Triomf Kliniek het pas ’n splinternuwe vleuel ingelyf, met ekstra spreekkamers en ’n gemaklike wagkamer, en die deure sal vroeg volgende jaar amptelik vir die mense van Danville en omgewing oopgegooi word. Een van die kliniek se heel eerste betrokkenes, Jula van den Broek, het by die opening vertel watter impak die kliniek op die gemeenskap het. Ons het by haar gaan aanklop om te hoor wat in die binnekringe gesê word.

Jy het uitgehelp en fone beantwoord voor Triomf Kliniek nog ’n verpleegsuster gehad het. Hoe het jy betrokke geraak?
Ek was ’n huisvrou en het voorheen by die CMR gewerk as ’n sorgwerker, so ek het gehoor van die kliniek toe dit nog in die ontwikkelingsfase was. Ek het aansoek gedoen om daar te werk as ontvangsdame, en het nog saam met Iris Roscher rondgegaan en mense vertel van die kliniek. Tans lewer ek administratiewe diens by CMR Noord se kinderbeskermingseenheid, maar ek vertel nog steeds vir almal wat na ons toe kom van Triomf.

Wat het jy destyds gedink toe jy hoor die kliniek maak oop? Wat was in daardie stadium die grootste behoefte onder die mense in jou gemeenskap?
Die kliniek lewer ’n baie waardevolle diens vir die behoeftiges van Danville – hierdie mense leef met geweldige armoede en as siekte ook nog bykom by die daaglikse stryd is dit baie moeilik. Plaas jouself in die ma se skoene – haar kind se neus bloei skielik aanhoudend en sy weet nie wat is verkeerd nie. Sy het niemand om raad te vra nie. Sy kan nie apteek toe gaan nie, want sy het heel moontlik nie ’n kar nie en het ook nie geld vir medisyne nie. Sy kan dalk ’n plan maak en die kind na die naaste staatshospitaal vat, wat in Pretoria-Wes is, waar hulle dan maklik agt ure lank in ’n tou kan sit en wag om moontlik gehelp te word. As sy ’n werk het, gaan haar baas nie baie daarvan hou dat sy vir ’n onbepaalde tyd wil afhê vir iets wat dalk nie so ernstig is nie. Noudat die kliniek daar is, het sy iewers waar sy net kan gaan raad vra, waar die suster mediese kennis het en haar dalk kan help met ’n salfie of net ingeligte raad, of ’n afspraak maak om die dokter te sien. Dit doen soveel vir die menswaardigheid van iemand wat nêrens anders met waardigheid behandel word nie.

En hoe het dinge verander sedert die kliniek oopgemaak het in 2014?
Almal wat al by die kliniek behandel is, is in hulle noppies. Onthou, al die dokters wat hier diens doen, doen dit uit die liefde vir die saak, so hulle is passievol en kies om daar te wees. Dis soos om ’n dokter in privaatpraktyk te sien, eerder as een wat oorwerk en onderbetaal by die staatshospitaal deur honderde pasiënte swoeg. En daar is nie ’n lang gesit en wag in rye nie. So dit maak die pasiënt se ervaring net soveel positiewer.

Dink jy die kliniek word optimaal benut deur die gemeenskap?
Om eerlik te wees, dink ek dit sou beter benut kon word as meer mense van die kliniek weet en as die dokters se skedules wyer bekendgemaak kan word. As die kliniek sou ontwikkel om instap-pasiënte te kan akkommodeer – met die fasiliteit dat ’n algemene praktisyn elke dag beskikbaar kon wees, al was dit net vir ’n uur – sou daar beslis meer voete deur die deur wees.

Hoe reken jy kan nog meer pasiënte bereik word?
Almal is op Facebook, selfs al is geld beperk, so dit sou werk om die dokters se skedules op ’n Facebookblad te plaas sodat mense gereeld die nuutste inligting daar kan kry. ’n Fasiliteit om aanlynafsprake te kan maak sal ook werk, sodat mense enige tyd van die dag toegang tot die kliniek kan hê.

Wat sal jy die heel graagste nog by die kliniek wil sien gebeur? Wat is die grootste behoefte wat steeds bestaan?
Uit wat ek sien, het die gemeenskap ’n massiewe behoefte aan beradingsdienste. Mense hier het baie moeilike lewens, daar is sosio-ekonomiese probleme wat ’n impak het op hulle familielewe en ouerskap; huweliksprobleme en kinders met gedragsprobleme… Ek glo ’n sielkundige wat kan luister, bemiddel en raad gee sal ’n geweldige verskil maak.

Vir meer inligting oor Triomfkliniek en hoe om uit te vind hoe JY kan help, besoek http://triomf.org.za/