Dit is vir Atterbury ’n groot vreugde om terug te ploeg in die gemeenskap van Pretoria. Ons het ’n groot behoefte onder skole in Pretoria-Wes geidentifiseer, veral die Afrikaanse skole wat minimale  staatsondersteuning ontvang.  Laerskool Generaal Beyers is een van die skole wat al vir baie jare onder ons vleuel is, en ons gee elke jaar ’n skenking wat aangewend kan word waar die behoefte die grootste is.  Skoolhoof George Parker vertel van die terapiekamer wat met verlede jaar se skenking ingerig is.

Hoe lank is jy reeds skoolhoof by LGB en hoe het jy by die skool uitgekom?
Ek is hoof van Laerskool Generaal Beyers sedert Januarie 2014. Ek het baie jare by die Distrikkantore gewerk en in 2009 (April) het ek aansoek gedoen vir die adjunkhoof-pos en was suksesvol.

Hoeveel kinders is in die skool, en wat is hulle huislike omstandighede?
Ons het tans 1 265 kinders in die skool waarvan ongeveer 25% vrystelling ontvang vir betaal van skoolgelde. Ons gee daagliks vir ongeveer 250 kinders kos. Daar is slegs 50% van ouers wat die R430 skoolgeld per maand wel kan bekostig. Ons maak geweldig staat op skenkings om ’n goeie diens aan leerders beskikbaar te stel.

Ons kinders is aan die onderpunt van die sosio-ekonomiese grafiek en beleef ongelooflike armoede en maatskaplike probleme. Ons het ’n hoë getal enkelouers wat geskei is of nooit getroud was nie, en ook geweldig baie kinders wat by oumas en oupas grootword of by ooms en tannies. Saamgestelde huise is ook volop. Baie van die kinders in ons skool bly in Wendyhuise wat in mense se agterplase opgerig is. Die uitdaging van die maatskaplike probleme is feitlik onhanteerbaar en die skool kan nie alleen die probleme na waarde aanspreek nie weens tekorte aan fondse en personeel.

Sedert wanneer is Atterbury by die skool betrokke, en wat beteken dit vir die skool?
Atterbury Trust is sedert 2003 by ons skool betrokke en gee ’n jaarlikse skenking wat ons gebruik om ’n impak op leerders se lewens te maak. Hierdie geld word nie gebruik vir algemene uitgawes nie; ons probeer dit spandeer aan projekte wat die lewens van leerders verbeter. Sonder die Trust se bydrae sal ons definitief ’n ondergemiddelde diens aan die gemeenskap lewer, so danksy Atterbury het die weerlose leerders ’n kans tot oorlewing.

Hoe besluit julle waarvoor die skenkings aangewend word?  
Sedert ek hoof geword het, het ons besluit om die ouers se bydraes te spandeer aan akademie en sport. Alle ander skenkings wil ons gebruik om die weerlose leerders te help om weer die lewe in die oë te kyk en dit met selfvertroue te kan doen. Dus identifiseer ons projekte waarvoor hierdie fondse dan gebruik word.

Hoekom het julle besluit op ’n terapiekamer, en wanneer het julle dit ingerig en begin gebruik?
Ek het die geleentheid ontvang om die METT groep se werksaamhede te sien deur ons eie skoolsielkundige, Kobus Venter, en dit het die droom laat ontstaan om dieselfde diens by ons skool te vestig. Dit het egter terapiespasie geverg en baie geld as ons wou aanbou. Ons adjunkhoof. Mnr. Lombaard, het met ’n blink plan vorendag gekom wat ons min sou kos vir die nodige kamers. Die oomblik toe die Atterbury Trust se R59 000 skenking inbetaal is, het ons met die projek begin, in Oktober 2015. Die kamers is in Januarie 2016 voltooi en die METT sentrum kon hulle werksaamhede begin in ’n pragtige omgewing. In 2016 is die diens dus volledig geimplimenteer en maak ons nou ’n verskil in ongeveer 600 leerders per jaar met individuele en groep-terapie.

Hoe word die terapiekamer nou aangewend? Hoeveel kinders gebruik dit weekliks? Is daar ’n voltydse terapeut?
Daar is vier vertrekke wat gebruik word. Ons het weekliks ongeveer 50 – 100 leerders wat gebruik maak van die fasiliteite. Daar is drie student-terapeute, een maatskaplike werker, ’n gekwalifiseerte terapeut asook ’n voltydse gekwalifiseerde opvoedkundige sielkundige. Dis ’n ongelooflike voorreg om so baie hulp by die skool te hê. Daar is geen ander arm skool in Pretoria wat hierdie dienste van ons kan ewenaar nie. Ander skole wat sulke dienste lewer is baie meer gegoed. Ek kan met alle eerlikheid sê ons verrig wondere met dit wat ons ontvang. Maar dis te danke aan Atterbury Trust; sonder hierdie borgskap sal ons nie hierdie  ondersteuningsplan aan die minderbevoorregte leerders kon bied nie.

Watter verskil maak die terapiekamer aan die leerlinge se lewens?
Die terapiekamers is vir ons weerlose leerders soos ’n toevlug tot hulp. Dit verteenwoordig hoop, liefde en aanvaarding. Dit is die plek waar hulle hulself kan wees sonder om geoordeel te word. Hulle sien die kamers as hulle plek van veiligheid by die skool. Dit is die plek waar stukkende kinders weer heelgemaak word en waar verlore kinders weer hulle pad vind. Dit is die plek waar hartseer verwerk word en ’n pad na geluk gevind kan word.  Hierdie plekkie is belangriker as enige kantoor in die skool. Nie eers die hoof se kantoor is belangriker as hierdie vertrekke nie.

Laerskool Generaal Beyers verwelkom skenkings. As jy graag wil skenk of wil uitvind wat nodig is, skakel die skoolhoof, George Parker, by +27 12 386 9067, of epos [email protected]