Behalwe die kunstenaars wat hul talente op die verhoog vier, is die Atterbury Teater ook die tuiste van Odyssey Records se ateljee, en dis waar die teater se mede-eienaar, die musikant Matthys Maree, besig is met ‘n projek om die Bybel in talle Afrikatale te vertaal.

Wat is die grootste uitdagings as dit kom by Bybelvertalings?
Dis beslis die soeke na die mees kultuur-korrekte beelde in vertaling, en om steeds so na as moontlik aan die oorspronklike teks te bly. Daar is menige terminologieë wat doodeenvoudig net nie bestaan in sekere Afrikakontekste nie en dan soek ons na parallelle wat dieselfde boodskap of beelde oordra. Nie alle verskille is versoenbaar nie, en die waarheid van die Bybel moet natuurlik steeds onverdun oorkom, maar om skielik in eeue-oue kulture in te stap met potensieel volksvreemde tekste is definitief nie eenvoudig nie! Gelukkig gebeur sendingwerk al vir baie jare en is die weg gebaan om nuwe vertalings na Afrikagemeenskappe te bring of slegs bestaande vertalings te herbesoek. Die opnames waarmee ons besig is gaan gratis aan mense beskikbaar gestel word in klank-formaat, vir diegene wat nie lees magtig is nie.

Het enigiemand voorheen die Bybel in Afrikatale vertaal?
Ja, maar hierdie vertalings is argaïes en dateer maklik uit die veertiger- of vyftigerjare. In oorleg met taalkundiges in elk van hierdie tale word die ouer vertalings hersien en nou opgeneem tesame met die druk van nuwe Bybels.

Met hoeveel vertalings is julle nou besig?
Ons is bykans klaar met die tweede taal (Luganda uit Uganda) en reeds klaar met Shona (Zimbabwe). Ons het verder reeds stemtoetse gedoen vir Yoruba (Nigerië) en Asante Twi (Ghana) waarmee ons eersdaags begin. Chichewa (Malawi) is ook bevestig vir die nabye toekoms.

Hoe groot is die span wat hieraan werk?
In ons ateljees is daar vier voltydse ingenieurs wat aan die projekte werk in samewerking met die stemkunstenaars en taal-eksperts vir elke taal, asook die Afrika- en Suid-Afrikaspan van Biblica vir wie ons hierdie projekte doen.

Het julle spesifieke doelstellings waarheen julle werk?
Ons het hierdie projekte geërf vanuit ander lande en ateljees wat nie die mas opgekom het nie. Een van die vorige tale kon nie eers binne ‘n twee-jaar tydperk suksesvol afgehandel word nie. Ons probeer om dit betyds en met deeglike deurlopende kommunikasie af te handel. Ons eerste taal is gedoen in ongeveer sewe maande, die tweede een sal binne vyf afgehandel wees en ons hoop om die volgende twee beide af te handel binne ses maande van aanvangs. Die proses om hierdie projekte so gou moontlik af te handel sal beteken dat meer tale vinniger aangepak kan word, ten einde miljoene mense regoor Afrika vir die eerste keer toegang te gee tot die Bybel in hul moedertaal. Daar is ook ‘n kans dat ons by ‘n paar Europese tale betrokke kan raak later in 2016.

Wie is die stemkunstenaars wat die voorlesings doen?
Ons doen oudisies vir stemkunstenaars en dan word ons keuses aan Biblica voorgelê – hulle kies. Waar moontlik is dit “expats” van die bepaalde land wat nou in SA woon; andersins vlieg ons iemand van daar in.

In watter formaat word die vertalings beskikbaar gemaak en wie versprei dit?
Enige oudioformaat – kompakskyf of MP3 spelers, of datastokkies. Biblica doen die verspreiding.

Wat is die lekkerste terugvoer wat julle al gekry het op julle werk?
Die eerste tale gaan waarskynlik eers teen die einde van hierdie jaar of deur 2016 die grond tref, so ons is baie angstig om te hoor hoe dit ontvang word. Intussen probeer ons om almal wat saam met ons werk ‘n baie positiewe belewenis van Pretoria en Suid Afrika te gee tydens die opnameproses. Dis inderdaad ‘n voorreg om aan hierdie grootse projek te deel en ek hoop regtig dat daar vele tale, nasionaliteite en kulture deur ons ateljees sal loop oor die volgende paar jaar!