Atterbury se mense het vroëer vandeesmaand saam met die Laeveld feesgevier toe ’n nuwe veeldoelige kultuursentrum by Hoërskool Nelspruit amptelik geopen is. Hierdie eerste fase van ’n projek wat deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys geloods is om Afrikaanse skole in veral die platteland by te staan om hoekies van uitnemendheid te skep, is ’n dawerende sukses, vertel Atterbury se uitvoerende trustee, Zahn Hulme. Zahn en die skoolhoof van Nelspruit Hoërskool, Dr Louis Swanepoel, deel hul indrukke.

Zahn, hoe het Atterbury by hierdie projek betrokke geraak en wat behels hierdie betrokkenheid?
Die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) wat deur die Dagbreek Trust befonds word, het ten doel om Afrikaanse skole in veral die platteland in staat te stel om steeds gehalte-onderwys in Afrikaans aan te bied en talentvolle leerders te behou. Die TAO befonds die projekte en die deelnemende skole betaal dan die kapitaal oor ‘n tydperk van maksimum tien jaar aan TAO terug. Vanweë die sinergie tussen Atterbury Trust se doelstellings en dié van die TAO, en Atterbury se bewese ontwikkelingskundigheid, is ons genader om die projekbestuur namens die TAO te hanteer.

Wat was vir jou die hoogtepunt van die opening?
Z: Die gesigte van al die opgewonde leerders toe ons deur die nuwe fasiliteit gestap het het my hart geraak, en ook om te sien in hoe ‘n mate die Laeveld se mense raakvatters is. En ek is stomgeslaan deur die aandag aan detail en afronding van die fasiliteite – soos die pragtige tuine en die mosaïek deur Anton Bosch by die veeldoelige kultuursentrum. Coenie de Villiers, wat by die inwydingskonsert opgetree het, het dit vir my so goed in woorde raakgevat: “Wat ons hier sien is nie vir nou nie, dis vir generasies en generasies wat na ons kom.” Ek voel bevoorreg om ’n rol te kon speel in iets wat ewigheidswaarde het.

Louis, ons verneem die gemeenskap van Nelspruit het geweldig baie bygedra tot al die verbeteringe, van asfalt vir die hokkie-astro tot mosaïekversiering van die kultuursentrum. Wat dink jy beteken hierdie projek vir die dorp en die gemeenskap as ‘n geheel?
Daar is oor die jare heen ‘n kultuur by Hoërskool Nelspruit gevestig om aan die gemeenskap die kans te gee om te deel in die skool se drome. Die gemeenskap het ‘n reuse-aandeel in die sukses, funksionering en voortbestaan van die skool. Die Laeveld-gemeenskap beleef op die oomblik ‘n gevoel van vervuldheid, dankbaarheid en seën na die voltooiing van ‘n projek wat ‘n enorme impak op die skool se leerders gaan hê.

Die verbeteringe aan die skool sal beslis nog gesinne lok, so met hoeveel hoop julle om te groei? Wat is die kapasiteit?
L: Nelspruit is die hoofstad van Mpumalanga en nuwe gesinne verhuis daagliks hierheen. Die feit dat NHS gehalte-geleenthede bied, vergemaklik ouers se besluit om hulle hier te kom vestig. Die leerlingtal het in die afgelope vyf jaar van 1 100 na 1 500 gegroei wat beteken dat die skool tans uit sy nate bars.

Watter fasiliteite is daar alles in die nuwe kultuursentrum?
L: Die doelwit was om ‘n veeldoelige sentrum te bou wat ‘n daghuis vir dagskoliere met eet- en studiefasiliteite sou insluit, en ook ‘n kafeteria wat ouers en kinders kan bedien. Daar moes ook ‘n werkstasie wees vir die oudleerlingbond, die skakelbeampte en die ondersteunersklub, en ook ‘n kultuursentrum wat voorsiening maak vir kuns, musiek, dans en ‘n opname-ateljee. Die sentrum het ook die potensiaal om in die toekoms inkomste vir die skool te genereer – ons huisves byvoorbeeld InniBos se Boeke-Oase hier wanneer die fees eersdaags in Nelspruit plaasvind.

Die hokkie astrobaan is al ’n rukkie in gebruik, reg? Watter verskil het dit tot dusver gemaak? Wat is die beste terugvoer wat jy al gekry het hierop?
L: Die astrobaan is van 1 Maart in gebruik en ons sien reeds dat baie meer leerders begin hokkie speel. Die B- en C-spanne kry ook meer kans op ontwikkeling omdat hulle toegang tot ‘n gehalte-fasiliteit het. Daar word meer kinders in provinsiale spanne opgeneem en die algemene prestasie op die hokkieveld het verbeter.

Vertel ons van die amptelike opening op 6 Junie – wat was vir jou die hoogtepunte?
L: Vir my was die absolute, oorweldigende hoogtepunt om die opgewondenheid en die blink in die oë van almal wat betrokke was, te beleef. Ek is opreg dankbaar dat ek deel van hierdie grootse droomprojek kon wees.

Zahn, wat kom volgende met betrekking tot Atterbury se betrokkenheid – nog verbeteringe by hierdie skool, of word ’n volgende skool nou onder hande geneem?
Ons het aanvanklik ’n groep van meer as 20 skoolhoofde van regoor Suid-Afrika uitgenooi om hulle meer van die projek te vertel. Daar is reeds ’n paar skole wat besig is met hulle projekvoorstelle, aangesien ’n deeglike noulettendheidsondersoek gebeur voordat enige projek goedgekeur word. Daar word onder andere na lewensvatbaarheid, potensiaal vir groei, bestuur en finansiële stabiliteit van potensiële skole gekyk. Ons fokus veral op infrastruktuurontwikkeling soos byvoorbeeld koshuise, ekstra klaskamers en verbetering van die akademiese program.

Wat reken jy is die groter impak van hierdie projek en hoekom is dit so belangrik?
Z: Ons sien toenemend in ons land dat die burgerlike samelewing inspring om vooruitsigte en lewensomstandighede rondom hulle te verbeter. Die behoud van Afrikaans en Afrikaanse onderwys is vir ons by Atterbury Trust geweldig belangrik. Uitnemendheid is vir ons ononderhandelbaar. Dit is daarom vir ons ’n doelwit om hande te vat met organisasies wat soos ons dink, en ons kundigheid wil gebruik om hoekies van uitnemendheid in Suid-Afrika te skep. Op hierdie manier gee ons hoop en verander ons die land ten goede en skep sodoende vooruitsigte vir die volgende generasie.