Hierdie tyd van die jaar is Atterbury Trust se beurspaneel druk besig met onderhoude om beurskandidate te identifiseer vir volgende jaar. Dis ‘n inspirerende, maar soms ook hartverskeurende proses, omdat daar soveel jong talent en so ’n groot behoefte aan hulp is, terwyl die hulpbronne beperk is. Zahn Hulme vertel meer oor vanjaar se onderhoudveldtog, en hoe enigiemand kan help om ’n verskil te maak aan ’n jongmens se lewe.

Hoeveel beursonderhoude sover? Uit die sowat 400 aansoeke wat ontvang is, hoeveel onderhoude doen julle?
Ons gaan vanjaar ongeveer 120 onderhoude doen. Ons het reeds ongeveer 70 voornemende studente in Pretoria gehad, 20 in Stellenbosch en moet dan nog agt in Bloemfontein, 10 in Potchefstroom en nog ‘n paar in George en Natal ook sien.

Daar sit ten minste twee Atterburypersoneellede saam met die Trustpaneel in elke onderhoud, so as ons die aantal man-ure wat spandeer word aan die onderhoude bereken, kom ons seker na aan 30 000 ure…. ‘n Betekenisvolle belegging in die toekoms van jongmense in Suid-Afrika!

Jy het genoem dat julle slegs 65 beurse kan toeken; hoe op aarde kies ’n mens?
Ons kom uit by 65 nuwe beursstudente op grond van ons jaarlikse Trustbegroting. Die Trustbegroting word gedoen op grond van die Trust se beleggings en beskikbare fondse. Daar word eerstens gekyk hoeveel van ons bestaande 220 studente van 2017 vang vanjaar graad, aangesien ’n beurs vir drie tot vier jaar se studies loop.

Ons is baie streng in die aanvanklike keuring met die behoeftigheidskriteria; met ander woorde die maandelikse inkomste van die gesin. Die aansoeker se akademiese prestasie, veelsydigheid en ook die voorgenome studierigting word in ag geneem, aangesien ons met inligting tot ons beskikking, met alle waarskynlikheid moet kan verseker dat studente eendag ’n bestaan met hulle gekose loopbaankeuse sal kan maak.

Wat is die hoofkriteria waarvolgens julle kies?
Ná finansiële behoeftigheid en akademiese prestasie, is ons in die onderhoud sterk op soek na persoonlike dryfkrag, probleemoplossing en optimisme. Daar moet hoop en ‘n sterk wil en droom vir ‘n beter toekoms in kandidate sigbaar wees. Dis daarom ook belangrik dat ons ons mede-Atterbury kollegas in die onderhoude betrek. Hulle staan ons by om ‘n objektiewe mening te lewer oor eienskappe wat hulle in die kandidate raaksien. Ek vind ook dat voornemende student baie baat uit die verskeidenheid van agtergrond en ondervinding wat die Atterburyspan na die onderhoudstafel toe bring.

Ons vra in diepte uit oor omstandighede en watter alternatiewe die kandidaat het vir moontlike befondsing. Dinge soos of hulle ekstra werk doen vir sakgeld, of hulle inisiatief aan die dag lê en planne maak, tel ook baie.

As ek nie geld het nie maar wil help, wat kan ek doen?
Jy kan betrokke raak deur van jou tyd te gee, as mentor byvoorbeeld. Dit is ontstellend in die onderhoude om te sien dat ongeveer 80 persent van die aansoekers uit gebroke huise kom; en hoe min van die studente positiewe manlike rolmodelle het. Baie keer het ’n ouma ingespring om te help as Pa en Ma nie kon of wou nie. Dan kan ons studente ook gehelp word met vakansiewerk en internskappe. Ons het ook ‘n paar weeskinders met geen heenkome vir verblyf nie, so as iemand ‘n woonstel of ‘n oumawoonstel het wat hul vir ‘n student kan aanbied, sal dit wonderlik wees.

Julle hoor hartseerstories van jongmense wat sonder hulp eenvoudig nooit sal kan gaan studeer nie – kan jy een of twee wat sover uitgestaan het, met ons deel?
Een van die studente het eers sy pa verloor in ’n motorongeluk en toe op hoërskool sy ma, aan kanker. Hulle is vier seuns wat nou hul eie potjie krap. Daar is nog ’n jonger broer in Graad 11, en hulle bestuur die huishouding self. Dié outjie werk nou om geld bymekaar te kry vir IT studies. Hulle ry soms na die vuilgoedhope in Krugersdorp om “scrap” te kry wat hulle moontlik kan verkoop om bietjie ekstra geld in te kry.

’n Ander kandidaat kon ook nie verlede jaar na afloop van matriek gaan studeer nie, maar hy is ’n gebore entrepreneur. Hy koop kaas in grootmaat deur ‘n kontak, sny en verpak dit self en dan het hy 15 agente regoor die stad wat kaas verkoop. Hulle kry dan R5/kg kommissie. So maak hy dan met sy wins geld bymekaar vir sy studies.

Dan is daar ook heelwat kandidate waar ouers hulle werk verloor het, besighede wat in die huidige ekonomie dit net nie gemaak het nie.

Kry julle heelwat buitengewoon sterk kandidate?
Daar is ’n hele aantal kandidate wat uitstekende matriekuitslae het – een student moes byvoorbeeld in haar Graad 11 jaar by haar ouma gaan bly, want haar gesin het hul huis verloor en daar was nie vir haar plek by die mense waar haar gesin tydelike huisvesting gekry het nie, aangesien daar nog drie jonger kinders in die huis is. Sy is onderhoofmeisie van ’n groot skool, presteer uitstekend, maar kan nie gaan BSc swot sonder finansiële hulp nie… Ons wil so graag vir sulke studente borge kry wat spesifiek belangstel om ‘n uitblinker in ‘n spesifieke studierigting te befonds.

Atterbury Trust sien onsself ook as ‘n inkubator van talent; ons hou ook die studente se toekoms in gedagte en die hoop is om talentvolle graduandi en besighede wat die jong talent in diens kan neem, bymekaar te bring.

Op daardie trant – is daar ’n duidelike voorkeur in sekere beoogde studierigtings onder die studente?
Daar is heelwat BCom Rek studente en ook ingenieurs en altyd baie onderwysers. Dan is daar heelwat in die mediese en paramediese beroepe. Verpleging ook. Ek hoop om deur Triomfkliniek en Zuid Afrikaans Hospitaal ‘n plan te maak, sodat studente in ‘n mediese rigting daar praktiese ondervinding kan opdoen.

Ons wil geld bymekaarkry vir nog een ekstra beurs…hoe doen ons dit? Hoeveel is nodig om ’n student se eerste jaar te dek? Kan mense saamspan? Tot wanneer het ons tyd – wanneer besluit julle finaal hoeveel beurse vir 2018?
Klasgeld en boeke is in die omgewing van R55 000 vir die jaar. Mense kan ook onderneem om by te dra vir ekstras, lewenskostes, of selfs net boeke. Soos ek genoem het is daar ook hier en daar studente wat geen verblyf het nie, so enige hulp in dié verband is ook welkom. Ons wil teen einde September studente laat weet sodat hulle hulle planne kan maak, so ons moet teen dan weet hoeveel geld ons vir volgende jaar beskikbaar het.

 As jy ’n student in ’n spesifieke rigting wil borg, of verblyf, vakansiewerk, internskap of selfs mentorskap kan aanbied, kontak gerus vir Zahn by [email protected]. Alle bydraes is welkom, en vir ’n geldelike bydrae is daar ’n belastingvoordeel; kliek hier om uit te vind hoe om te skenk.