Toe die Atterbury Trust bykans 20 jaar gelede sy eerste beursstudente ingeneem het, het niemand ooit kon dink hoe ver die beursfonds se reikwydte mettertyd sou strek nie. Uitvoerende trustee Zahn Hulme vertel hoe wonderlik dit was toe Dis-Chem onlangs na die Trust uitgereik het omdat dié apteekreus geleenthede het vir skoolverlaters en gegradueerdes, en weet dat Atterbury altyd op die uitkyk is vir ontwikkelingsgeleenthede vir sy beursstudente.

“Ons kry jaarliks soveel meer aansoeke as wat ons begroting ons toelaat om in te neem, en dit is so moeilik om mense te moet wegwys, want daar is so baie talent daarbuite. Dis net eenvoudig fantasties om nog ’n opsie vir ’n hoopvolle kandidaat te kan aanbied as ons dalk nie kan help nie,” vertel Hulme. “’n Maatskappy so groot en divers soos Dis-Chem het ‘n verskeidenheid van geleenthede vir internskappe, end it is vir ons ’n groot eer dat so ‘n groot maatskappy ons nader om indirek met werwing te help. Almal wen in hierdie situasie.”

En volgens Kim Painter van Dis-Chem is die kandidate wat tot dusver deur Atterbury verwys is, besonder sterk, sonder twyfel omdat Atterbury se eie keuringsproses so deeglik is.

Vertel ons meer van Dis-Chem se ontwikkelingsprogram? Wat is die oogmerke, hoeveel geleenthede het die groep jaarliks, en waarvoor lei julle mense alles op?
Dis-Chem bied twee verskillende programme aan: leerlingskappe en internskappe.

Met die leerlingskappe is die oogmerk om jongmense op te lei vir toekomstige leierskapposisies in die Dis-Chem-winkels. Die kandidate voltooi ’n kleinhandel-kwalifikasie (retail). Hiermee fokus ons meer op gehalte as getalle, so ons het nie mikpunte vir spesifieke getalle nie, ons maak liewer seker ons werf werklik goeie kandidate met groeipotensiaal.

Dan bied ons ook internskappe vir mense wat reeds ’n tersiêre kwalifikasie het. Die doelwit is om meer mense met die nodige vaardighede in die bedryf in te lyf, veral in areas waar daar tans ’n skaarsste is – dit kan insluit bemarking en verkope, kleinhandelsbestuur, kliëntediens, gesondheidsrigtings, “technical compliance”, logistiek, ensomeer.

Waar werf julle gewoonlik kandidate vir die program, en hoe gereeld werf julle?
By skole en universiteite, en ons adverteer in koerante en op Facebook. Ons werf gewoonlik drie keer per jaar.

Hoe het dit gebeur dat Dischem besluit het om Atterbury te nader?
Ons het gehoor van die liefdadigheidswerk wat Atterbury Trust doen, en in November hieroor kontak gemaak. Ons hoop om geleenthede te kan bied vir hoë-gehalte kandidate wat dalk nie regkom deur Atterbury nie. Hierdeur kan ons jong mense help om ’n standvastige loopbaan te bou en ons kan sodoende ook Dis-Chem bou met gehalte-werknemers. Ons het baie sukses met inname van kandidate wat deur ons programme gegaan het; so kan ons ook weer teruggee aan organisasies soos Atterbury.

Hoeveel jongmense het Atterbury reeds na julle verwys en hoeveel van hulle kon julle in die program insluit?
Ons is nog besig met die werwingsproses, so kan nog nie nou al finale getalle bevestig nie. Ons beoog om teen einde Februarie 2018 ons keuringsproses te voltooi.

Hoekom reken jy is die kandidate wat deur Atterbury Trust verwys word, van so ’n hoë gehalte? En waarvoor soek julle in ’n kandidaat?
Atterbury Trust het gevestigde en langdurige verhoudings met verskillende skole en universiteite en die kandidate gaan reeds deur ’n keuringsproses voor hulle by ons aankom. Dit help beslis. Ons is op soek na kandidate wat gretig is om te leer en honger is vir sukses; mense wat bereid is om lang ure te werk – ons is ’n kleinhandelbesigheid, so dit is belangrik. Dit is ook belangrik dat die kandidate bereid is om alles aan te pak wat ons bied.  Bestuur word geleer in al die verskillende areas in die winkel sowel as by ons hoofkantoor.

Waar kan mense meer lees oor die geleenthede? Wanneer neem julle weer internskap-kandidate in?
Daar is meer inligting oor geleenthede op ons Facebook-bladsy – www.facebook.com/Dischem  –asook op ons loopbaan-webtuiste en www.dischemgroup.com/careers. Ons neem weer tussen Januarie en Maart internskap-kandidate in.

Wat is die grootste gaping wat julle tans ervaar en waarvoor julle mense soek?
Die grootste gaping onder andere is aptekers, aptekersassistente, winkelbestuurders en gespesialiseerde verkoopskonsultante.