’n Teatermens in murg en been

’n Teatermens in murg en been

Kunstenaar, feesbestuurder, skrywer, regisseur… Alexa Strachan is ’n vermaakmens in murg en been en ’n gereëlde medewerker by die Atterbury Teater. Haar nuutste projek, die splinternuwe produksie van Koöperasiestories, kom dan ook volgende maand voete natmaak in Pretoria. Ons het gaan gesels met hierdie vuurwarm kampvegter vir die kunste

Hoekom is jy opgewonde oor Koöperasiestories? Gee vir ons jou top drie redes hoekom almal ’n kaartjie moet koop vir die speelvak in Atterbury Teater…
1) Die hele KKNK-gehoor kan mos nie verkeerd wees nie, of hoe? Ons is baie dankbaar dat ons pas die tweede top-verkoper by die Klein Karoo Naionale Kunstefees was. Nogal ’n prestasie vir teater – dis dikwels eerder die musiekproduksies wat die grootste gehore trek.
2) Dis ’n uur se wegbreek, ontspan en lag dat die trane rol vir die hele familie. Ek dink almal van ons kan doen met momenteel ontvlug van ons daaglikse realiteit vol spanning en kommer.
3) Selde sal jy weer die kans kry om te sien hoe divers sekere akteurs werklik is. Mense glo byvoorbeeld nie altyd dat Margit Meyer-Rödenbeck iets anders as Dowwe Dolla kan wees nie. Nie een van die akteurs speel net een rol nie, en hulle speel ook oor die geslaggrense heen. Om vir Marion Holm byvoorbeeld as beide Mietie en Oom Botes te sien, is ’n belewenis.

Wat was jou eerste produksie by die Atterbury Teater en hoe het jy destyds by die teater uitgekom?
My pa het altyd gesê dit gaan nie oor by watter bank jy is nie – dit gaan oor jou verhouding met jou bankbestuurder. Ek dink dit geld oor die algemeen: Mens het nie verhoudings met ’n instansie nie, jy het verhoudings met mense. Ek en die hoog aangeskrewe musiekregisseur Matthys Maree stap al jare lank ’n pad. Atterbury Teater voel vir my soos my “tuisteater”. Wanneer jy produksies daar opvoer, voel jy veilig, want vanaf Paulette voor in die foyer, tot by Allewyn agter by die klank en ligte weet jy almal werk hulle oor ’n mik ten einde ’n professionele sukses van die konsert te maak. Hulle dra ook hul teatergangers / kaartjiekopers op die hande – iets wat werklik belangrik is, soos met elke besigheid. Deesdae strek my verbintenis met Atterbury ook natuurlik weier – ek werk gereeld saam met die Atterbury Trust: watter voorreg om ook betrokke te wees by Versnit, hul groot jaarlikse fondsinsameling vir behoeftige student by Rust in Vrede in Stellenbosch.

Vertel ons kortliks van jou eie vermaak-agtergrond? Jy is by soveel verskillende aspekte van vermaak en die kunste betrokke, wat is jou gunsteling?
My diversiteit is uit nood gebore: die teaterbedryf is baie klein, en baie moeilik. Hoe meer jy jouself dus diversifiseer, hoe beter is jou kanse om brood op die tafel te kan sit. Ek het nie geswot in my rigting nie, so ek moes leer soveel ek kon. Dankie tog vir mense soos Sandra Prinsloo en PG du Plessis wat so 20 jaar gelede die bietjie talent, maar baie dryf raakgesien het, en my onder hul vlerke geneem het. Sonder dié twee ikone sou ek nie ’n loopbaan gehad het nie. Terloops: Sandra is ook Koöperasiestories se regisseur.

Ek sien myself so ’n bietjie as ’n Jack of all trades, but master of none. Ek is nie die land se grootste skrywer/sanger/akteur/vervaardiger nie, maar ek kan myself handhaaf op al hierdie terreine. My gunsteling sal altyd verhoogakteur bly – niks kom by die adrenalien en dobbelspel van voor ’n lewendige gehoor optree nie, jy het altyd net daai een kans.

Was jy nog maar altyd ’n performer? Kan jy een van jou eerste herinneringe van jouself op ’n verhoog deel? ’n Gunsteling herinnering en dalk een wat jy liewer wil vergeet!
Seker maar: my eerste “groot” rol was as 12-jarige, toe ek vir die destydse PUK dramadepartement een van die kinders in Sound Of Music gespeel het.
Een van my oorlewingstegnieke is om so gou moontlik te vergeet van die slegte: die kere wanneer jy die tyd van die optrede verkeerd het, jou mede-akteur hoog op een of ander iets is, jy in ’n motorongeluk is oppad na ’n uitverkoopte vertoning, jou hengse produksie se stel nie by ’n fees opdaag nie en jy in plaas van slaap die vorige nag nuwe stelstukke bou en verf… hoeveel tyd het ons?
Aan die hoogtepuntkant sal die groot fondsinsamelingskonsert wat ons destyds in die Aula vir Mathys Roets na sy motorfietsongeluk gehou het, altyd uitstaan: die hele gehoor wat spontaan opstaan en net aanhou klap en klap toe ek vir Mathys die verhoog ophelp, was ’n spirituele ervaring sonder weerga.

Jou man, Pieter Lombaard, is ’n rolprentmaker – wat is die voordele en nadele van ’n huis waar kuns die broodwinner is? Is julle kinders ook by die kunste betrokke?
Sjoe, ja. Die voordele is dat ons mekaar se humeure, sensitiewe ego’s, druk en vreemde werksure werklik verstaan. Die nadele is ons humeure, sensitiewe ego’s, druk en vreemde werksure. Ons poog om wanneer die een aan ’n groot projek werk, die ander een te laat afskaal, maar dis nie altyd moontlik nie. Verder doen ons ons bes om die vier kinders uit die bedryf te hou, ons hoop eerder vir boekhouers, ingenieurs, loodgieters of onderwysers. Ons het egter ongelukkig nog nie daarin geslaag nie, wonder hoekom nie?!

Jy en Sandra Prinsloo is beste vriendinne en julle werk gereeld saam. Wat was tot dusver vir jou die hoogtepunt van wat julle saamgedoen het? Kan jy ’n staaltjie deel?
Ek en Sandra stem saam dat ons verwerking van Dalene Matthee se Susters van Eva ons beste werk nog was. En dan is daar natuurlik ook Oskar en die Pienk Tannie, maar ek mag nie te veel krediet daarvoor neem nie, daar ek bloot aan die vervaardigingskant gestaan het, en nie te veel kreatiewe bydraes tot daardie (na my mening) na aan perfekte stuk teater gemaak het nie.
Wat staaltjies betref… ek geniet dit steeds om Sandra te herinner aan die keer wat haar selfoon midde  ’n verskriklike teer oomblik van ’n show kliphard gelui het; en die keer wat sy oppad Malmesbury toe was vir ’n optrede wat in Melkbosstrand was…
Die wonder van ons verhouding wat na soveel jare hou, lê in die feit dat ons mekaar se integriteit en goeie bedoelings as ’n gegewe aanvaar, en mekaar se foute en oortredings oombliklik vergewe en vergeet.

Jy is ook die feesbestuurder van Aardklop, wat mos sy naam sou verander het, en toe nie het nie? Vertel ons meer? Waarna kan ons vanjaar uitsien?
Aardklop is vroeg in 2016 na 17 jaar uit die bloute en tot groot skok vir die hele land se kuns- en kultuurlandskap summier gestop. Aardklop is weens sy geografiese ligging en tyd in die kalenderjaar van onontbeerlike belang vir die breë kunste-landskap. Daar was dus te veel op die spel, en daarom het belanghebbendes soos kykNET, die ATKV, NWU Puk en die Potchefstroomse gemeenskap saamgespan om binne vier (!) maande hierdie nasionale bate te laat voortleef. Ek is gevra om as feesbestuurder te dien. Ons het die haas onmoontlike verrrig, en Aardklop 2017 suksesvol aangebied. Om ’n kunstefees van hierdie skaal en omvang volhoubaar daar te stel, bly ’n groot uitdaging. Ons is ’n klein span, maar bitter vasbeslote. Vanjaar se program word tans gefinaliseer, so ek kan nie te veel sê nie. Wat ek wel kan belowe, is dat feesgangers vanaf 2 tot 8 Oktober net soos verlede jaar ’n fees sal bywoon waar daar letterlik iets sal wees vir elkeen: vanaf “groot kuns” tot lekker vermaak. Mense wat beplan om te gaan moet gou speel met verblyf – die dorp raak reeds vol.
 
Koöperasiestories speel van 18 tot 21 Mei by die Atterbury Teater. Kaartjies kos R150 en R175 en is te koop by Computicket.

Leave a Reply