Vir Atterbury Trust is dit geweldig belangrik om benewens die finansiële hulp wat ons namens ons borge bestuur, vir elkeen van ons beursstudente soveel moontlik ondersteuning te gee sodat elkeen sy of haar heel beste kan doen. ’n Belangrike deel hiervan is die persoonlike aandag en die mentorsessies wat elke student by Leonie du Preez van Gro Life Coaching kry. En die resultate spreek vanself – bykans 97% van ons beursstudente slaag, wat vir almal wat betrokke is, van die student tot die beursborge tot ons ondersteuningspan, die grootste prys is. Ons het met Leonie gesels oor hierdie “geheime wapen” vir sukses.

Hoe werk die Gro Life benadering?
Gro Life Coaching is passievol oor die persoonlike ontwikkeling van elke individu. Vir my persoonlik gaan dit regtig om ander mense te help “Gro” – dis so bevredigend om iemand te kan help groei in alle aspekte van sy of haar lewe; geestelik, emosioneel, fisies en intellektueel. Ons beywer ons ook om jongmense te help om ’n gebalanseerde uitkyk en positiewe houding oor die toekoms, hul lewe en Suid-Afrika te beleef.

Vertel ons hoe Gro Life en jy en Atterbury bymekaar uitgekom het
Ek het vrywillig gewerk by die MAD Foundation, Francois Pienaar se welsynsorganisasie, en daar het iemand een mooi dag vir my Zahn Hulme se nommer gegee. Ek het Zahn gebel, ons het ontmoet, en sy het my net daarna laat weet dat ek die volgende Maandag al kon begin. Dit was soos ’n droom. Ek is al vanaf 2011 by Atterbury Trust se beursstudente betrokke.

Wie is Leonie as sy by die huis is?
Ek is een van vier kinders, het in Johannesburg grootgeword, en aan Hoërskool Linden gematrikuleer. Daarna het ek as ’n au pair Amerika gaan verken, en toe ek terugkom, is ek Pukke toe, waar ek my honneurs in avontuurterapie en fasilitering met lof geslaag het. Ek het begin om werkswinkels by skoolkampe en leierskapskampe aan te bied, en Gro Life Coaching is uit hierdie passie vir die natuur, vir mense en vir die lewe ontwikkel. Ek is al vir vyf jaar met Jaco getroud en het twee kinders, Markus en Karli.

Hoeveel Atterburystudente is al deur jou hande?
Sjoe, dis moeilik om te skat, maar ek sien gemiddeld so 24 studente per maand. Ek reis ook tussen die verskillende universiteite – van die Universiteit van Kaapstad tot Noordwes Universiteit en Universiteit van die Vrystaat, tot Wits, Stellenbosch en die Universiteit van die Wes-Kaap.

Presies wat behels ’n tipiese Gro-sessie?
Gro-sessies is gewoonlik een tot een, maar ons bied ook van tyd tot tyd werkswinkels vir groepsessies aan. Daarvoor gebruik ons vrywilligers uit die Atterburyspan, asook vriende van Atterbury, soos Renier Holtzhausen onlangs, wat hulle hulp aanbied. Die Atterbury Trust beursstudente kom meestal uit ’n finansieël behoeftige agtergrond, en in baie gevalle is hulle die eerste een uit hul gesin wat die geleentheid het om te gaan studeer. Daarom doen ek verskeie sessies met elke student, en ek gee leiding oor ’n verskeidenheid lewensvaardighede, soos effektiewe tydsbestuur, kommunikasiestyle en -vaardighede, kreatiewe denke en probleem-oplossingstegnieke, sowel as doelwitstelling en studiemetodes.

Wat vind jy is die grootste behoefte onder die jong studente as jy hulle die eerste keer ontmoet?
Omdat baie van die jongmense uit moeilike huislike omstandighede kom, vind ek dikwels dat hulle te kort skiet wat self-kennis, selfvertroue en selfrespek betref.  Ons Gro-sessies bemagtig studente om in hulself te glo en werklik hul studies met selfvertroue en ywer aan te pak. Wat Atterbury aan hierdie jongmense bied is soveel meer as net om net bloot hul studies te betaal – hulle word ook bemagtig om die uitdagings van die grootmenswêreld met selfvertroue te kan aandurf.

Hoekom dink jy is mentorskap vir ons studente so belangrik, en wat is van die beste resultate wat jy al beleef het hiermee?
Mentorskap is van kardinale belang vir elke mens om sy of haar volle potensiaal te bereik. Die sukses van Gro Life Coaching kan nie altyd gemeet word aan spesifieke resultate nie, maar as ’n mens kyk na die jongmens wat vir daardie eerste beursonderhoud opdaag, en dan hoe hulle menswees ontwikkel tot die einde van hul studies, is die groei baie sigbaar. Dis baie bevredigend dat baie van die studente selfs nadat hulle graad gevang het, my steeds vir Gro-sessies kontak.

So jy behou kontak met van die studente wat jy deur die program ontmoet het – kan jy dalk een suksesstorie deel?
Jean Ray Pearton was een van die eerste studente wat ek ontmoet het. Hy het albei ouers verloor toe hy jonger was. Jean Ray is nou ’n suksesvolle prokureur in Pretoria en het sopas sy laaste betaling aan die Atterbury Trust gemaak en sy beurslening in ’n rekordtyd terugbetaal. Hy het die Atterbury Trust-kultuur só deel van sy lewe gemaak dat hy aangebied het om huidige Atterbury Trust beursstudente, spesifiek in ’n regsrigting soos hy, te help. Hy het besef watter ongelooflike geleentheid hy gekry het, en doen sy deel om ander ook op hulle pad te help. Sulke stories laat ons almal hier by Atterbury Trust se harte warm klop!

Vertrou jou beursskenking aan ons toe, en ons sal met Leonie se Gro Life-hulp verseker dat die student wat voordeel trek uit jou skenking ook die aandag en ondersteuning kry wat nodig is vir sukses. Om te skenk, kliek hier.