Vir die vyfde agtereenvolgende jaar het Atterbury, Attacq en wynmaker Jean Engelbrecht van Rust en Vrede saamgespan om op die laaste Saterdag in Januarie ’n onvergeetlike aand in die Stellenbosse wynlande aan te bied.

Versnit 2016 was soos in vorige jare ’n wonderlike samesmelting van die beste in Afrikaanse musiek, die beste wyne van die streek, ’n asemrowende buitelug-ligging en ’n geselskap van vriende met groot harte. Die doelstelling? Om die Atterbury Trust se werksaamhede vir die jaar ’n geldelike hupstoot te gee, en weer eens was die sakke diep en die bydraes ruimhartig. Oor die afgelope vyf jaar het Versnit-donasies nie minder nie as R2,5 miljoen rand ingebring, wat Atterbury in staat stel om onder andere ’n groeiende aantal belowende studente te help om hul volle potensiaal te bereik. Die jaarlikse Versnittoekenning vir besondere bydrae tot die Afrikaanse taalskat is vanjaar aan televisielegende, Riaan Cruywagen gemaak.

Dit was behoorlik ’n smorgasbord van Afrikaanse sangtalent wat die bykans 600 gaste vermaak het teen ’n agtergrond mooier as enige teater ter wêreld… die sonsondergang oor die wingerde, teen die Hottentots Hollandberge. Ontspanne op die grasperke, op kussings en komberse, met heerlike versnaperinge en top Rust en Vrede landgoedwyne… Versnit 2016 het vyf-ster ’n heeltemal nuwe betekenis gegee! Vanaf die oomblik wat Karen Zoid met oorgawe ingeval het met ’n rock weergawe van Valiant Swart se treffer Sonvanger en die konsert op ’n dawerende rock-noot begin het, was die gaste vasgenael voor die verhoog.

Onder die briljante musiekleiding van Atterbury Teater se Matthys Maree het een na die ander top Afrikaanse kunstenaar bygedra tot ’n uitsonderlike mengsel van solonommers, oorspronklike musiek en geliefde ou treffers, duette en groepsamesang. Daar was Laurika Rauch en Steve Hofmeyr; Corlea Botha en Elvis Blue… en die spesiale verrassing van rocker Francois van Coke wat solonommers asook sy pragtige trefferduet saam met Karen Zoid, “Toe Vind Ek Jou”, gesing het. Soos gebruiklik is ook nuwe Afrikaanse musiektalent voorgestel, in die vorm van die nuweling Herman Kleinhans wat verlede jaar Afri-Visie gewen het met sy liedjie “Ek Sweer”.

Dit het donker geword oor die berge en die wingerde voor die gaste mekaar en die pragtige tuine van Rust en Vrede gegroet het, tot volgende keer. Ons dank aan almal wat bygedra het om dit een vir die rekordboeke te maak.

facebook gallery