Louis-John Hüsselman het onlangs by die Byers Bytjies Kleuterskool se Damestee die dames behoorlik bekoor met sy pragtige stem. Die gebore Vrystater het agt jaar se klassieke sangopleiding en is is ‘n veelsydige kunstenaar wat reeds twee albums van klassieke liedjies uitgereik het. Hy is ook ‘n ambassadeur vir die organisasie Help Seniors, wat omsien na behoeftige bejaardes. Atterbury het hom van nader leer ken oor ‘n koppie tee.

Louis-John Hüsselman sing vir ons by die Byers Bytjies Kleuterskool Damestee

Wat beteken  Atterbury vir jou – as ons sê Atterbury, waaraan dink jy?
Atterbury Teater! Kuns en kultuur met ‘n wynproewers-keur van vermaak.

Vertel ons ‘n bietjie van jouself?
Ek is 30 en woon in die ooste van Pretoria. My ouers boer in die Vrystaat, in die Reddersburg distrik, en ek het daar grootgeword en matriek geskryf aan Hendrik Potgieter Hoërskool in Reddersburg.  Ek is die jongste van drie broers.

Voltooi die sin: Ek weet ek is ’n Afrikaner, want…
dis die taal wat my hart praat!

Hoe lyk jou ideale Sondagmiddagete?
Wildspastei, pampoen met kaneel en suurlemoensap, boontjies met aartappels en tamatie, gebakte aartappels en mengelslaai.  Afgerond met souskluitjies…

Noem drie bekendes, lewend of nie, wat jy graag sal wil nooi om so ‘n feesmaal met jou te geniet?
Koos Kombuis, Piet Botha en Evita Bezuidenhout; met hulle om ‘n tafel sal ons omtrent lekker kan gesels oor Kombuisblues, politiek en resepte!

Wat is jou gunsteling vakansie-herinnering?
Namibië het ‘n unieke bekoring en kalmte met ‘n prominente kultuur. Ek kry so af en toe die geleentheid om by my broer en sy gesin in Windhoek te gaan kuier. Dit lei altyd tot een vet-pret familie kuier met Walvisbaai as draaipunt.

Watter tegnologiese uitvinding wens jy wil in jou leeftyd gebeur?
‘n Kar wat homself kan bestuur.

Watter historiese gebeurtenis het ‘n blywende impak op jou gemaak?
Die World Trade Centre aanval van 9/11.  As familieman, is dit hartverskeurend om weer opnuut te besef dat niemand van ons ‘n môre gewaarborg is nie en dat jy jou lewe elke dag moet waardeer.

Wat is volgende vir Louis-John?
Ek is besig met my eerste boek, Winterseisoene Van ‘n Gebroke Hart – dis ‘n praktiese handleiding oor hoe om lewenstraumas te verwerk. Ek werk ook aan ‘n produksie wat ek hoop om ook oorsee te neem. Dit is ‘n samestelling van liedjies deur die ikoniese sanger Pat Boone. En tussendeur doen ek stemwerk, tree op as spreker en ook as ‘n interieur-konsultant… my lewe is besig!

Terug by die Atterbury Trust. Gestel die Trust gee jou ‘n blanko tjek om iemand se lewe mee te help ophef, wie sal dit wees en wat sal jy vir hulle doen?
Ek is baie passievol oor die organisasie Help Seniors, waarvan ek ‘n ambassadeur is. Ouer mense in Suid-Afrika is in ongelooflike nood vir hulp. Mense leef langer en dit lei tot ‘n nood vir daaglikse basiese behoeftes soos, huisvesting, kos en toiletware.  Bejaardes kan nie noodwendig weer gaan werk nie en so baie van hulle sit sonder ‘n heenkome. Met ‘n blanko tjek sal ek ‘n opvoedkundige sentrum stig waar vakmanskap aan jongmense geleer word en alle winste wat so ‘n produksielyn kan maak, teruggeploeg word in ons gemeenskap van behoeftige bejaardes. Daar is ook duisende afgetrede onderwysers en lektore wat in so ‘n sentrum ongelooflike kennis kan terugploeg in ons jeug.

Vir meer oor Louis-John, of om met hom in verbinding te tree, besoek http://www.louisjohn.co.za/Louis-John/Welkom.html