Met sy leuse “Laat Jou Lig Skyn”, leef Laerskool Generaal Nicolaas Smit in Claremont die beginsels van naastediens behoorlik uit, en alles te danke aan die toewyding van ’n skoolhoof met ’n droom, Chris Sealie.

Een van die bevredigendste aspekte van Atterbury Trust se werk in die gemeenskap is om te doen te kry met ’n organisasie of ’n individu wat ook gemik is daarop om mense te help, en wat daadwerklik ’n verskil maak in die lewens van diegene wat minder het as hulle. Chris Sealie is die skoolhoof van Laerskool Generaal Nicolaas Smit in Claremont, Pretoria en hy werk al 18 jare onvermoeid om sy skool ’n hawe te maak vir die behoeftiges van die omgewing.  Hoewel die 84-jarige laerskool een van Pretoria se behoeftigste skole is, is dit meer as net ʼn plek waar leerders kom vir lesse in lees en skryf: daar is ook ʼn voedingskema om honger kinders se magies te vul, asook gesondheidsdienste wat gratis gehoorapparate vir behoeftige ouers verskaf, en baie meer.

Met die beplanning tans aan die gang om ’n volledig ingerigte gemeenskapsentrum in Booysens te vestig, is dit baie waardevol om met ’n goeie laerskool in die omgewing kragte saam te span, verduidelik Atterbury se Zahn Hulme. “Die gemeenskapsentrum sal ’n na-skoolse fasiliteit insluit waar kinders kan kom huiswerk doen onder toesig, en ons verwag dat heelwat van Genl Nicolaas Smit se leerlinge hiervan sal kan gebruik maak.”

“Lank voordat ons die Triomfkliniek op die been gebring het, het Mnr Sealie se skool reeds gepoog om geselekteerde gesondheidsdienste aan te bied vir mense wat nie mediese sorg kon bekostig nie,” sê Me Hulme. By die skool se Eleosfees verlede jaar is onder andere oogtoetse en gehoortoetse gratis aangebied deur Tukkies se mediese fakulteit. Tien mense het gehoorapparate ontvang terwyl ander verwys is, en danksy ’n borgskap van Atterbury kon die onderwysers 3 000 maaltye bedien aan die mense wat gekom het om die fees te ondersteun.

Volgens Mnr Sealie doen die nabygeleë Daspoortkliniek uitstekende werk, maar die nood is steeds baie groot. “Dis nie altyd vir mense moontlik om reeds vanaf halfses in die oggend in rye te gaan staan om eers teen tienuur gehelp te word nie,” verduidelik hy. “Baie van hierdie ouers het geen inkomste nie of hulle werk vir ’n dagloon van R150 wat hulle verloor as hulle eerder kliniek toe gaan…” Die skool beoog om ook deel te word van die verwysingsnetwerk wat mense na die Triomfkliniek kan stuur.

Die verbintenis tussen Atterbury en Genl Smit strek ook dieper: vyf van Atterbury se huidige beursstudente is tans assistentonderwysers by die laerskool, en hulle Unisaklasgelde en boeke word deur die Trust geborg. “Hierdie studente kom self uit moeilike omstandighede en sou nie sonder die beurshulp verder kon studeer nie,” sê Mnr Sealie. “Die belegging in hulle toekoms beteken dat hierdie jongmense weer ander kinders se lewens sal verander, en ons is Atterbury geweldig dankbaar hiervoor.” Baie van die assistentonderwysers het self in die gemeenskap grootgeword, en swaar grootgeword, vertel hy, en die geleenthede wat hulle danksy die beurse kry, maak van hierdie studente rolmodelle vir die kinders van Genl Nic Smit. “En rolmodelle is so belangrik in so ’n gemeenskap… dit wys vir die kinders dat daar hoop is, dat jy ondanks swaar omstandighede jou drome kan verwesenlik… en so verander Atterbury nie net ’n student se lewe nie, hulle verander ’n nageslag.”

Die skool se gemeenskapsdiens sluit in ’n voedingskema, geborg deur Affies, waarmee 230 leerders daagliks ’n maaltyd kry, in baie gevalle die kind se enigste gebalanseerde maaltyd van die dag, vertel Mnr Sealie. “Ons is tans besig met ’n program waarmee ons die meer vermoeënde skole in Pretoria-Oos verbind met behoeftige skole in die weste, sodat ’n skool wat kan, een wat min het, kan help,” verduidelik die dinamiese hoof.

Met die hulp van borge soos Atterbury, Morgan Group of Companies, Eleos en nog baie ander word daar ook by geleentheid skoolskoene, komberse, gebruikte klere en blikkieskos aan die kinders en die gemeenskap verskaf . Die skool bied ook sielkundige en tandheelkundige dienste aan, en gee jaarliks die leerders die geleentheid om weg te gaan op kampe waar hulle lewensvaardighede aanleer. “Wat ons doen is om ons kinders se behoeftes te identifiseer en dan daarin te voorsien, ons wil hê hulle moet gekwalifiseer word sodat hulle kan uitstyg bo hulle omstandighede en terugploeg in hul eie gemeenskap. Dis ons droom, en met genade van bo, en met die hulp van organisasies soos Atterbury, kan ons ’n verskil maak. Ons is so dankbaar.”

Laerskool Generaal Nicolaas Smit verwelkom skenkings. Vir meer inligting oor wat die nodigste is, skakel 012 379 2232.