Die Triomfkliniek, breinkind van ’n groep groothartige medici van Pretoria, word vandeesmaand met die hulp van die Atterbury Trust uiteindelik ’n werklikheid. Van nou af het Pretoria-Wes se behoeftiges makliker toegang tot gesondheidsorg, vertel Zahn Hulme, uitvoerende hoof van die trust.

Waar kom die idee vir die kliniek vandaan?

Die idee vir die Triomfkliniek is gebore deur ’n groep medici en lede van die sakewêreld, insluitend die Atterbury Trust, wat die kritieke tekortkominge in gesondheidsorg vir die minderbevoorregte inwoners van Pretoria-Wes as ’n knellende behoefte geïdentifiseer het. Twee van die betrokkenes is die voormalige voorsitter van die verpleegsustervereniging Iris Roscher, wat al jare betrokke is by mediese dienste in die Pretoria-omgewing; en Ria le Roux, vroeër jare direkteurgeneraal van basiese gesondheidsdienste.

So hoekom ’n kliniek?

Ons was bewus daarvan dat hoewel daar goeie dokters in die staatshospitale is, is die infrastruktuur onder soveel druk. Administrasie is toenemend in ’n warboel sodat dit geweldig lank neem vir ’n pasiënt om in die stelsel te kom sodat hy of sy geholpe kan raak. Baie behoeftige Afrikaanssprekendes sukkel om by behoorlike gesondheidsorg uit te kom en die Triomfkliniek is ’n poging van die gemeenskap om self ’n oplossing daarvoor te vind. Die trust het begin saamwerk met ’n groep dokters wat hul dienste gratis beskikbaar wou stel, asook ’n paar ander belangegroepe en uiteindelik is daar plan gemaak. Op 23 Julie het die Triomfkliniek uiteindelik sy deure vir pasiënte in Pretoria-Wes oopgemaak. Die kliniek se leuse sê dit alles: “Uitnemende sorg met waardigheid”.

Hoekom die naam Triomf?

Dit het simboliek in die Afrikanergemeenskap en sê iets van opheffing, uitstyg bo omstandighede en die verleen van hulp.

Wat is die grootste nood in Pretoria-Wes?

Deur ons betrokkenheid by die kleuterskool in Pretoria-Wes is die Atterbury Trust ook bewus van wat die behoeftes in die minder gegoede families is – deur die kinders weet mens gou wat die drukkende kwessies in die gemeenskap is. Die gebrek aan maklike toegang tot dokters en mediese aandag is iets wat werklik impak maak op mense se lewens.

Hoekom die fokus op kinders en bejaardes?

Ons het gevoel hulle is die weerloosste en sukkel die meeste om hulp te kry.

Hoe kwalifiseer iemand as ’n pasiënt vir Triomfkliniek?

Die kliniek is nie ’n instapfasiliteit nie; almal wat daar behandel word sal moet verwys word deur een van die organisasies wat betrokke is. Dis almal organisasies wat binne die gemeenskap werk, so mense wat binne daardie hulpstrukture betrokke is, sal tot die kliniek toegang kry.

Waar het mense vroeer gegaan? Wat is beskikbaar vir hulle in die area?

Daar was op ’n tyd ’n kliniek in Danville, maar dit het gesluit en tans is die mense van Pretoria-Wes aangewese op die twee staatshospitale in die stad – die Steve Biko Akademiese Hospitaal en die Kalafong Hospitaal. Dis ver vir mense wat nie toegang tot persoonlike vervoer het nie en die prosessering van pasiënte is oneffektief, so mense staan in toue vir dae en word van Pontius na Pilates gestuur voordat hulle gehelp word. Die Triomfkliniek beoog om dit te verander. Pasiënte sal byvoorbeeld vinniger ’n verwysingsbrief van ’n dokter kry om gouer by die regte spesialis uit te kom.

[gdlr_styled_box content_color=”#ffffff” background_color=”#88b9ed” corner_color=”#00438b” ]Luister na stemme uit die gemeenskap

 

 

 

 

 

 

 

[/gdlr_styled_box]

 

Hoe werk dit?

Pasiënte sal verwys word deur die deelnemende maatskaplike organisasies. Dit sluit in die Atterbury Trust; CMR, SA Vrouefederasie, Kansa, MediaKidz Stigting, Lions Charity Group Pretoria Lynnwood en talle aktiewe liefdadigheidsorganisasies in die onmiddelike omgewing. Die voltydse klinieksuster sal die kliniek beman en die afsprake maak en so word die behoefte bepaal waarvolgens die dokters daar sal wees. Daar is vir nou drie dokters en waarskynlik ’n aantal studentedokters van Tuks mediese skool, wat op ’n roterende basis daar sal wees. Daar is ’n apteek waar sekere medisynes beskikbaar is en as die probleem meer aandag nodig het as wat by die kliniek gegee kan word, soos byvoorbeeld ’n heupvervangingsoperasie, sal die dokter die verwysingsbrief skryf wat die pasiënt in die regte hande sal besorg by een van die staatshospitale.

Watter dienste word aangebied?

Dis ’n dagkliniek, so vir nou geen prosedures wat oornagobservasie nodig het nie; basiese mediese sorg soos vir verkoue, griep en infeksies; tandheelkunde, dermatologie en pediatrie. Daar sal daagliks algemene praktisyne wees en spesialisklinieke op voorafbepaalde tye. Mettertyd dalk ook maatskaplike en ander dienste.

En al die dienste word aangebied deur dokters wat hulle tyd skenk? Wie is hierdie engele?

Dr Marc Roscher is die stigterdokter – hy is ’n dermatoloog en die stigterspresident van die SA Raad vir Dermatologiese Snykunde. Hy woon in Umhlanga, maar sal byvoorbeeld een keer per maand vir ’n spesialiskliniek opkom en dan mense sien wat geidenfiseer is in voorafgaande weke.

Professor Steve Rossouw, ’n spesialis internis wat praktiseer by Steve Biko Hospitaal en ook klasgee by Tuks. Van sy studente sal gemeenskapsdiens by die kliniek doen.

Dr Tommie Swart , ’n algemene praktisyn van Centurion.

Dan sal daar die klinieksuster wees, wie se salaris deur die Atterbury Trust gesubsidieer word, en wat die dag-tot-dag kontakpersoon by die kliniek sal wees.

Hoeveel pasiënte beoog Triomfkliniek om per maand te behandel?

Minstens 500 mense per maand, en as ons meer hande kry in die vorm van die studentedokters en wanneer daar spesialisklinieke gehou word, heelwat meer.

Is daar enigiets interessant omtrent die ligging van die kliniek?

Die kliniek is eintlik deel van die ouetehuis Margaretha Ackerman Tehuis op grond wat aan die SA Vrouefederasie behoort. Deel van die tehuis is ’n volledig- toegeruste kliniek. Omdat hulle nog nooit in die finansiële posisie was om dit as ’n kliniek te bedryf nie, is dit aangewend om pasiente met Alzheimer se siekte en demensie te huisves. Die tehuis was so ruimhartig om dit aan die Atterbury Trust beskikbaar te stel as kliniek teen ’n nominale huurfooi, en daar is selfs sprake dat ons in die toekoms meer van die eiendom sal kan ontwikkel en gebruik as ’n behoorlike gemeenskapsentrum.

Mediese dienste is vreeslik duur; hoe gaan dit aan die gang gehou word? Word alle toerusting ook geskenk?

Die Triomfkliniek is baie afhanklik van die goedhartigheid van mense en organisasies. Omdat die Atterbury Trust ’n nie-vir-winsorganisasie is, betaal ons baie min huur; die dokters gee hulle dienste gratis; en ons het ’n ooreenkoms met Dis-Chem om medisyne teen lae pryse aan ons beskikbaar te maak.

Van die dokters het toerusting geskenk, maar daar is nog steeds behoefte aan sekere toerusting/meubels, en daar is natuurlik maandeliks lopende onkostes, so ons doen ’n beroep aan die publiek om te help met skenkings.

Het julle spesifiek behoefte aan sekere soorte toerusting? Hoe kan mense help?

Daar is ’n lysie van noodsaaklikhede (sien onder) en enige hulp is baie welkom. Om uit te vind hoe om skenkings te doen of andersins betrokke te raak, skakel die Atterbury Trust, 012 471 1600 of die Triomfkliniek by 012 327 7818. As ’n nie-vir-wins organisasie gee Atterbury Trust donateurs die geleentheid om ’n tasbare praktiese bydrae te lewer en terselfdertyd BEE-krediet te verdien deur ’n Sosio-Ekonomiese Ontwikkelingsertifikaat.

Ons is ook by SARS geregistreer as ’n Publieke Voordeelorganisasie (public benefit organisation of PBO) en kan skenkers van ’n Artikel 18A belastingsertifikaat voorsien.

 

[gdlr_styled_box background_color=”#00498f” corner_color=”#000000″ ]

[gdlr_icon type=”icon-hospital” size=”60px” color=”#ffffff”] [gdlr_icon type=” icon-h-sign” size=”60px” color=”#ffffff”] [gdlr_icon type=” icon-ambulance” size=”60px” color=”#ffffff”] [gdlr_icon type=” icon-medkit” size=”60px” color=”#ffffff”]

[gdlr_space height=”25px”]

[gdlr_heading tag=”h3″ size=”24px” color=”#ffffff” font_weight=”bold”]TOERUSTING BENODIG[/gdlr_heading]

• Verskeie mediese toerusting bv X-straal-masjien, bloeddrukmeters

• Meubels: ondersoekbed, drie dokterstoele, twee lessenaars, stoel en lessenaar vir personeelvertrek, wit bank en stoele

• Buitemeubels: weerbestande tafel en stoele

• Kombuisitems vir personeel – eetgerei ens.

• Rekenaar met internetkonneksie en wifi

• Skryfbehoeftes

• Laserdrukker/kopieerder/faksmasjien

• PABX foonstelsel met ontvangs en uitbreidings

• Groot yskas

• Vensterblindings vir alle vensters

• Twee ruim kluise vir sekuriteit

• Klerehake vir dokters en pasiënte

[/gdlr_styled_box]