’n Dorp se trots

’n Dorp se trots

Die Hoërskool Nelspruit se nuwe kultuursentrum is die trots nie net van die skool nie, maar van die hele dorp, trouens, die hele Laeveld, omdat dit die drome weerspieël om Afrikaanse onderrig te ondersteun en areas van uitnemendheid te skep wat toekomstige generasies sal bevoordeel. Hoewel die Trust vir Afrikaanse Onderwys die vernuwings befonds het, het die hele gemeenskap saamgespan. Die pa-en-seun-span van Anton en Sias Bosch was nou betrokke as die keramiekkunstenaar en die argitek wat gesorg het vir die gebou se kenmerkende voorkoms. Ons het hulle uitgevra oor hul inspirasie.

Sias, jy en Gerhard Jooste van GJ Argitekte in Nelspruit was die argitekte agter die projek. Vertel ons meer oor die ontwerp van die kultuursentrum. Wat was die inspirasie en hoe het julle dit verwesenlik?
Sias: Ek neem baie inspirasie uit die natuur. Die skoolgronde was n groot “generator” van idees, veral met die pragtige gevestigde bome. Dit was moontlik om die gebou tussen die bome te plaas, wat die simbiotiese verhouding tussen argitektuur en natuur beklemtoon. Ek is self ‘n oud-Nellie en ek onthou hoe lekker ons altyd onder die bome gesit en gesels het. Dié konsep wou ek behou. Dit het struktuur geskep vir die ontwerp om die gebou vier-dimensioneel te ervaar: onderdeur; reg om; bo-op en tussendeur. Die stoepe maak die meeste van die Laeveld se ongelooflike klimaat. Die kafeteria vloei uit onder die bome in, en die kunskamer skep geleentheid om tussen die bome te skilder. Die danssaal en sy posisie word gesimboliseer as ‘n verhoog met die hoofparkeerterrein van die skool as skare wat afkyk op die kinders wat dans en oefen. So vorm die hele gebou een organisme.

Hoe, en hoekom het GJ Argitekte betrokke geraak by die projek? Wat is julle verbintenis met die skool?
Sias: GJA het al vantevore met groot sukses saam met die skoolhoof, Louis Swanepoel, werk by Hoërskool Nelspruit aangepak; vandaar ons verhouding met die skool. Dié slag het Gerhard [Jooste, die hoofargitek van GJA] my die kans gegee om die projek te dryf, en met sy leiding kon ek weer betrokke raak by die skool waar ek destyds my spore geloop het.

Wat was die grootste uitdaging wat julle moes oorkom met die hele projek?
Sias: Beslis om die funksie en die gevoel wat die gebou uitlok bymekaar te bring. Om die kultuur vas te vang, moes die direkte omgewing en argitektuur in balans wees. Dit speel ‘n groot rol om leerders toe te laat om binne die omgewing van kultuur te groei en te ontwikkel.

En wat was die lekkerste deel daarvan?
Sias: Dit was ’n voorreg om met so ‘n professionele span mense saam te werk. Die kontrakteurs en subkontrakteurs het baie harde werk en baie tyd na ure ingesit, en ek wil die hele span daarvoor bedank!

Anton, jy is die skepper van die pragtige driedimensionele kunswerk aan die buitekant van die sentrum. Vertel ons meer van die ontwerp?
Anton: Die skool se leuse is Palmum qui merit ferat, Latyns vir laat hy wat dit waardig is, die palmtak dra. Die ontwerp (‘n blom met ‘n hart, en blare) is ‘n simboliese uitbeelding van hoe kunsonderrig die kinders verryk, soos ‘n plant wat blom as dit water kry. Die meeste van my kunswerke is simbolies van aard.

Hoe het jy betrokke geraak by die projek en hoe het jy dit benader?
Anton: Sias het my genader om ‘n dekoratiewe keramiekmuur vir die kultuursentrum te ontwerp en installeer. Ek is ook ‘n oud-Nellie, so die skool was my inspirasie, spesifiek die kinders wat sal baat by die kreatiewe blootstelling. Keramiek-klei was ‘n logiese keuse omdat dit alle weerstoestande weerstaan en dekoratief aangewend kan word.

Hoe lank het dit jou geneem om die werk te skep, van ontwerp tot finale afronding teen die muur?
Dit het my drie-en-‘n-half maande geneem om die keramiekvorms te maak, in die oonde te vuur, die ontwerp uit te pak en laastens te installeer.

Was daar enige besondere uitdagings met die projek?
Die uitdaging was om die omtwerp van ‘n plat vlak na ‘n vertikale vlak te bring en fisies was die uitdaging om die ronde kleiklippe een vir een vas te sement teen ‘n ses-meter-hoë muur.

En was jy gelukkig met die eindresultaat?
Ja, op die ou end het al die elemente saamgevloei en die finale werk is ‘n groot sukses.

 

 

 

Leave a Reply