Nou kan Afrikaanse boekliefhebbers in die gemak van hul huis hul boekaankope doen met Varsgedruk, berig Maroela Media op hul webwerf.

Om dit vir boekliefhebbers nou nóg makliker te maak om hul gunstelingboeke in die hande te kry, het hierdie innoverende span so pas ’n doelontwerpte aanlyn boekwinkel bekendgestel, wat jy kan besoek by www.varsgedruk.co.za

Die splinternuwe webwerf verkoop slegs boeke en lesers kan hiermee vinnig en moeiteloos die allernuutste Afrikaanse boeke aanskaf en gratis laat aflewer – selfs op die platteland!

Die Varsgedrukspan is vol idees om boeke te bevorder: dit was juis hulle wat ses jaar gelede die Suid-Afrikaanse boekbedryf vernuwe het deur boeke vir die eerste keer deur middel van aksiebelaaide boeklokprente aan ’n nuwe gehoor bekend te stel. Sedertdien het die Varsgedruk-span reeds meer as 350 boeklokprente vervaardig wat weekliks as boekinsetsels op kykNET verskyn, en aangebied word deur die geliefde aktrise Susanne Beyers.

Vandag is Varsgedruk ’n huishoudelike naam en sinoniem met die nuutste boeke. Derick Muller, die brein agter Varsgedruk, sê: “Ons doel was van die begin af om iets by te dra tot die lewendige leeskultuur onder Afrikaanssprekendes. Met die webwerf is dit nou soveel makliker om al jou gunstelingboeke in die hande te kry. Die winkel het reeds in Desember sy eerste verkope gedoen toe die webwerf vir ’n paar dae aanlyn was vir toetse. ’n Leser van Pretoria het vyf boeke bestel; toe moes ons spring! Dit is net weereens ’n bewys van hoe groot die vraag is na ’n platform vir Afrikaanse lesers om hul boeke aan te koop.”
Nou wie het enigsins meer aanmoediging nodig as dit?

Hierdie storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn