Chrisna van Staden, 21, is ’n derde-jaar onderwysstudent, besig met haar B Ed by Unisa. Sy glo daaraan om elke dag ietsie vir haar medemens te doen, en is ook akademies een van Atterbury se toppresteerders. Ons hoor wat haar inspireer…


Vertel ons meer oor jou agtergrond.
Ek is een van twee kinders. Ek het aan die Oosrand groot geword en in Benoni gematrikuleer. Ons is ’n baie gehegte gesin. Dit is slegs ek, my ma en my kleinsus wat nou 12 is. My ma het my grootgemaak; ek het geen kontak met my biologiese pa nie. My ma het my nog altyd ondersteun en bygestaan. Ons is al deur baie moeilike tye saam.

Hoe het jy by Atterbury se beurs uitgekom?
Ek wou altyd verder studeer na skool, maar was onseker oor hoe ek dit finansieël sou kon bybring. Ek het by verskeie instansies aansoek gedoen vir beurse, maar is elke keer afgekeur. Ek het bietjie gaan navorsing doen en ander opsies oorweeg toe ek hoor van Atterbury Trust. Ek het meer uitgevind oor die beurs en aansoek gedoen.

Wou jy altyd ’n onderwyser geword het, of was daar kleintyd ander planne?
Ek wou nog altyd onderwys studeer, vandat ek in Graad 6 besef het ek het ’n natuurlike aanvoeling vir kinders en geniet dit om met hulle te werk. Ek glo ek het ’n unieke manier van inligting oordra; ek is baie passievol en dit is vir my ’n seën om elke dag met kinders te kan werk.

As jy enigiemand kon kies as mentor, wie sou dit wees?
My hoërskoolonderwyseres Maxine Kleynhans – sy het altyd die positiewe in ’n situasie gesien en nooit toegelaat dat omstandighede haar onderkry nie. Sy het geglo dat aanhouer wen en nooit handdoek ingegooi as dinge moeilik raak nie. Sy is ’n groot bron bron van inspirasie vir my. Sy het al so baie dinge in die lewe bereik en verbeter haarself daagliks. Sy kan altyd ’n verskil maak en moedig my aan om ’n beter mens te wees. Sy is aktief betrokke by liefdadigheid en deel gereeld liefde (en lekkernye) by kinderhuise uit. Sy het onlangs self twee kinders aangeneem. Sy was altyd reg met ’n motiverende woord en haar skouer is altyd daar as jy die dag moed verloor en nie die lig aan die einde van die tonnel kan sien nie.

Het jy ’n gunsteling slagspreuk waarvolgens jy leef?
Carpe diem – gryp die dag. Die lewe is te kort en ’n mens weet nooit wanneer dit jou laaste dag is nie, daarom moet jy elke dag ten volle benut en altyd voluit leef.

Waar hoop jy om oor vyf jaar te wees?
Ek hoop om teen dan ’n departementele pos by ’n skool te hê wat aan my werksekerheid in die toekoms sal bied. Ek wil ook dan reeds my honneursgraad voltooi het of naby daaraan wees. Ek sou ook as onderwyser wou groei en ’n sukses maak van my loopbaan. Op persoonlike vlak sou ek as mens wou groei en myself verbeter. Ek hoop om teen daardie tyd ’n verskil te kon maak in die lewe van dié wat minder bevoorreg is as ek.

Gestel jy kry ’n blanko tjek om minderbevoorregtes mee te help – wat sou jy daarmee doen?
Ek sal ’n sentrum stig wat voorskoolse onderwys bied aan kinders wat dit nie kan bekostig nie. Ek sal ook help om die algehele lewensgehalte van ons minderbevooregte gesinne in die omgewing te verbeter.

Met jongmense soos Chrisna aan die stuur, kan daar net hoop wees vir die land! Help ons om nog uitblinkers met goeie harte in staat te stel om hul studiedrome waar te maak – kliek hier vir inligting oor hoe jy ’n donasie kan maak en ’n belastingsertifikaat kan ontvang.