Soos die jaar begin, skud 78 nuwe Atterbury Trust beursstudente hulle stertvere reg vir die nuwe akademiese jaar. Een van hulle is 21-jarige Layla Mayambala van Johannesburg, wat haar tweede jaar BCom Rekeningkunde by die Universiteit van Johannesburg gaan aanpak.

Vertel ons van jou agtergrond – waar woon jy, saam met wie, en hoe pas jy in die familie in?
Ek woon in Diepkloof waar my oorlede ma grootgeword het. My ouma is my wettige voog sedert my ma in 2007 oorlede is; ek en my ouer boetie het by haar ingetrek toe Mamma siek geword het. Ons woon saam met my oom en sy vriendin, hulle vyf kinders, my neef en my oupa. My pa is oorsee jare voor my ma oorlede is en het eers onlangs teruggetrek Suid-Afrika toe. Hy het helaas nog nooit veel belanggestel om kontak te behou of enige ondersteuning te gee nie…

Hoe het jy deel van die Atterbury Trustfamilie geword?
My geliefde “peetma” (sy’s meer soos ’n engel) het my alles van die Trust vertel, en my aangemoedig en gehelp om aansoek te doen.

Jy het jou eerste jaar in 2015 voltooi, maar moes 2016 uitsit. Wat het jy toe met die jaar gedoen?
Omdat ek weens geldelike probleme nie kon swot nie, het dit beteken ek moes werk soek om so veel moontlik universiteitskuld so vinnig ek kon af te betaal. Ek het gewerk as ’n projekbestuur-intern by Training Force.

Was daar iets positief wat jy gehaal het uit hierdie onderbreking in jou studies? Het dit die manier waarop jy jou studies benader, verander?
Ek kan nie wag om terug universiteit toe te gaan nie – ek glo die geleentheid om die werksomgewing te beleef het my ’n heeltemal ander ingesteldheid teenoor swot en universiteit in die algemeen gegee. Ek dink nie daar is enige toets of teorie wat jou vir die werksomgewing kan voorberei nie! Ek kan eerlik sê dat ek nou meer as ooit gedrewe is om my posisie te verbeter en myself beter voor te berei vir dit wat voorlê. Ek het ook deur die loop van die jaar die kans gehad om hierdie skepsel genaamd Layla te leer ken. Ek kan eerlik sê ek het niks verloor deur hierdie jaar nie op universiteit te wees nie – ek het inderwaarheid so baie oor myself, ander rondom my en die werkplek geleer. Alles gebeur met ’n rede op die regte tyd.

As jy nie hierdie beurs gekry het nie, wat was Plan B?
Plan B was deeltyds werk en deeltyds studeer. Ek sou by Unisa ingeskryf het en dit sou net ’n bietjie langer geneem het om my B Com te behaal…

Hoekom B Com Rekeningkunde? Wat hoop jy sal die graad eendag vir jou beteken?
Syfers, syfers, syfers! Ek is mal oor hulle! Ek het eerlik nie gedink daar sal soveel teorie in Rekeningkunde wees nie, maar die syferskant is my gunsteling, al is dit ’n uitdaging. Dit is ’n baie wye veld wat jou toelaat om verskillende rigtings in te slaan, sodat jy nie vir die res van jou lewe net een ding hoef te doen nie. Ek hoop my kwalifikasie sal my toelaat om myself, my familie en my gemeenskap se posisies te verbeter, sodat ons kan beweeg in die rigting van ’n lewe wat meer gemaklik vir ons is.

Wat wou jy word toe jy klein was?
So lank soos ek kan onthou wou ek ‘n rekenmeester of ‘n forensiese sielkundige word. Soveel van ‘n syferkop soos ek is, fassineer die reg my… gelukkig werk rekeningkunde en die reg dikwels saam, so dit pas. Ek dink nie ek het ‘n dik genoeg vel om met kriminele sake te werk nie, maar dit is baie interessant om meer oor die reg te leer, veral hoe dit in ons land werk.

Waar sien jy jouself oor 10 jaar – wat is jou droom?
Teen dan wil ek eiendom besit en gemeenskapsprogramme in Soweto bestuur wat ‘n verskil maak deur mense te betrek om self hul gemeenskap te verbeter.

Waarna sien jy vanjaar die meeste uit?
Ek kan nie wag om terug universiteit toe te gaan en hopelik in ‘n koshuis plek te kry nie.

Gestel iemand gee jou ’n blanko tjek om te gebruik vir ‘n goeie doel – wat sal jy daarmee maak?
Ek sal dit gebruik om my buurt skoon te maak, veral rondom die skole; en om ‘n voedingskema by die skole te begin wat die kinders gesonde en voedsame maaltye gee eerder as kos wat net die maag volmaak. Dan sal ek ook graag wil belê in navorsing oor alternatiewe kragbronne – sonkrag of hernieubare energiebronne, wat elektrisiteit goedkoper sal maak.

Met jou finansiële ondersteuning kan ons nog meer belowende studente soos Layla help om hul toekomsdrome in realiteit te verander, en sodoende belê in die toekoms van ons land. Atterbury het die infrastruktuur om al ons beursstudente te mentor deur hul universiteitsjare om sodoende die bes moontlike resultate te verkry. Skenkers kan kies watter studierigtings of studente hulle wil befonds, en kry gereelde terugvoering. Kliek hier en vind uit hoe jy kan skenk.