Atterbury se toewyding tot opvoeding is een van ons hartspunte, en dit begin by die betrokkenheid by behoeftige skole in ons onmiddelike omgewing. Laerskool Westerlig is al vir meer as 15 jaar onder ons vlerk. Ons gesels met die skoolhoof, Erich Cloete.

Wat behels Atterbury se betrokkenheid by Laerskool Westerlig, en hoe help dit die skool?
Atterbury gee ons al sedert 2002 finansiële en ander ondersteuning, en dit stel ons in staat om volhoubare onderwys in n uitdagende sosio-ekonomiese gebied te lewer wat ons andersins net nie sou kon doen nie. Ek weet dat Atterbury se waarde en belang in die onderwys, spesifiek by ons skool, oor generasies heen sigbaar sal wees.

Met julle hulp doen ons so baie – van akademiese tot maatskaplike ondersteuning, tot daaglikse maaltye vir leerders uit gesinne wat nie altyd kos kan bekostig nie. Leerders word verwys na maatskaplike werkers, sielkundiges en spelterapeute om hulle emosionele seer gesond te maak; arbeidsterapeute vir diégene wat akademies sukkel. Min van ons ouers het mediese fondse om dit self vir hul kinders te kan doen.

Kinders wie se ouers dit nie kan bekostig nie, kry skryfbehoeftes – ’n pen, potlood, gom en selfs plastiek om boeke mee oor te trek, is nie ’n gegewe nie.  Kinders het dit nie en ons help waar ons kan.

Met Atterbury se finansiële hulp kan ons leesboeke en handboeke aankoop, dit help ons ook om ekstra personeel te bekostig. Ons personeel-toedeling van die onderwysdepartement is nie genoeg dat ons ’n onderwyser voor elke klas het nie.  Onthou – ons word deur die onderwysdepartement gesien as een van die rykste skole!  Dis helaas onwaar… ons omgewing  – Danville/Elandspoort/Phillip Nel Park – baie kinders se ouers is werkloos en woon in wendyhuise en ons ouers se finansiële vermoë word glad nie in ag geneem nie! Atterbury se ondersteuning aan ons skool is van onskatbare waarde. Dankie uit die diepte van ons hart… ’n Gemeenskap sê dankie!

Hoe lank is jy al skoolhoof hier, en wat het jy voorheen gedoen?
Ek was nog altyd in die onderwys; die afgelope 22 jaar in onderwysbestuur, en is van 1997 by hierdie skool. Toe ek as adjunkhoof hier begin het, wat dit nog Laerskool Danville. Ek het in 2002 skoolhoof geword en ons naam is in 2004 verander na Laerskool Westerlig. Die grootste deel van my onderwysloopbaan is dus gewy aan die opheffing van hierdie unieke en eiesoortige gemeenskap.  Die afgelope 12 jaar het ons sterk gefokus op heelbrein onderwys, en werk nou saam met Dr Kobus Neethling, president van die Kreatiwiteitsvereniging in Suid-Afrika.

Vertel ons meer omtrent jouself?
Ek stel baie belang in leierskap en bestuur, ook kreatiwiteit en heelbreindenke en emosionele intelligensie. Ek is ’n NBI (Heelbreinpraktisyn) en lid van die South African Neuroscience Society; ’n heelbreindenker met ’n oog vir kreatiwiteit en “beyondness” – oftewel die plek waar mens bewussyn, waagmoed, passie, energie, wysheid, dankbaarheid en blydskap demonstreer. Ek hou daarvan om kuns te skep, maar nie die soort kuns waarvoor jy ’n kwas of beitel gebruik nie – vir my beteken kuns om konneksies te maak, transformasie te bewerkstellig. Ek het twee kinders, Annika en Hanrich. Annika is tans besig met onderwysstudies aan die Universiteit van Pretoria, en Hanrich sal in 2018 in Graad 12 aan die Hoërskool Tuine wees. Ek is gebore in Durban, maar is ’n getroue Blou Bul ondersteuner. Ons woon tans in Pretoria Tuine.

Hoeveel leerders is in die skool?
Ons het tans 750 leerders in die skool vanaf Graad R tot Graad 7.

Wat is die besondere uitdagings wat jy as skoolhoof van hierdie spesifieke skool moet hanteer? Het jy genoeg betrokkenheid van ouers, byvoorbeeld?
Die twee grootste uitdagings is finansiële volhoubaarheid en akademiese prestasie. Omdat so baie van die ouers kwalifiseer vir vrystelling van skoolgeld en ander ouers swak betalers is, is die skool se kontantvloei toenemend onder druk. Ons het in 2016 R1.2 miljoen se vrystellings toegestaan maar op 1 Desember 2017 slegs R38 000 van die Departement ontvang, as kompensasie vir die vrystellingsbedrag! In 2017 het ons vrystellings van R1.3 miljoen toegestaan.  Baie dinge wat ander skole en ouers as ’n gegewe aanvaar, is vir ons ’n luukse.  Tog is ons drome dieselfde as enige ander skool in Pretoria. Ons is dus afhanklik van donateurs buite Danville – besondere mense met oop harte wat ons ondersteun. Ons word gedwing om elke dag in geloof te leef, ’n genade bewustheid te hê dat ons Hemelse Vader sal voorsien. Atterbury se ondersteuning vanaf 2002 – 2017 is weereens ’n getuienis hiervan.

Uitnemende akademiese prestasie bly ‘n uitdaging. Baie van ons leerders kry gebrekkige stimulasie in die voorskoolse jare en as hulle formele onderwys in Graad 1 betree, is hulle nie volkome skoolgereed nie.  Met ons beperkte hulpbronne en beperkte kontant is dit baie moeilik om die agterstande uit te wis.  Gebrekkige ouerondersteuning tuis of ouers wat nie die nodige kennis en vaardighede het om te ondersteun nie, maak ons taak soveel moeiliker. Die ouergemeenskap wys nie altyd waardering teenoor die personeel, wat baie hard werk om die agterstande uit te wis nie, wat die onderwysers laat voel hul word nie waardeer nie.

Wat is vir jou die mees spesiale eienskap van jou skool – waarop is jy die trotsste?
Ons gee nie moed op nie!  Ons is uithouers, aanhouers en wenners!  Ons maak die onmoontlike moontlik! Ons maak gereeld kopskuiwe! Innovasie gebeur nie so vinnig soos ons dit graag sou wou sien gebeur nie, maar ons het n onwrikbare geloof en ingesteldheid dat ons suksesvol sal wees in die doelwitte wat ons stel.

Wat is die grootste behoefte by jou skool? As jy ’n Krismislysie kon uitstuur vir die skool, wat sou bo-aan die lysie wees?
Enige vorm van finansiële ondersteuning om die kontantvloei te verbeter, is welkom. As iemand wil help, kan hulle ’n behoeftige ouer se skoolgeldbetaling oorneem, of brandstof verskaf vir die busroetes wat ons elke dag ry om leerders na die skool toe te bring en in die middae weer huistoe te neem.

Ons besef egter dat mense nie altyd kontant wil gee nie. Ons ontvang enige van die volgende met dankbaarheid:

  • Papier– wit A4;
  • Bekleedsel vir ons 1971 bus – die sitplekke moet weer oorgetrek word;
  • Diens van en herstelwerk aan ons twee bussies;
  • Atletiekklere vir ons atlete – ons het nie genoeg om die nodige te koop nie.
  • Skoolklere vir behoeftige leerders wie se ouers dit nie kan bekostig nie;
  • Skoonmaakmateriaal;
  • Toiletpapier;
  • Gras om die sportveld in goeie kondisie te hou.

As jy ’n bydrae kan lewer in enige van die geïdentifiseerde behoeftes, kontak gerus die skoolhoof by [email protected]