Gebore en getoë Overberger Liné Els is as tweedejaar onderwysstudent by Maties een van die akademiese uitblinkers in haar jaargroep, en sy is boonop ‘n sternaelloper in die universiteit se atletiekspan. Net soos ons van ons Atterbury Trust beursstudente hou! Sy vertel van haar studente-ervaring.

Vertel ons van jou familie-agtergrond.
Ek is op amper 20 die laatlammetjie in ons huis. My broer raak hierdie jaar 27 en hy is al van kleins af een van my rolmodelle. En wat ’n voorreg is dit net nie dat my ouers al vir 31 jaar getroud is. Ons woon ongeveer 19 jaar in Caledon en dit is ook daar in die hartjie van die Overberg waar ek by Hoërskool Overberg gematrikuleer het.

Hoe het jy destyds by die Atterbury Trustbeurs uitgekom?
My broer, Luan, het ook ‘n Atterbury Trustbeurs gehad toe hy teologie by Pneumatix in Somerset-Wes gestudeer het. In my matriekjaar het ons maar weer in geloof die kans gevat en aansoek gedoen.

Wou jy van kleins af ’n onnie word, of was daar eers iets anders in jou visier?
Kleintyd wou ek net ’n mamma met baie kinders word. Onderwys is gelukkig baie dieselfde! Ek het ’n groot passie vir kinders, veral kleuters wat nog so blindelings glo en liefhet. My droom is om die kinders na God te lei en hulle te help vorm tot die beste wat hulle kan wees. Op skool het baie van my vriende getwyfel wat hulle met hul lewe wil doen, maar ek het egter geen bekommernis gehad nie.

Wat dink jy voeg jou atletiek by tot jou studente-ervaring?
Om deel te wees van die Maties atletiekspan is vir my baie lekker! Dit help nie net om ’n gesonde leefstyl te volg nie, dit dien ook as ’n uur se afleiding elke dag. Op die atletiekbaan word daar nie gedink aan take wat gedoen moet word of toetse waarvoor geleer moet word nie; daar voel ek vry om net te laat gaan van alle moontlike stres. Ek oefen amper elke dag, maar akademie bly my top prioriteit. Die atletiek dra op sosiale vlak baie by tot my studente-ervaring, ek ontmoet die interessantste mense en ons almal deel dieselfde passie vir atletiek.

Waar woon jy in Stellenbosch?
Ek is bevoorreg om vanaf my eerstejaar koshuisplek te kon kry. Monica is my tuiste en ek geniet dit verskriklik baie. Ons is een van die kleinste dameskoshuise op kampus en ek sou dit geensins anders wou hê nie. Hier is ons susters wat mekaar ondersteun en werklik omgee vir mekaar. Ek dra by tot die pret in die koshuis deur op die tweedejaarskomitee te dien. Soms verlang mens na die rustigheid by die huis, maar dan drink ek ’n koppie tee saam met my oulike kamermaat en daar is weer kalmte in die chaos.

Wat dink jy is die grootste les wat jy tot dusver as student geleer het?
Die belangrikheid van balans. Jy moet probeer aandag gee aan alle areas van jou menswees. Daar is 24 uur in ’n dag, as jy prioritiseer en miskien bietjie later moet gaan slaap, sal alles gedoen kan word.

As jy vir nuwelingstudente moes raad gee, wat is jou beste advies?
My raad vir nuwelingstudente is dat dit oukei is om in so een of twee toetste sleg te doen, of net-net deur te kom. Op skool is dit redelik maklik om bo 80% te kry, universiteit is ’n heel ander storie. Dis belangrik om te geniet wat jy doen, anders is dit nie die moeite werd nie. Dis ook aanvaarbaar om van kursus te verander. As jy besef dat die kursus nie vir jou bedoel is nie, moenie jou tyd mors nie. Jy is jonk, maak foute, leer daaruit en vind uit wie jy is.

As jy ‘n blanko tjek moes kry wat jy vir liefdadigheid moes aanwend, wat sou jy daarmee doen?
Dadelik dink ek aan die kindertjies op straat en die kinders in weeshuise. Dit breek my hart om kinders so ongelukkig en sonder hoop en ’n lus vir die lewe te sien. Ek sou die blanko tjek gebruik om vir hulle die lekkerste kos te gee en dan ’n groot kamp vir hulle te reël. Op hierdie kamp word hulle van Jesus geleer, hoe lief Hy vir hulle is en dat Hy ’n doel het met elkeen van hulle. ’n Christusfees vir Sy kinders!

Waar sien jy jouself oor 10 jaar, persoonlik en beroepsgewys?
Om aan 30 te dink laat my sommer oud voel! Nee, ek grap sommer. Ek sien verskriklik uit na die grootmenswêreld, die tyd van trou en kinders kry. Op 30 wil ek al gevestig wees in my beroep as onderwyseres en as vrou vir my man en ma vir my kinders. Wie my “godly” man gaan wees, is nog nie bekend nie, maar hy gaan die wag werd wees. As dit God se wil is, het ek oor 10 jaar dalk al my eie skooltjie op ’n plaas iewers buite Stellenbosch. Ek is reeds mal daaroor wanneer die graad R-leerders vir my juffrou Liné noem, ek kan nie wag om eendag my eie klassie te hê nie!

Foto: Liné, links, saam met ‘n atletiekmaat

Met jou steun kan ons nog uitblinker-jongmense help om hulle studiedrome waar te maak. Skenk gerus aan die Atterbury Trust beursfonds en ’n Artikel 18 A-sertifikaat sal aan jou uitgereik word vir die belastingvoordele van ’n skenking. Kliek hier om te skenk.

payfast