Twee-en-’n-half uur per trein uit Boedapest, is Bratislawa, die hoofstad van Slowakye. Hierdie pragtige ou Oos-Europese stad kan jy in een volgepropte dag sien, vertel Marianne Styan op Maroela Media se webwerf

07:45 – Dis winter in Slowakye, dus is dit nog nie behoorlik lig toe ons wakker word nie. In 1993 het Tsjeggo-Slowakye in twee lande verdeel naamlik Tsjeggië met Praag as hoofstad en Slowakye met Bratislawa as hoofstad.

09:15 – Dit is nou ligter buite en die sneeu val liggies. Na ʼn ontbyt is ons reg om die Ou Stad te gaan verken. Die woonstel wat ons deur AirBnB gehuur het, is net ’n paar blokke van die bekende Danube-rivier sowel as die Ou Stad. Ons bewonder eers die mooi brûe wat oor die wye rivier span. Die een brug het ʼn struktuur met ʼn restaurant hoog in die lug wat bekend staan as die Vlieënde Piering as gevolg van sy sterk ooreenkoms met ʼn Vreemde Vlieënde Voorwerp.

09:45 – Ons verkyk ons aan die ou argitektuur oral. Die geboue is minder “versier” as in Praag maar die styl stem baie ooreen. Op die hoek van Mostova- en Jesenskéhostrate, voor die pragtige Operahuis staan die eksentrieke rooi bussies van Bratislava by Sightseeing-toere. Die vriendelike vrou wat hulle bemark verduidelik op ons navraag dat die bussie vir net so oor ʼn uur rondry en vir 15-20 minute ʼn breek vat by Bratislawa se kasteel (Bratislavský Hrad). Kaartjies kos €10 elk.

10:00 – Ons stap die Ou Stad binne en kom amper onmiddellik af op een van die bekendste Namesties (plein in Slowaaks). Dis Hlavné Námestie veral bekend as gevolg van die verskeie bronsstandbeelde wat jy kan vind en die pragtige ou stadsaal (Stará Radnica). Die beelde sluit in die bekendste Cemil, ʼn straatwerkermannetjie, wat by ʼn mangat uitloer, die vriendelike Schone Naci wat sy keil vir ewig vir almal lig, gegrond op ʼn ware persoon wat die strate van Bratislawa bewandel het. Laastens vind ons die Napoleonsoldaat wat koddig, met sy hoed oor sy oë getrek, op sy gevoude voorarms op ʼn bankie leun.

10:30 – Op die plein sien ons ʼn café met die naam Schococafe. Hulle verkoop sjokolade en die grootste verskeidenheid warm sjokoladedrankies waaraan jy kan dink. Om die koue te verjaag bederf ons onsself elkeen met een. Daar is geure van amandel, peperment, vanilla, en die lys gaan voort. Dit is hemels!

11:00 – Ons klim in die pikante bussie en sit ons oorfone aan om vir die volgende 35 minute na interessante feite oor die stad te luister. Ons ry om die ou stad en hoor die stad met sy 500 000 inwoners is eintlik ʼn universiteitstad.

11:35 – Ons stop by die pragtige Bratislawa-kasteel met sy wit geverfde mure en torings. Van hier kry jy ʼn arendsuitsig oor die stad. Die ryk, soms moeilike geskiedenis wat die kasteel tot sy huidige voorkoms gebring het, wat insluit brande, oorloë, nuwe konings en koninginne, het daartoe gelei dat die plek vandag gebruik word vir kantoorspasie. Jy kan wel die atrium in die middel besoek.

12:15 – Ons stop by ons beginpunt. Ons het gisteraand toe ons in die stad aangekom het, verby ʼn baie oorspronklike restaurant/boekwinkel gestap net buite die ou stad – Gorila.sk Urban Café. Ons besluit om daar middagete te geniet en koffie te drink. Fantastiese ruspunt langs die pad.

Ritsgids:

  • Jy kan in Euros betaal.
  • Die ou stad, wat ook maar die grootse aantrekkingskrag is, kan maklik in ʼn dag gesien word.
  • AirBnB was ʼn wonderlike manier om bekostigbare goeie verblyf te kry.
  • Ons het per trein vanaf Wenen, Oostenryk na die stad gekom. Dis ʼn uur se ry. Vanaf die stasie kan ʼn mens busse of trams gebruik om tot by die ou stad te kom. Die openbare vervoer is goedkoop.
  • Boedapest is twee en half ure per trein ver.

Dit was net die oggend! Lees oor die res van Marianne se dag vol nuwighede en interessante ontdekkings hier:

http://maroelamedia.co.za/blog/goeiegoed/reis/reisartikel-n-dag-in-bratislawa/

Atterbury het self al gaan kyk hoe lyk Bratislawa… lees meer hier