Moenie dat jou kommentaar op sosiale media die melk suur maak nie, skryf Hannes Noëth op Maroela Media se webwerf

Gereeld het die twee rye kanne so gestaan – dit was nie ’n vreemde gesig nie: Die een ry was melkkanne en die ander roomkanne. Die room en melk was netjies van mekaar geskei en gereed vir weggeneem deur die melktrein.

Op die plattelandse Vrystaatse stasies was die wegry van hierdie melkkanne en roomkanne ’n algehele bekendheid. Vandag het die room- en melkkanne versamelstukke geword. Hulle word mooi geverf en verbrons en soms vol blomme geplant. Elke melk- en roomkan verswyg soveel stories uit gister se dae.

Dit is by hierdie rye kanne wat so gestaan het wat daar ’n Vrystaatse sêding ontwikkel het. Soms het hulle sommer met ’n tannie gespot, soms was daar ’n knypie by die spot, soms was dit eerlik bedoel maar in ’n grap gesê. Wanneer iemand voordurend gekla het en oordryf het, aangegaan het en sommer net moeilik was is gesê: “Sy moenie nou by daardie kanne verby loop nie, die melk sal suur word.” Of soms is dit andersom gebruik, dan het die melk bietjie lank in die son gestaan en suur geword, dan is daar gesê: “Hierdie of daardie het alweer by hierdie kanne verbygeloop, proe net hoe proe die melk.”

So is gespot in vergange se dae, maar daar het tog baie waarheid in gesteek. Party mense kan darem maar rêrig suur wees. So suur, dat ’n mens sou glo hulle sal die melk suur maak as hulle daar verby loop.

Hulle kla en niks is net ooit reg nie. Dit is voortdurende kritiek die kant toe en dan weer daardie kant toe. Met ’n vergrootglas word gesoek na redes hoekom dit nie maar ’n bietjie goed kan gaan nie, hoekom ’n mens moet kla. Vandag is ’n melk- en ’n roomkan ver van ons bestaan.

Ons Facebook en Twitter en sosiale media dag vir dag. Goeie kommunikasie, maar let ’n bietjie op: Sjoe, ons ou nasie kan darem maar kla. As ’n mens moet begin voorbeelde noem sal jy nooit ophou nie. Dit voel partykeer of daar vir elke tien negatiewe dinge darem een mooi ding gesê word.

Lees die volledige rubriek hier: http://maroelamedia.co.za/blog/goeiegoed/n-vrolike-uitkyk/