Prof Gerhard van Huyssteen

Prof Gerhard van Huyssteen

Sowat ’n jaar gelede het die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) kom aanklop by die Atterbury Trust met ’n baie interessante proposisie… die bou van ’n Afrikaanse woordeboek-app. Hoewel daar vandag soveel slimfone in sirkulasie is, is daar geen gesaghebbende app vir Afrikaans nie, en dit val reg in Atterbury se kraal om die taal te ondersteun met nuwe tegnologie.

“Basies is die idee ’n app soortgelyk aan die WAT en die HAT; ’n woordeboek wat in skole gebruik kan word. Ons wil Afrikaans bevorder in lyn met die Trust se doelstellings, so ons het besluit om handjie by te sit met die befondsing,” vertel Atterbury se Zahn Hulme.

As jy in Engels jou woorde kwyt raak is daar honderde, indien nie duisende nie, opsies beskikbaar om naslaanwerk te doen, maar die apps wat ook Afrikaans aanbied is deur oorsese maatskappye ontwikkel en dus geneig om vol foute te wees. Ons kan dalk nie altyd ons monumente beskerm nie, maar ons kan beslis ons taal help voortbestaan en ontwikkel, en dit is wat VivA met die nuwe Woordeboekportaal app wil regkry.

’n Woordeboek, tesaurus en heelwat meer op jou selfoon… dit is wat VivA Woordeboekportaal is. Vertalings, woordbetekenisse en sinonieme word hiermee maklik nageslaan, en daar is ook ander dienste, insluitende spelwenke, vertel Prof Gerhard van Huyssteen, VivA se uitvoerende direkteur.

En as jy nog nie van VivA gehoor het nie; dit is ’n navorsingsinstituut en diensverskaffer vir Afrikaans in digitale kontekste en ’n geregistreerde maatskappy sonder winsoogmerk. Die organisasie is gestig as ’n gesamentlike projek deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), die Dagbreek Trust en Noordwes Universiteit.

“Wat ons doen is om Afrikaans plaaslik en internasionaal uit te brei deur die lewering van praktiese Afrikaanse taaldienste, deur middel van tegnologie. Ons ontwikkel omvattende digitale en ander hulpbronne en hulpmiddele asook platforms vir gesproke en geskewe Afrikaans,” verduidelik Prof Van Huyssteen. ’n Aanlyn, elektroniese Afrikaanse terminologiediens word ook beplan. “Een van Afrikaans se grootste skatte is die enorme vakkundige woordeskat wat oor baie jare ontwikkel is. VivA wil hiermee voortgaan deurdat kundiges terme sal skep en gebruikers dan die databasis sal kan raadpleeg. Ons is baie bly om te kan sê dat Protea Boekhuis se ‘Kuberwoordeboek’ die eerste vakkundige woordeboek is wat hierby ingesluit sal word,” het Prof Van Huyssteen gesê.

Woordeboekportaal is gemik op mense tussen 15 en 25 wat ’n slimfoon het, wat Afrikaans aktief gebruik en wil seker maak hulle gebruik dit reg. Volgens Prof Van Huyssteen is die hoop dat minstens 10 000 gebruikers dit sal aflaai en dit op ’n skaal van vyf minstens ’n vier sal gee.

Zahn is opgewonde oor die vooruitsig. “Dink net hoe nuttig gaan dit vir die hele gesin wees – kinders sit en huiswerk doen en as Pa vashaak met die blokkiesraaisel, kan die tiener sy foon nadertrek en Woordeboekportaal aantree om te help!”

Die plan is om Woordeboekportaal binne die volgende twee maande te loods met ’n uitgebreide sosiale-media veldtog, om soveel as moontlik Afrikaanse skole te betrek.

“Dit is vanjaar 90 jaar sedert Afrikaans as amptelike landstaal erken is, so dis ook vir ons simbolies om te kan aanhou bou aan die taal met die mees moderne tegnologie tot ons beskikking,” sê Prof Van Huyssteen.

Die VivA Woordportaal app is vir Android en iOS ontwikkel sal gratis beskikbaar wees vir slimfone en tablette op die Play Store en App Store. Boekmerk solank die webwerf: http://www.viva-afrikaans.org en hou hierdie spasie dop!