Atterbury alumnus en voormalige Tukkie Heindrich Paul het verlede jaar die geleentheid gehad om Indië te besoek. Hy deel sy reisdagboek met ons…

“Op 2 September 2014 het ek die voorreg gehad om in Indië aan te kom vir ’n besoek van ’n volle maand, vir my werk by Standard Bank. Ons bestemming was Bangalore of soos dit in Indië bekend staan, Bangaluru, in die staat van Karnataka. Dis in die suide van Indië en een van die grootste stede in die land. Die rede vir ons besoek was hoofsaaklik vir opleiding vir Standard Bank.

“Wat ’n ervaring! Gedurende die maand het ek baie nuwe en vreemde goed ervaar en gesien. Van die kos en die gewoontes tot hoe die mense daar vervoermiddels gebruik en rondreis was ’n belewenis en heeltemal anders as wat ons hier gewoond is…

“So byvoorbeeld het die spyskaart in die spoghotel waar ons tuisgegaan het, nie net vir middag-en aandete kerrie aangebied nie, maar ook vir ontbyt! Tuk tuks is die hoofvervoermiddel, en hulle is nie baie vinnig nie, so dit kan maklik ’n uur neem om net 10km ver te reis. Ek was verstom om in die middel van die hoofweg spoedbulte te sien…

“Om enigiets te koop het jy omtrent ‘n meestersgraad in onderhandeling nodig, want selfs in gewone winkels moet jy met die verkoopsmense onderhandel vir alles om ‘n beter prys te kry.

“Wat die werk betref het ons baie nuwe en opwindende goed geleer. Ons is getoets oor alles wat ons geleer het, en met die taalverskil en die direkte vertalings in die vraestelle was dit nogal soms ‘n uitdaging! Ek het dit darem vining baasgeraak en het dit reggekry om vir die maand ‘n gemiddeld van 98 persent te handhaaf. Ek was die top student in die kursus.

“Maar dit was darem nie alles werk en klaskamers nie; ons is op verskeie besigtigingstoere geneem. Ek het veral die een na Mysore, wat in ook in Karnataka-staat sowat 150km van Bangalore geleë is, geniet. Dis die derde grootste stad in die staat en bekend vir sy paleise. Die 150km het ons byna vier-en-’n-half uur geneem in ‘n toerbus, maar die tempels en die ongelooflike mooi Mysore Paleis het dit beslis die moeite werd gemaak.”

“Op pad het ons gestop by ’n paar interessante dorpies langs die pad om te sien hoe mense daar leef – fassinerend! Ons het onder andere ‘n sywurmmark besoek, waar papies in massas verkoop word. Hulle het ons gewys hoe die papies verwerk word na sy – wat natuurlik een van Indië se groot uitvoerprodukte is. Die land is bekend vir tekstiele, nie net sy nie, maar ook katoen, en hulle maak die mooiste klere met handgeweefde tekstiele vna die hoogste kwaliteit.

“Watter raad het ek vir iemand wat na Indië toe wil reis? Belangrikste is seker, wees geduldig, want 20km is baie ver! Om na die naaste winkelsentrum te gaan, neem jou maklik twee uur! Maar dit was regtig ‘n belewenis, en Indië is beslis op my lys van plekke om weer te besoek. Daar is so baie om te sien!”