Dit was ‘n behaaglike aand van vermaak, ontspanning en bederf toe meer as 400 gaste van heinde en ver op 24 Januarie by Rust en Vrede landgoed in Stellenbosch saamgetrek het vir Versnit 2015. Die eksklusiewe jaarlikse musiekkonsert wat die breinkind is van Atterbury se Louis van der Watt en sy goeie vriend die wynmaker Jean Engelbrecht, het vanjaar sy vierde verjaardag gevier met ‘n onvergeetlike aand tussen die wingerde.

Stel voor ‘n soel Bolandse somersaand, ‘n gastelys wat met die hand uitgekies is, uitstekende Rust en Vrede wyne, en die son wat sak teen die asemrowende agtergrond van Stellenbosse berge… Voeg daarby ‘n fyn beplande musiekkeur uitgevoer deur ‘n handvol van die voorste Afrikaanse kunstenaars, Meneer Voetspore homself, Johan Badenhorst, om die verrigtinge te lei, en jy het Versnit.

Die idee vir die jaarlikse konsert het in 2012 vorm gekry toe Jean Engelbrecht besluit het om ‘n klein groepie van sy vriende en vennote te trakteer met ‘n aand van goeie Afrikaanse vermaak. Hy het met Louis van der Watt begin praat en met Atterbury en Attacq se bydrae het die plan gegroei tot ‘n behoorlike versnit van goeie idees. Die bevordering van kultuur is nie verniet een van die Atterbury Trust se hoofdoelwitte nie. En die gaste van Versnit dra elke jaar ruimhartig by tot Atterbury Trust se studiebeursfonds vir behoeftige studente, so dit is ‘n aand wat diep spore trap.

Vanjaar se droomlys van sangers het ikone in die Afrikaanse musiekbedryf soos Laurika Rauch, Amanda Strydom, Riana Nel en Steve Hofmeyr en van hul geliefde treffers ingesluit, maar ook die gehoor bekend gestel aan vars Afrikaanse fondse soos die nuweling Joshua Na Die Reën, wat die gehoor bekoor het met sy pragtige klavierspel. Die jong Johannesburgse musikant se duet van Kinders van die Wind saam met Laurika Rauch het die gaste behoorlik in ekstase gehad.

Laurika is aan die einde van die aand vereer met ‘n Versnit toekenning vir haar lewenslange bydrae tot die Afrikaanse kultuurskat – ‘n eer wat verlede jaar aan PG du Plessis gegee is en wat nou ‘n Versnittradisie sal word.

Produksiebestuurder Alexa Strachan vertel dat die keuse van kunstenaars elke jaar fyn beplan word, om van jaar tot jaar genoeg variasie te hê, met een of twee wat oorgedra word van die vorige jaar om ‘n mate van kontinuiteit te bou. “Laurika en Elvis Blue is so oorgedra van verlede jaar, maar die samestelling word baie fyn beplan, en almal wat deelneem is sangers met werklike artistieke integriteit. Mathys Maree, ons musiekregisseur is geniaal… hy het werklik iets ongelooflik spesiaal saamgevoeg vir Versnit.”

Die kunstenaars wat uitgenooi word om op te tree, ervaar dit ook as iets buitengewoon. Die Kaapse sanger Elvis Blue noem dit een van die mooiste plekke op aarde om op te tree: “Die wyn, die mense, die musiek, die agtergrond van Rust en Vrede – mens kan nie vir meer vra nie.”

Dit was ‘n aand vol hoogtepunte, vertel Alexa, van Amanda Strydom wat haar geliefde treffer Ek Loop die Pad gesing het, tot Adam Tas en Jannie Moolman se nostalgiese liedjies oor die plaaslewe wat so goed ingepas het in die pragtige omgewing tussen berge en wingerde.

Na sowat twee uur van pure genot is die aand afgesluit deur nog ‘n Versnit-tradisie – al die kunstenaars as ‘n groep wat Johannes Kerkorrel se Halala as die grand finale sing.

Agterna is daar verder gekuier, asof mense nie die towerkrag van die aand wou verbreek nie, sê Alexa. “Soos een van die gaste aan die einde van die aand vir my gesê het: ‘Dis elke jaar beter! Julle het wraggies weer die grense verskuif vanaand. Ek kan nie wag vir 2016 nie…”

[gdlr_button href=”https://atterburytrust.org/kultuur-galery/” target=”_self” size=”medium” background=”#00438b” color=”#ffffff” with_border=”yes” border_color=”#00438b”][gdlr_icon type=”camera”]FOTO GALERY[/gdlr_button]