Die Teresa Lister-toekenning lê die Atterbury Trust-familie na aan die hart, omdat dit ons nou al vir agt jaar elke jaar ‘n geleentheid gee om met vol harte terug te dink aan ons geliefde kollega wat in 2009 in ’n motorongeluk oorlede is. In Teresa se naam vereer ons elke jaar die veelsydigste vroulike finalejaar regstudent aan die Universiteit van Pretoria – juis hierdie veld omdat Teresa Atterbury se regsadviseur was en ons haar nalatenskap eer. Vanjaar se ontvanger, Tshepiso Mathole,  het onlangs die trofee en prysgeld van R20 000 by ʼn prestasiefunksie van Tukkies se regsfakulteit ontvang. Ons het dié dinamiese uitblinker ’n bietjie beter leer ken.

Wat beteken die Teresa Lister-toekenning vir jou?
Nadat ek gehoor het hoe mooi en met hoeveel waardering Mnr. Lister oor sy ontslape vrou Teresa gepraat het, is dit vir my só ‘n eer om hierdie toekenning te ontvang. Ek is geseën dat die Atterbury Trust my gesien het as die beste kandidaat om haar etos as vrou te verteenwoordig: dinamies, met ‘n sosiale gewete en vol lewe. Hierdie toekenning is ʼn belegging in my toekoms. Ek sal die geld gebruik om myself te finansier vir volgende jaar as ek my leerlingklerkjaar voltooi. Dis ‘n wonderlike meevaller, en sal my help om die finansiële las op my familie te verlig.

Hoekom het jy regte as jou vakrigting gekies?
Ek het regte geswot omdat ek dit geniet om te debatteer en ook om voor mense te praat. Ek wou iets doen waar ek albei my passies kon gebruik. Min het ek geweet daar is veel meer as net daardie twee aspekte betrokke! Maar ek is mal daaroor.

Is daar een aspek van regte waarin jy sal wil spesialiseer?
Ek dink daaraan om in mediese reg te spesialiseer. Daar is soveel mense in hierdie land, soos ʼn familielid van my, wat slagoffers is van mediese nalatigheid, en wat sukkel daarmee om die dokters tot verantwoording te roep. Ek het al gesien hoe stresvol dit vir mense is en watter uitdagings oorkom moet word. Ek wil help en dit probeer verander.

Het jy ‘n rolmodel in die regsveld?
Daar is verskeie vroue in die internasionale regswêreld wat ek bewonder, veral  Professor Thuli Mandonsela, ons voormalige Openbare Beskermer wat nou aan Stellenbosch Universiteit se regsfakulteit verbonde is;  en die staatsaanklaer in die OJ Simpson-saak, Marcia Clark. Albei van hulle inspireer my omdat hulle vreesloos en taai is, en getrou aan hulself bly in ʼn professie wat deur mans gedomineer word.

Is daar iets omtrent die plaaslike regstelsel wat jy voel verbeter kan word?
Beslis mediese reg, spesifiek omdat medici hier soveel beskerming teen aanspreeklikheid geniet. Dit is waarskynlik omdat ons so ‘n tekort aan dokters het, maar hoe belangrik dit ookal is om dokters te behou, behoort dit nie ten koste van pasiënte se grondwetlike reg tot voldoende mediese dienste en liggaamlike integriteit te gebeur nie. Ek glo sterk dat wetgewing en die howe ‘n beter middeweg kan vind.

Wat is die moeilikste deel van jou studies en wat sou jou advies aan jou jonger self wees?
Die moeilikste deel van universiteit toe kom was om te besef dat ek my grootste kompetisie is en niemand anders nie. Dis nogal maklik om jouself te verloor op varsity as jy een van die topleerders op skool was, wanneer jy skielik besef jy is nou tussen 300+ briljante toppresteerders wat almal dieselfde grootse ambisies as jy het. Ek sou graag vir my jonger self wou sê: “Glo in jouself! Jy is goed genoeg om in ʼn wêreld vol ander slim mense te floreer.”

Vertel  ons ʼn bietjie meer oor jou agtergrond.
Ek het in die Nasionale Krugerwildtuin grootgeword as die jongste van drie kinders, met ‘n enkelma. My familie is skreeusnaaks en ons lag heerlik as ons almal saam is. Ek was by die Laerskool Skukuza en het matrikuleer aan die Hoërskool Laeveld in Nelspruit. Ek was baie sosiaal as kind. Ek wou altyd tussen mense wees. Skukuza is maar ʼn klein dorpie met min om te doen, so ek en my vriende moes onsself vermaak – baie swem, skaats, en so meer.

Hoe balanseer jy jou studies met jou sosiale lewe, sport en buitemuurse aktiwiteite?
Ek het aan baie deelgeneem op skool, veral as senior – alles van sport en kultuur tot leierskapsaktiwiteite – so teen die tyd dat ek op varsity aankom het ek tydsbestuur onder die knie gehad! Ek bly by dieselfde metode wat vir my voorheen gewerk het: studies eerste, dan volg die res.

Ons weet dis vir die Atterbury Trust belangrik om terug te gee en om te gee. Hoe gee jy terug aan die gemeenskap?
Ek is op die uitvoerende bestuur van Tuks Village, waar meer as 600 studente woon. Ek is verantwoordelik vir die dissipinêre portefeulje waar ek al harde bene moes kou om regverdig te bly en orde te handhaaf. Dan het ek en my ma ook ‘n projek waar ons betrokke is by die kleuterskool vir die werkers van die Kruger Wildtuin. Die kleintjies is vir lang ure in die creche, aangesien die werkers skofte werk en ons maak beddens en speelgoed bymekaar.

Op ʼn ander trant. Is daar ʼn spesifieke land wat jy graag sou wou besoek?
Ek sou graag die hele Europa wou plat reis.  Al daai katedrale, kastele en monargieë!

As jy nie die trofee gewen het nie, wat dan?
Ek was so senuweeagtig tydens die onderhoud, ek was seker ek sou dit nooit kry nie! Maar ek glo dat die regte ding op die regte tyd gebeur. Het ek dit nie gewen nie, sou ek aanvaar het dit is nie my tyd nie en ek sou aangaan om my lewe te verbeter hoe ek ook al kon.