan en ek moet bieg, ek is effens bang, maar ook baie opgewonde oor hierdie nuwe reis wat voorlê!

Jy het genoem dat jy die jeug wil bemagtig, Wat dink jy is die grootste behoefte en hoe sou jy graag betrokke raak?
As ‘n mens na die Suid-Afrikaanse samelewing kyk is dit baie duidelik dat geweld teen vroue hoogty vier. Daarom glo ek dis belangrik om verder te gaan as om net jong vroue in te lig oor hulle regte. Jong mans moet ook betrokke wees by die proses. As ons ‘n samelewing wil hê waar vroue net so veilig soos mans is, sal ons sulke gelykheid van jongsaf onder kinders moet kweek, en die boodskap sal in alle klas- en rasgroepe verkondig moet word. Ek is klaar besig hiermee – ek doen op die oomblik navorsing oor Afrika-feminisme. Die organisasies waaraan ek behoort hou debatte en werkswinkels oor Suid-Afrika se verkragtingkultuur en ons beplan ‘n uitreik-program by die Afrika-Unie-Studentealliansie wat hoërskoolleerders oor hierdie verskynsel opvoed.

Thuli Madonsela het by jou prysuitdeling opgetree as gasspreker. As jy vir ‘n maand in har professionele skoene kon staan, waarop sou jy fokus as Openbare Beskermer?
Advokaat Madonsela is ‘n ware woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse demokrasie. As ek die kans gehad het, sou ek fokus om die dienste van hierdie kantoor toegankliker te maak vir die minderbevoorregtes. Ek sou mense onmiddelike toegang gee tot die Openbare Beskermer, wat natuurlik sou beteken dat meer hulpbronne nodig sou wees.

Waar sien jy jouself oor 10 jaar?
Op persoonlike gebied hoop ek om teen dan iemand te wees wat mense beter verstaan. Ek hoop ek sal meer insig en begrip hê. Ek wil bowenal nederig bly, mense vertroue gee in hul vaardighede, en ek wil lewens help verander. Ek wil die persoon wees wat my suster se studies betaal as sy nie ‘n beurs sou kry nie, en ek sou so graag my pa sien rus en alles doen wat hy nog altyd wou sonder kommer oor geldelike beperkings. Op professionele vlak weet ek dat ek teen die tyd dat ek 32 is, ‘n vennoot sal wees by Adams & Adams; ek sal reeds minstens twee boeke geskryf het oor Afrika-feminisme, en minstens een oor Suid-Afrikaanse Administratiewe Reg.

Die verhaal agter die toekenning
Die hele Atterbury Trustspan was baie hartseer toe ons kollega Teresa Lister  in Desember 2009 in ‘n motorongeluk oorlede is. Sy was ‘n gewaardeerde lid van die span, en iemand wat haar waardes en sterk sosiale bewustheid baie sigbaar uitgeleef het en almal om haar geïnspireer het.

Om haar lewe te vereer het Atterbury kort daarna die Teresa Listertoekenning begin, om jaarliks hulde te bring aan ‘n buitengewone student wat dieselfde waardes as Teresa uitleef. ‘n Trofee en ‘n R20 000 kontantprys word elke jaar by UP se regsfakulteit se prysuitdeling toegeken aan die veelsydigste vroulike finalejaar-regstudent aan Tukkies.

Wat die toekenning ekstra spesiaal maak is dat Teresa se wewenaar, Bruce, van die begin af elke jaar betrokke is by die paneel wat die wenner aanwys.

Die trofee self, geskep deur die hoogaangeskrewe beeldhouer Angus Taylor, is ook baie besonders omdat dit verskillende aspekte van Teresa se betekenisvolle lewe simboliseer, van haar regsgeleerdheid tot haar morele inbors. Taylor het die basis van die trofee gemaak van die hout van die Swazi oordeelsboom, wat volgens Swazi-tradisie gebruik is om mense wat van misdade aangekla is se skuld te bepaal. ‘n Beskuldigde sou van die boom se bessies moes eet, en as hy beswyk het, is dit gesien as ‘n bewys van sy skuld. Die bessies, alombekend as Boesmansgif, was blykbaar uiters giftig.

Bo-op die houtbasis is ‘n skerf van die hardste en digste graniet was in Suid-Afrika beskikbaar is, wat Teresa se onwrikbare morele inbors simboliseer. Die bondel takkies kom van die Vaderlandswilgerboom, en is groen gekleur om ‘n jong boom te simboliseer.