’n Oog vir mode

’n Oog vir mode

Atterbury Trust beurstudent Charlene Pretorius het ’n oog vir styl, en het onlangs ’n mode-ontwerpprys losgeslaan by die Noordwesuniversiteit op Potch. Ons het aangesit vir ’n koppie tee en modewenke saam met hierdie Atterbury Trust uitblinker…

So swot jy mode-ontwerp? Vertel ons van die prys wat jy gewen het…
Ek swot Verbruikerswetenskap en is in my derde en finale jaar. Ons fakulteit se Akademiese Studentevereniging hou altyd in die laaste semester ʼn modeparade om die studente se talente en vaardighede ten toon te stel en so ook om te spog by ouers en medestudente. Elke jaar word ʼn tema gekies – vanjaar s’n was Afrochick, omdat die modebedryf ’n sterk Afrika inspirasie voorspel vir 2017. Mens is beoordeel volgens jou interpretasie van die tema en nog ’n klomp ander kriteria.

Wat het die prys behels?
Ek het ongelooflike pryse van verskeie borge gewen… onder andere 30 dae internskap by Isabelle Lotter Juwele; sonbrille, ’n handsak, geskenkbewyse en ’n pragtige bos blomme!

Vertel ons meer oor jou agtergrond.
Ek het grootgeword teen die Magaliesberge in die Hartebeespoort area, so my liefde vir die natuur is van kleinsaf in my siel. My pa het my altyd sy kaalvoetkind genoem! Ek is vas oortuig ek moes eerder ʼn seuntjie gewees het, maar my ma sê God het nooit gesê net seuntjies mag in die modder speel of bome klim nie!  My gesin is klein, maar geseën – ek het ʼn laatlamboetie van 11, ʼn sussie van 18 in matriek en ’n ousus van 28 wat in Jeffreysbaai woon. My ma is ʼn pragtige siel, maar het soms haar hande vol met ons klomp. My wonderlike rolmodel pappa is in Oktober 2014 oorlede na ʼn lang stryd teen kanker.

Hoe het jy by Atterbury se beurs uitgekom?
Ek wou eers nie geswot het nie –  ek wou ʼn sjef geword het – maar toe wys my pa vir my hierdie kursus by PUK as ʼn goedkoper opsie, en dit het lekker geklink. Ek het ʼn privaatbeurs gehad in my eerste jaar, en toe dit opdroog het die PUK vir my ʼn merietebeurs gegee. Daarna het my ma begin soek vir beurse en op Atterbury afgekom. My pa het my nog na die onderhoud geneem en my moed ingepraat vir die onderhoud. Die dag toe Leonie my bel was die beste dag van my lewe! Ek het heel eerste my pa gebel en sy woorde aan my was, “Ek het geweet jy sal dit kry my kind, ek is trots op jou.”

Wou jy altyd ’n ontwerper geword het, of was daar kleintyd ander planne?
Ek wou baie dinge in my lewe geword het waarvan ʼn natuurbewaarder en ʼn marinebioloog twee sterk opsies was tot ek my liefde vir kosmaak ontdek het. En na my eerste semester op varsity het ek geweet die modebedryf roep. Ek het nog nie geweet presies waar of wat nie, maar ek was gevang deur die mode.

Kan jy die heel eerste rok wat jy gemaak het, onthou? Vertel!
Onbewustelik het ek altyd wel ʼn aanleg vir mode gehad. Vir my eerste rok het ek sommer ’n ou swart rokkie wat ek nooit kon dra nie gevat en ek het ʼn denimromp en ʼn mooi belt opgesny, my ma se naaimasjien uitgepluk (ek het nie eers geweet hoe hy werk nie) en die rok omskep in ʼn Valentynsbalrok omdat my ouers nie kon bekostig om vir my een te koop nie. Daardie rok hang nog net so in my kas!

As jy by enige ontwerper kon gaan internskap doen, hier en oorsee, wie sal dit wees?
Ek sou vreeslik graag by die Alexander McQueen ontwerphuis ʼn draai wou maak – ek sal ’n oogtand gee om te sien hoe dinge agter die skerms werk. Nie soseer oor die inspirasie van die ontwerpe nie; maar om die tegniese aspekte van konstruksie en dekonstruksie van nader te beskou. Dit fassineer my al vandat my baas my ʼn boek oor McQueen gegee het. Ek sal ook graag by David Tlale tyd wou deurbring hoewel ek ongelooflik gelukkig is en tonne leer by Leo Validus.

Hoe hoop jy om as ontwerper ’n impak te maak in Suid-Afrika – wat is jou droom?
Die algemene wanpersepsie van Suid-Afrikaners is dat ontwerpers buitensporig duur is en dat ontwerpersdrag net vir spesiale geleenthede bedoel is. Ek wil dit verander sodat mense besef dat ontwerp ʼn kuns is en net soos ʼn skildery of ʼn standbeeld vat dit tyd, baie liefde en toewyding. En steeds is dit so eenvoudig om ʼn mooi somersrokkie of ’n romp te maak wat elke dag gedra kan word. My droom is dat die modebedryf verander sodat plaaslike ontwerpers ondersteun word.

Gestel jy het ’n blanko tjek gekry om minderbevoorregtes mee te help, wat sou jy daarmee doen?
My ouers het ons van kleintyd geleer hoe belangrik dit is om na jou naaste om te sien. Selfs as dit nie altyd met ons goed gegaan het nie, sou my pa uit ons koskaste ʼn boksie pak vir iemand wat hy gesien het wat in nood was. As ek ʼn blanko tjek moes kry sou sal ek dit skenk aan Kansa ten bate van kinders met kanker. So baie kinders kan nie die nodige behandeling kry nie omdat dit so duur is. Hoekom kanker? Omdat beide my pa en my vriendin die stryd teen kanker moes veg. Hulle is altwee is in die hemel en ek weet van soveel ander jong mense en kinders wat daagliks dieselfde stryd veg!

img-20160815-wa0032

Leave a Reply