Een ding wat jy van Atterbury Trust -beursstudente kan sê is dat hulle altyd vol planne is, en omgee vir hulle medemens. Toe Tukkiestudent Altus Bischoff se koshuis vind dat hulle jaarlikse fondsinsamelingsprojek dreig om skipbreuk te lei, was ons man daar met ’n plan. Hy vertel ons meer.

Waarvoor samel julle geld in?
Ons koshuis, Sonop Christelike Tehuis, is opgedeel in verskillende streke (Weste, Noorde, Ooste, Sentraal en Senaat) en dis die Westemanne, van wie ek deel is, wat die insameling hou. Ons doen dit jaarliks om die Weste-ouens wat finansieël sukkel te ondersteun, en gewoonlik bied ons ’n fondsinsamelings-gholfdag aan. Hierdie jaar het ons borg op die nippertjie onttrek en toe moet ons ’n ander plan maak. Vandaar die insamelingskonsert by die Atterbury Teater.

Hoe het jy by die insamelingsprojek betrokke geraak?
Ons Weste-streeksleier het by ’n vergadering die nuus meegedeel dat die gholfdagborg ontrek het. Omdat ek vir Atterbury ken en een van hulle beurshouers is, het ek dadelik vir Zahn gebel. Die Trust het ingestem om ons te help en my in kontak met Matthys en Paulette by die Atterbury teater gesit. Nou is ek aan die stuur van sake saam met die streekleier.

Hoeveel het julle nodig?
Ons het nie ’n spesifieke bedrag in die oog nie; maar hoe meer ons invorder hoe beter, want die nood is altyd daar en hoe meer ons het, hoe meer kan ons help.

En gaan dit net ’n eenmalige insamelingskonsert wees?
As dit vanjaar goed gaan, sal ons dit beslis oorweeg om dit ook ’n instelling maak, net soos die gholfdag. Dit sal lekker wees om twee geleenthede te hê om geld in te samel vir hierdie goeie doel.

Vertel ons van die konsert – wie tree op, en is daar ’n tema?
Ons het die komediant, Schalk Bezuidenhout, gekry om ’n vertoning te kom doen. Daar gaan ook moontlik ’n voorvertoning wees deur Sonop-musikante. Ons beplan ook ’n spesiale ete agterna saam met Schalk vir “VIP”-gaste… mense word genooi om “VIP”-kaartjies te koop en hierdie bonus saam met ons te beleef.

Hoeveel kos kaartjies en waar koop mense?
Die kaartjies sal binnekort op Computicket beskikbaar wees, en hulle kos onderskeidelik R130 en R150 stuk. Dit gaan ’n heerlike aand wees!

Meer oor Schalk Bezuidenhout
Die 24-jarige grapjas het vroeër vanjaar saam met Casper de Vries en Hannes Brümmer opgetree in die “3-in-1” vertoning by Atterbury Teater. Altwee vertonings was uitverkoop! Schalk spot met alles van verhoudings tot skolerugby, Afrikaanse radio en sepies.
Hy het in 2015 naam gemaak deur die “Slurpie Kanna” vir Beste Nuweling by KKNK te wen, asook ’n toekenning by die Comics Choice Awards vir for “Best Intermediate Comedian”. Hy het ook al saam met the veteraan Trevor Noah opgetree.
Deesdae is Schalk ’n bekende gesig op televisie as aanbieder van Die Kliek op DStv se Viakanaal, en ook as akteur in die kykNet-reeks Hotel. Hy is gereeld besig met Afrikaanse komedie by die kykNet Fiëstas, Woordfees, KKNK en Innibos.