Wat is vir jou kosbaar? René du Preez skryf op Maroela Media se webwerf oor die moeilike dag wat mens moet besluit…

Op ’n dag moet jy jou lewe in ’n boks pak, en jy moet besluit wat vir
jou waardevol is. Jy bekyk die drie eierspane, die 27 koffiekoppies
wat nie heeltemal ’n stel is nie en die badkamermatjies waarvan jy
nog nooit eintlik gehou het nie. Jy ondersoek elke ding wat jy met die
jare versamel het en evalueer of hierdie ding werklik waarde aan jou lewe toevoeg. Want jy kan nie alles saamvat nie.

Geld en goeters word relatief. Die bejaarde wat na ’n klein kamertjie in ’n ouetehuis moet gaan, moet besluit watter goed die reis gaan meemaak. Die man wat wil aftree in ’n huisie by die see, moet die leeftyd se besittings wat hy versamel het, genadeloos snoei. Die emigrant wat een kans het om ’n skeepsvraghouer vol te maak, kyk met ander oë na die Coricraft-banke en die Le Creuset-potte. Is dit die dinge wat van ’n huis ’n tuiste maak?

Die onpaar handdoeke, die ongemaklike skoene, die gekraakte koppies maak dit nie in die boks nie. Daar is emosies vervleg in die dinge van ons jeug: hierdie klippie is opgetel by Kaap Agulhas, daardie is ’n kaartjie wat ’n kind gemaak het, dié is gedroogte blomme van daardie een verjaarsdag. Pak jy dit? Of los jy dit?

Dis dan wanneer jy agterkom wat van waarde is. Die gemak van die dinge wat jy besit, kan vervang word. Jy kan ’n nuwe gemakstoel koop, en nog koppies, en ander badkamermatjies. Die emosies en herinneringe van jou waardevolste goed het eintlik niks te make met die waarde van die goed nie. Dit gaan oor die mense waarmee jy hierdie goed vereenselwig.

Hierdie klippie wat jy opgetel het by die see, was gedurende daardie laaste vakansie saam met jou ouers. Daardie kaartjie is die eerste een wat jou stiefdogter ooit vir jou gemaak het. Die gedroogte blomme is van die skoonsussie wat jou verjaarsdag onthou het. Die proses van uitpluis wat moet saamgaan en wat moet bly is ’n delwe in jare se emosies en liefde en saamwees. Dis die dinge wat jou huis joune maak. Dis die dinge wat jou laat voel of jy behoort. Dis die dinge wat jy wil saamneem na jou nuwe tuiste, waar ookal dit mag wees. Die dinge wat jy ten duurste aangekoop het een dag, word vir jou relatief onbenullig en waardeloos die volgende dag. Wanneer jy moet kies. Wanneer jy nie eintlik keuses het nie.

Die hartseer van ’n proses om jou van jou goed los te maak, het niks met materialisme te doen nie. Dit is die stories wat die goed vertel wat net jy ken. Die seer kom van die laat gaan van die herinneringe wat binne elke dingetjie lê. Die goed wat jou stories bevat, maak die eensaamheid en vreemdheid draaglik. Dit omvou jou met bekendheid. Party goed laat gaan jy maklik, want die ding is net ’n ding. Maar party goed is meer. Dit is ’n deeltjie van die mense wat spore kom trap het in jou lewe – spore wat hul agtergelaat het.

Dis ’n nalatenskap van jou hartseertye. Dis ’n viering van die hoogtepunte. Dit is alles deel van jou eie storie wat jou gemaak het wie jy vandag is. Dis ’n stukkie van jouself.

Hierdie storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.

By |2018-08-02T09:54:32+00:002 Augustus, 2018|Kultuur|0 Comments
%d bloggers like this: