Die spreekwoord sê, “It takes a village to raise a child.” So skryf Adéle Changuion op Maroela Media se webwerf oor die mense agter Echo jeugontwikkeling, wat landwyd kyk na kinders wat nie ander heenkome het nie.

Op die hoek van Pierneef en 24ste Laan in Villieria is daar ’n koffiewinkel met die naam van Grounded at Echo. Ek bestel ’n rooibos-cappuccino en verkyk my aan al die mense. Dit voel amper asof dié klomp mekaar ken – die kelner groet ’n klant op die naam en hulle gesels soos ou vriende.

Ek ontmoet Marionette Venter, wat voorgestel het dat ons mekaar hier kry. Sy groet vriendelik en maak haar dadelik tuis. Marionette is ’n maatskaplike werker en kantoorbestuurder by Echo-jeugontwikkeling. Dis nie toevallig dat hierdie organisasie en die koffiewinkel albei die woord “echo” gebruik nie. “Hierdie plek is die venster van Echo-jeugontwikkeling,” sê Marionette, en klink amper soos ’n trotse ma.

Nadat sy ’n chai latte bestel het, vertel sy my van dié organisasie. Echo-jeugontwikkeling is ’n alternatiewe omgeegemeenskap wat huisvesting gee vir jong mense tussen 14 en 24 jaar. Die stigter, Jaco Strydom, het aanvanklik gefokus op berading in skole, maar gou besef dat dié jong mense se omstandighede tuis die ware probleem is. Die behoefte aan ’n veilige hawe is verwesenlik met Echo se eerste huis in 23ste Laan. Daar is tans verskeie huise in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad en omstreke.

Elke huis huisves ongeveer tien kinders en vier mentors. Die doel van die mentors is nie net om te help met alledaagse dinge nie, maar hulle is ook daar vir emosionele bystand en leiding. Echo het ook kommunes vir jong volwassenes wat klaar is met skool en reeds werk of studeer. Die kommunes het ook mentors wat dié jonges probeer lei en help ontwikkel. Marionette sê dat Echo nie ’n welsynsorganisasie is nie, maar ’n gemeenskap en familie. “Ons is daar in slegte én goeie tye.”

Ek word voorgestel aan ’n vriendelike meisie met ’n groen poniestert. Willemien Rheeder is 27 en werk in die koffiewinkel en vervul ook die rol van mentor of “huis-ma” in een van die Echo-huise. Sy beaam dat dit ʼn groot verantwoordelikheid is om na soveel kinders om te sien.

“Gelukkig het ons ʼn groot ondersteuningsbasis – daar is soveel mense wat betrokke is, ouer mense by wie ons raad kan vra,” sê sy, en vertel ook van die verbintenis tussen Echo en Grounded at Echo. Die eienaars van dié pragtige koffiewinkel is David en Karolien van Berkel, wat mekaar self in een van Echo se kommunes ontmoet en later getroud is. Hulle het saam dié organisasie, Grounded at Echo, help ontwikkel. Die koffiewinkel is soos “die kombuis in ’n huis, die plek waar die gesin kuier,” verduidelik Willemien. Die Echo-huise is nie almal naby mekaar nie, daarom word die koffiewinkel ook gebruik vir kuiers en vergaderings.

So tussendeur ontmoet ek nóg ’n lid van die Echo-familie. Natalie Liebenberg, ’n maatskaplike werker, vertel hoe kinders deel raak van hierdie ontwikkelingsprogram. Volgens haar is daar nie regtig plek vir kinders bo die ouderdom van 14 jaar in Suid-Afrika se kindersorgstelsel nie. Kinderhuise se fokus lê op jonger kinders en pleegouers neem nie graag tieners in hul huise nie. Echo vul dus ʼn leemte, maar ongelukkig kan hierdie organisasie ook net soveel kinders hanteer. “Ons hou kinders op ʼn waglys en probeer ander reëlings tref vir dié wat ons nie kan help nie.” Vir hierdie maatskaplike werker is dit ʼn bitter pil om te sluk as ʼn kind weggewys moet word. “Dit los jou nooit nie, ek wonder gereeld wat met daai kind gebeur.”
Ná nog twee (heerlike) cappuccino’s, was dit tyd vir my om te gaan. Met die rit terug huis toe, dink ek weer oor my gesprek met drie merkwaardige mense. Elkeen het dit duidelik gestel dat daar baie mense betrokke is by hierdie organisasie. Wat sê die gesegde? “It takes a village to raise a child.”

Echo verwelkom ondersteuning in enige vorm: debietorders, klere, kos en skryfbehoeftes. Hulle kort ook vrywilligers vir hul kinderbediening. Jy kan selfs ’n kind borg elke maand. As jy betrokke wil raak by Echo-jeugontwikkeling, besoek hul webwerf by www.echoyouth.co.za (http://www.echoyouth.co.za) of stuur ʼn e-pos na [email protected]. Hierdie storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.