Waar Grootfm 90.5 betrokke is, kan mens maar weet daar kom goeie dinge vir mense wat dit nodig het… en vroeg in Junie gooi hierdie gewaardeerde medewerkers van Atterbury hul gewig agter ‘n projek om kinders in meer as 1 000 informele dagsorgsentrums te voed.

#MillionMeals is ‘n Guinness Wêreldrekordpoging deur die liefdadigheidsorganisasie Judea Hope op 5 en 6 Junie vanjaar, wanneer ‘n miljoen maaltye verpak gaan word om kinders in agtergeblewe gemeenskappe se magies vol te maak. Die organisasie het 1 000 dagsorgsentrums gestig as ‘n uitvloeisel van Judea Harvest se kerkplant-strategie, wat al ongeveer 3 000 blou-en-wit tente regoor die land opgerig het, waarin kerk gehou word. Die tent-kerke word nou gedurende die week as dagsorgsentrums ingespan waar gefokus kan word op die ontwikkeling van voorskoolse kinders in hierdie gemeenskappe, en hierdie sentrums is ‘n ideale platform vir die verspreiding van voedsel.

Die kos wat gepak word is ‘n droë mengsel van rys, soja, gedroogde groente en ekstra vitamiene en minerale, en omdat vrywilligers help pak, werk elke maaltyd op net R1,50 per kind uit – en dit is vir ‘n warm, gekookte, voedsame maaltyd waarvoor net kookwater nodig is, vertel Lindie Strydom van Grootfm 90.5, wat die trotste mediavennoot vir #MillionMeals is. “Met vroeë kinderontwikkeling is voedsame kos die beginpunt, want niemand kan groei en floreer sonder behoorlike voeding nie,” sê Lindie. Judea Hope het die resep vir hulle ekonomiese dog voedsame maaltye ontwikkel in samewerking met ‘n mediese dokter, Anton Janse van Rensburg, en dit het onmiddellik ‘n afname in kindersiektes en ‘n verbetering in algehele gesondheid teweeg gebring.

“Ons begin Vrydagoggend 5 Junie om 6vm etes pak, en 65 spanne van 50 mense sal in drie-uur-lange skofte pak tot Saterdagaand 6 Junie om 6nm,” vertel Lindie. “Dis groot pret, en die formaat van die pakkery is soos in ‘n fabriek waar ‘n pakkie deur verskillende mense se hande gaan wat elk ‘n bestanddeel byvoeg, tot die pakkie alles bevat wat nodig is, en verseël word.  Die Grootfm 90.5 span is self in aksie die Vrydagoggend!  Ek dink so ‘n spanbougeleentheid gekoppel aan ‘n sinvolle projek met ‘n mooi balans van ‘Woord en brood-hulp’ asook met langtermyn, permanente en koninkryksimpak, hou baie langer as ‘n duur uitstappie saam met jou kollegas.  Dit is lekker om pens en pootjies in te klim by hierdie projek wat verseker in ‘n gesonde kompeterende atmosfeer sal wees soos ons omroepers en bemarkers probeer bepaal wie kan die meeste pak!”

Alles gebeur by die Zwartskop Lugmagbasis Museum, en hoe dit werk is dat maatskappye, kerke en skole elk R25 000 skenk en sodoende ‘n plek vir hulle span vrywilligers verseker. “Die maatskappy of kerk se logo word op die 50 bokse wat hulle span sal pak aangebring, en hulle word ook genooi om saam met Judea Hope die kos tussen Junie en Desember uit te deel.” En vir die bydra van die R25 000 skenking (wat effektiewelik die kospakkies se inhoud borg) kry die organisasie ook ‘n 18A- en BEE -sertifikaat.

“Dis vir ons ‘n wonderlike geleentheid om al ons vriende en vennote te nooi om ‘n baie groot, tasbare verskil te maak in die lewe van kinders – en om terselfdertyd pret te hê en deel te neem aan ‘n reuse wêreldrekord,” sê Lindie.

Op 15 Mei het die radiostasie luisteraars genooi om R15 (die koste van ‘n pakkie met 10 etes) by te dra.  Mense het van hulle naweek se braaivleis, uiteet, koppie koffie tot “ma se aand af” kosgeld geskenk vir ‘n totaal van amper 5 000 etes!  Luisteraars het gemiddeld 10 keer meer gegee as die R15 versoek!  Hierdie bydraes dra alles by tot die reuse doelwit van ‘n miljoen etes wat op 5 en 6 Junie gepak sal word.

Besoek gerus www.millionmeals.net vir meer inligting oor die miljoen etes of om ‘n span vir die pakkery in te skryf. Besoek gerus www.judeahope.org vir meer oor die dagsorgsentrums.

20131129_105736

image003