’n Tweede kans

’n Tweede kans

Daar is altyd ’n tweede kans, en wat jy daarmee doen, kan jou lewe verander. Dit is die les wat een van ons inspirerende beursstudente, Maritza Schoerie, in haar eie lewe geleer het. Haar kinderjare is in moeilike omstandighede deurgebring, sy het jonk ma geword en destyds sonder matriek as skoonmaker begin werk. Vandag is sy ’n onderwyseres wat die volgende generasie help bou terwyl sy self nog verder swot om kinders met spesiale behoeftes te help. Sy deel haar storie van aanhou droom, hard werk en tweede kanse.

Hoe het jy van toilette skoonmaak tot by onderwys uitgekom – wat het jou gemotiveer om aan te hou ondanks al die struikelblokke?
Ek is in Pretoria gebore, maar het vir die meeste van my laerskooljare in die Vrystaat gebly; dit was swaar jare. Ek het ma geword toe ek baie jonk was, en het destyds nie skool klaargemaak nie. In ‘n tyd toe my man vir agt maande weg was, moes ek self die mas opkom en het toilette skoongemaak by die Booysens Beertjies kleuterskool. Ek het die mense van Beyers Bytjies in Danville leer ken en die geleentheid gekry om daar te begin werk as ‘n assistent in die kleuterskool se klaskamer. Omdat ek vir myself en my gesin ‘n beter lewe wou gee, het ek begin oplet hoe die juffrouens werk. Ek het die kans gekry om myself te bewys en ek het vir die kleintjies begin klasgee. Uiteindelik het ek my matriek geskryf, op 31, en vandaar af het ek ‘n opvoedkundegraad begin swot deur Unisa, danky Atterbury Trust se hulp. Ek het onlangs my B.Ed grondslagfasegraad verwerf en is nou besig met ‘n honneurs in “Special Needs”, ook deur Unisa, terwyl ek skoolgee by Laerskool Tuinrand. Nou bly ek en my gesin in ons eie huis in Daspoort.

Is daar een lewensles wat jy geleer het wat jou lewe verander het?
Ek het ‘n paar. Die lewe is swaar, maar as jy val, moet jy dadelik opstaan. Jy kan alles doen as jy in jouself glo. En belangrikste is om nooit moed op te gee nie en vas te klou aan die Here. Niks is onmoontlik nie, en jy as ‘n mens kan baie struikelblokke oorwin as jy net glo in jouself en in die Here.

Nie almal het ewe veel geleenthede nie, maar dis ‘n gawe om ’n geleentheid raak te sien en daarop te reageer sodat jy die meeste daarvan maak. Hoe het jy dit in jou lewe ervaar?
Ek het werklik self ervaar dat daar nog goeie mense is wat die beste in ‘n mens sien. En dit het my positief beïnvloed sodat ek nou ‘n positiewe mens is wat ook net die goed in alle mense sien. Ek glo in tweede kanse…

As iemand wat nou kinders se lewensuitkyk help vorm, watter insigte is vir jou belangrik om oor te dra aan die jonger generasie wat voor jou op die skoolbanke sit?
Ek wil vir kinders leer dat elkeen van hulle baie spesiaal en uniek is. Dis belangrik dat kinders verstaan dat hulle moet hulp soek en praat as iets hulle pla, en ook, dat hulle besef dat elkeen van hulle ‘n werkie hier op aarde het, en dat God hulle geskape het met ‘n doel. Alles is oorwinbaar, maak nie saak of dit ‘n siekte, kanker of enige ander struikelblok nie.

Jy is nou besig met ‘n honneurs in onderwys van kinders met spesiale behoeftes. Hoekom het jy spesifiek hierdie fokusrigting gekies?
Ek het besoek afgelê by Via Nova-skool vir kinders met spesiale behoeftes, toe ‘n klein meisietjie na my toe loop, my hand vat en aankondig dat sy vir my ‘n liedjie wil sing. Dit was nogal ewe “Jesus loves me”. Só ‘n positiewe mensie! Ek het my hart verloor in daardie skool en dit het my laat besef dat sulke engele gestuur word om mens meer bewus te maak van wie jy is en wat jy in staat is om te doen.

Wou jy van kleinsaf ‘n onderwyseres word? Het jy self ‘n gunstelingonderwyser/es op skool gehad; en watter rol het hy of sy gespeel in jou lewens- en beroepsbesluite?
Nee, snaaks genoeg het ek as kind gedroom om in die bak-bedryf te werk, dalk omdat ek sulke moeilike kinderjare gehad het. Maar op laerskool het ek ‘n wonderlike juffrou gehad wat landloop afgerig het. Sy het vir my gesê dat my planne en die Here se planne nie dieselfde sal wees nie, en dat ek maar net Sy planne moet volg… en hier is ek nou vandag self ‘n onderwyseres!

Het jy ’n mentor, en wat beteken hy of sy vir jou?
Ja, ek tel Leonie van Grolife en Louise van Atterbury Trust as mentors. Hulle is op my pad gestuur toe die pad baie onduidelik en so vol trane was. Danksy hulle en Atterbury Trust is ek waar ek is en ek sal altyd dankbaar wees.

Wat is vir jou die moeilikste deel van jou werk?
Dit is hartseer om te werk met kinders wat geestelik en fisies mishandel word. Dit voel vir my of ek nie genoeg liefde vir hulle kan gee nie. Ek raak vinnig geheg aan die kindertjies in my klas en wil vir hulle altyd net die beste gee.

As jy die minister van opvoeding was en beleid kon opstel vir Suid-Afrika se onderwys, wat sou jy as prioriteite aangepak het?
Ek sou aandring op gratis kleuterskool-onderrig. En ek sou ‘n program begin wat terapeute permanent beskikbaar stel vir leerders met leer-stoornisse.

As jy ’n bydrae kan maak aan Atterbury Trust se beursfonds, doen dit gerus – met jou deelname kan ons meer belowende studente help om hulle studiedrome waar te maak. Jy kry ’n belastingvoordeel vir jou bydrae, en iemand wat sy of haar lewe wil verbeter, soos Maritza, kry die nodige bystand. Kliek hier om te skenk.

Leave a Reply